Jan-Jan, die dappere

Ek moet erken ek het al artikels van Jan-Jan Joubert gelees wat nie vir my baie interessant was nie.   Maar toevallig lees ek op Anton Barnard (een van die Praag kwaadstokers) se blog:

Ek kan my reeds indink hoe Jan-Jan Joubert se skril stemmetjie nog ‘n oktaaf sal styg uit pure vrees, en hoe hy gal sal braak in al wat ‘n Nasperskoerant is hieroor

Nou  as Anton so haatlik oor Jan-Jan is, dan verdien hy hy sekerlik ‘n bietjie meer aandag.  En dit is ook so.  In Sondag se Rapport skryf hy:

Alte dikwels word aangevoer die gebeure was onskuldige studentepret waaraan die skoonmakers vrywillig en glimlaggend meegedoen het. Om dit te beweer, is om magsverhoudinge verkeerd te verstaan, hopelik nie aspris nie.

In enige professionele magsverhouding staan die mindere in ’n mate verleë jeens die maghebber. Hoe beter jy is in jou werk, hoe wyer jou opsies en hoe beter gekwalifiseerd jy is, hoe minder verleë is jy.

Daardie skoonmakers is ongeskoold, en dis vroue wat as broodwinners vir hul gesinne optree in gemeenskappe waar baie meer as die helfte van die mense krepeer te midde van werkloosheid. Daar is geen groter vrees as om die vastigheid van werk te verloor nie. Daardie werk is al manier uit die armoedeslagyster se ellende, al manier waarop jy hoop het vir jou kinders, al kans op selfrespek, al skild teen moedeloosheid.

Daarom grinnik jy maar saam vir die baas se simpel grappies, want jy moenie jou werk verloor nie. Daarom sluk jy jou trots, want jy moet net nie jou werk verloor nie. Daarom hou jy jou mond en doen mee, want jy moet net nie jou werk verloor nie.

Jinne mense, dis die werklikheid. Wie nie deernis het vir die posisie van die skoonmaker en die kwesbaarheid van haar menswaardigheid begryp nie, ignoreer die magsverhoudinge in ons land en is ongevoelig oor die aard van verontmenslikende armoede.

Ek is dalk verkeerd, maar ek dink dis dalk die eerste keer dat ‘n Naspers joernalis die kwessies van interpersoonlike magspolitiek so duidelik uitstippel. (Iemand soos Christi van der Westhuizen skryf soms sulke soort goed, maar ek dink sy is ‘n vryskut skrywer.   Naspers se eie joernaliste klink gewoonlik na DA-segsmanne)

Nes Jesus, kies die dapper persoon altyd kant vir die maglose, terwyl mense soos Barnard, en sy ideologiese baas, Dan Roodt, vanuit hul uiters bevoorregte posisies nogtans verkies om ‘n  minagtende houding teenoor die magloses, armes en hulle regte en behoeftes in te neem.

 

Jansen se verguising

Rhoda Khadalie en ander skryf oor die verguising van Jonathan Jansen.  Ek stem nie eintlik met haar argumente saam nie.   Nogtans voel ek half of ek aan ‘n verguising meegedoen het.  Jansen het fouteer op dag een, maar mens moet onthou dat elke mens wat in ‘n moeilike leiersposisie staan, tot ‘n sekere mate onbekwaam vir die taak is.  In die meeste gevalle bestaan die ideale kandidaat vir hierdie tipe pos eenvoudig nie.   Daarom moet hy nie onophoudelik verguis word nie, want hy het nou ingestem om sy eensydige benadering te verander.    Iemand anders sou op ‘n ander manier gefaal het, en die lewe gaan nog altyd aan ondanks menslike onvolmaaktheid.

Die aanvalle op hom word te ver gevoer, en die idee dat selfs Julius Malema hom nou ook moet gaan spreek is onguur.

Die wortel van Jansen se moelikheid is  in die manier hoe hy homself as ‘n sendeling sien wat ons barbaarse ou klompie moet kom reghelp.  As hy daarvan bewus was dat die Reitz 4 se gedrag nou nie eintlik standaard Afrikaner optrede is nie, sou hy ingesien het dat sy rol moet eerder wees om die neergelegde proses sy loop te laat neem.   Nietemin, ‘n sendeling is ‘n beter soort iets, as byvoorbeeld ‘n sosialis in ‘n BMW, of ‘n korrupte persoon in die parlement of regering.

Ons moet maar, soos Afrikane van ouds met sendelinge, hom goedig en vriendelik behandel, hom beskerm, sy dingetjies aanvaar en selfs iets goeds by  hom probeer leer , maar die dinge wat vir ons onmoontlik is, hoflik weerstaan.

sendeling

sendeling

Kan ‘n chap rap?

Het Jansen nou ‘n guns aan Afrikaners bewys deur ‘n spesiale gunsie vir 4 oortreders te probeer doen?

Ons het nie sulke soort gunsies nodig nie.  Ons oortreders moet regverdiglik gestraf word – nie swaarder of ligter as wat hulle verdien nie.  En daarvoor moet ons op die reg, en op die UV se vooraf vasgelegde disiplinere prosedures staatmaak.

Net soos wat ons wil hê die oortreder Schabir Shaik moet nie spesiale gunsies ontvang net omdat hy vriende met pres Zuma is nie, net so moet ons ook nie spesiale gunsies verwag vir oortreders in ons geledere nie.    In hierdie soort gunsies lê die saad van korrupsie.  Daarteenoor lei die behoorlike regspleging wat in ‘n regstaat gebeur, tot ‘n ordelike en veilige samelewing.
Die regsgeleerde, Pierre de Vos, verduidelik dit ook hier.

Die disiplinere prosedures van ‘n universiteit het ook geldigheid voor die howe van die land.  So waarom het Jansen hierdie normale prosedures probeer omseil?

  • Wou hy, soos die konings van ouds wat tydens hul bekronings al die gevangenes van die land vrygelaat het (en sonder twyfel daardeur ‘n yslike probleem vir hul arme onderdane geskep het), ‘n grootse gebaar teenoor Afrikaners doen?   Hoekom moet ons daaroor bly wees as hy ons oortreders “vergewe”?   Dis nonsens.  Ons moenie vergiffenis vir ons oortreders begeer nie, maar geregtigheid.     Die feit dat soveel Afrikaners nou swoon oor koning Jansen, wys net hoe suksesvol Naspers was daarmee om ons van ‘n nasie van republikeine te verander in ‘n nasie wat koningklikes bewonder.
  • Of wou hy hierdie aksie as ‘n gawe aan die Afrikaner probeer voorhou?   Op so ‘n manier goedwilligheid koop wat hy later kan gebruik om sy agenda vir Afrikaners uit te voer.  En moenie ‘n fout maak nie, ‘n agenda vir ons het hy wel.  Die Afrikaner is waaroor hy gedurig skryf – ons is sy een groot obsessie.  Hierdie daad van Jansen, wat hy nie geregtig op was om te doen nie, bring geen voordeel hoegenaamd vir Afrikaners nie, en daarom behoort sy aandele by ons geensins hoer te wees as wat dat was nie.

Jonathan Jansen se stories gaan hom inhaal

Ek sukkel al lank om te besluit of ek van hom hou of nie, maar  ek dink nou Jansen is beslis nie die regte man om die Vrystaatse Universiteit te lei nie.   Sy aankondiging tydens sy inhuldingingsrede dat hy  “seker” is dat die strafregtelike klagte teen die vier Reitz urine-studente laat vaar gaan word, het tot groot verwarring en chaos gelei.  Later moes hy bieg dat hy nie by magte is om die strafregtelike klagte te laat vaar nie, en dat hy slegs die universiteit se eie stappe kan laat vaar.  So daar is probleme met Jansen:

  • Dat hy iets aangekondig het wat hy nie kan doen nie.
  • Dat hy sommer namens die werkers wat verneder is wil vergewe – wie is hy om dit te doen?  Vergiffenis is slegs vir daardie vroue.  Dis hulle reg om te gee as hulle wil, en te weerhou as hulle wil.

Prof Jansen is ‘n storieverteller.  Sommige van sy stories is aangenaam, soos die een van die boere wat Jansen  by Senekal se Wimpy ontmoet het.  Bietjie soetsappig miskien, maar Afrikaners, ek inkluis, is suckers vir stories waarin ons darem bietjie aanvaarding van swartmense kry, of ten minste nie in die slegste moontlike lig gestel word nie.

Maar ongelukkig is al sy stories nie so aangenaam nie, en ek moet erken ek het al gewonder of hy altyd die waarheid vertel.   Byvoorbeeld die storie van Aggressie van die vaders.  In  hierdie storie moet ons hom glo dat ‘n man wat by hom oor sy rassisme wou kom bieg, dit met ‘n baie aggressiewe houding kom probeer doen het.  Hierdie storie, en die manier hoe Jansen dit vertel, laat my diep ongemaklik.

Dan was daar die storie van “beware Bergies in suits”, waarin hy Danny Titus se Bruin Belange Inisiatief aangeval het.   Vermoedelik oor die BBI dit waag om vir Bruin mense se belange op te kom, en dus die “Saffer” beginsel verbreek.  Dis nou die manier van denke wat wil hê dat ons almal Saffers word, ‘n nuwe soort  identiteit waar ons almal basies soos wit Engelsprekendes moet wees (of ten minste daaraan werk om te word).  Daar kan nie sprake wees van enige soort groepsidentiteit of groepsregte onder Saffers nie, want ons is mos almal Saffers.   Bruin mense wat bruin belange wil bevorder is “bergies in suits”, dws kansvatters. (Hierdie storie was in The Times, maar is ongelukkig nie meer op die Net nie.)

En dan is daar Jansen se leuenagtige wanvoorstelling van die stryd rondom Afrikaans, wat Johan Rossouw beter beantwoord as wat ek sou kon.   Ek is bevrees Jansen kom na die Vrystaatse Universiteit met ‘n versteekte agenda van Anglisering – en hy maak propaganda vir die siening dat die stryd om Afrikaans  bloot deur rassisme gedryf word.    Ongelukkig swoon die blankes nou so oor hom omdat hy die Reitz 4 beskerm, en omdat hulle dink hy die Afrikaner eiehandig van rassisme gaan genees, hulle sal hom sommer toelaat om namens hulle te dink.

SA word die ongelykste land ter wêreld

Soms gee dinge wat min of meer gelyk gebeur mens ‘n kykie na dieselde dinge, maar uit ‘n nuwe hoek .  Byvoorbeeld die Britse “expenses scandal” (min of meer vergelykbaar met ons Travelgate), wat gebeur het in die jare toe hierdie selfde parlementariers nie ingesien het dat die Britse bankiers skatryk word deur lugkastele oor en weer aan mekaar te verkoop nie.  Hulle was so besig om hulself te verryk dat hulle nie hul oorsigrol vervul het nie, en nou (en vir minstens die volgende 10 jaar) gaan die Britse ekonomie die gevolge dra.

En in die afgelope tyd het ons verneem dat Suid-Afrika nou die ongelykste land ter wereld is (dit was voorheen Brasilie).   Dit was min of meer in dieselfde tyd dat ons moes hoor van die SA Kommunistiese Party leier Blade Nzimande se R1.1 miljoen BMW.  En boonop skryf die SAKP se mediawoordvoerder aan die City Press dat ons eintlik vir Nzimande moet gelukwens omdat hy net een kar gekoop het.

Nou wat ryk Suid-Afrikaners in sulke tye doen, is om hulle op Zapiro te beroep (sien hieronder),en dan te bly voortspeel in hul BMWs, en met hulle GPSe, iPhones, iPods etc.  Om die waarheid te sê, dis eintlik ‘n iEkonomie.

Dit kan egter nie so aangaan nie.

11sep09xzapiro

Tips vir teoloë, teologiestudente en godsdienssnobs

Hoe om jou bullshit agter te laat.

Ek wil graag hê godsdiens moet ‘n progressiewe krag in die samelewing wees, maar soms kan ek nie help om te dink dis dalk  maar net ‘n soort snobisme nie.
As ‘n predikant/teoloog se basiese motivering in sy godsdiens is om mense te beindruk, sal geen hoeveelheid tips van my hom kan genees nie.   Maar as godsdiens vir hom werklik ‘n progressiewe krag in die samelewing is,  kan ek ‘n paar tips aanbied wat die simpel tegnieke wat hy op teologieskool geleer het, kan help teenwerk.

Net soos my Christelike skoonsuster, gril ek vir die diplomatiese, glibberige en passielose manier wat NG teologiestudente geleer word om hulself uit te druk,  wat Kobus hier goed  demonstreer met sy vlakke van “ongemak” soos  uitgewys deur Siener.

Om nie eers te praat  van die vlak van bullshit in sinne soos die nie:
“maar is ek ook as teoloog ongemaklik”
en veral:
“Jy sien, as teoloog is ek geskool in histories kritiese eksegese, en sekere vorme van ‘n postmoderne hermeneutiek”
Gewone Christene, om nie eers te praat van ateiste nie, hoef nie sulke snobkak te verdra nie.

So kom ek gee my tips.  Behalwe om bogenoemde soort nonsens te vermy, moenie sê:
“Ek weet nie of dit die tipe onderwysers is wat ek soek nie.”
Sê eerder:
“Dis nonsens om te dink dat ‘n onderwyser se geloof en wereldbeskouing nie na vore sal kom nie”
of, selfs nog meer reguit:
“Ek dring daarop aan dat my kinders onderrig word deur iemand wat onbeskaamd Christelik is”

En laastens: kry ‘n bietjie passie, of los dit eerder heeltemal.

Jou kind gaan net ‘n persoonlike verhouding met die Mall hê.

As ‘n ateis wil ek graag sê dat ek die gevoel van bevryding van die kerk soos wat Vlam hier beskryf ook ervaar het.  Tog respekteer ek die kerk want die Christelike kerk het die grondslag van die Westerse beskawing gelê, of ons dit nou wil erken of nie.  Ek dink dat feitlik elke morele vordering wat in die Weste gemaak is, se wortels in die Christendom lê.
Dinge soos eerlikheid en integriteit in die openbare en besigheidslewe, en dinge soos die beindiging van slawerny.  Die Kerk het verder ook die universiteite waar van die grootste wetenskaplike ondekkings gemaak is, begin, en sommige van die mooiste musiek en kuns wat bestaan, kom uit die Christelike tradisie.
So ek kan nie anders as om die kerk te respekteer nie.

Die een ding wat ek sukkel om te respekteer  (jammer hoor), is die “persoonlike verhouding met God” – mode.  Ek dink dit behels die volgende:
Jy (en ek bedoel nou nie enige iemand spesifiek nie) wil ‘n moderne verbruikerslewe ly, jy wil doen wat jy wil, geen pligte jeens die samelewing hê nie, en net   emosie-belaaide gesprekke met God in jou binnekamer hê, hoofsaaklik oor jou persoonlike behoeftes.
Of, as jy wel vrywillige aksies in die samelewing opneem, byvoorbeeld sendingwerk, gaan dit net oor hoe daardie aktiwiteite jou laat voel.   Die oomblik dat hierdie dinge jou nie meer goed laat voel nie, gaan jy dit los soos ‘n warm patat.
En op grond van die feit dat jy hierdie persoonlike gevoelsverhouding met God het, voel jy dat eendag wanneer jou moderne verbruikerslewe tot ‘n einde kom, jy probleemloos die hemel sal inseil want jy het mos geglo.  Ek dink hierdie soort Godsdiens se diepste aard en wese is ‘n ontkenning daarvan dat dit ‘n moerse probleem is om ‘n krasse verbruikerslewe te lewe ten aanskoue van mense wat nie eers ‘n dak oor hulle koppe het nie.

Wel, ek dink jou kinders gaan die oorbodigheid van jou persoonlike verhouding met God insien.  Jy is dalk die laaste Christen van jou familie – die een wat ‘n tradisie van ‘n duisend of meer jaar beindig, ten gunste van ‘n lewe in diens van die Mall.  Jou kinders gaan net die selfsug en selfbeheptheid van die moderne verbruikerslewe aanneem, en wegdoen met jou lui binnekamer-vroomheid.  En stadig gaan die selfsug van die verbruikerslewe alles wat standhoudend in die samelewing is, wegkalwe, tot mense mekaar oor besittings om die lewe bring.  (Of wag, in Suid-Afrika gebeur dit mos alreeds).

So ek wil jou graag uitdaag.  Kies die Christenskap van die kerk, of as dit nie jou ding is nie, word eerder ‘n eerlike ateis wat nadink oor die dilemmas van ons tyd.  Wat moet die  Christendom se plek neem in mense se morele raamwerk?   Daar moet wraggies iets beter wees as net  Englishness en ‘n verbruikerslewe.

Nota:  My standpunt is baie beinvloed deur Johann Rossouw se boek ‘n Rooi Z4 en ‘n Renaissance-kasteel - seker die insiggewendste Afrikaanse boek van ons tyd.   Hy is egter nie ‘n ateis nie, hy skryf uit ‘n  Christelike perspektief.

Die wit rotte van Afrika

Hierdie benaming kom uit Eben Venter se boek Horrelpoot (wat ek nie kon klaar gelees kry nie). Dit kom elke keer in my gedagtes op as ek met ‘n sekere soort blanke te doen kry. En ek voel sleg daaroor dat ek so aan hulle (ons!) dink, want ek weet waar hulle vandaan kom, en ek wil daarby uitkom hoekom ek simpatie met hulle het.

Die soort blanke waarvan ek praat is nou nie die subtiele rassis nie, maar die soort wat nie hul haat en rassisme probeer wegsteek nie, en wat die kruste maniere vind om dit ten toon te stel. Hulle wyk vêr af van die naasteliefde en beskawende invloed van die Christendom, en gee eerder vrye teuels aan hulle haat.

Hulle aksies is ongelooflik dom, in die sin dat dit op geen manier kan lei na die bereiking van hulle veronderstelde doelwitte nie. Hulle bereik niks, behalwe om vyande vir hulself (en alle ander wit mense) te maak nie. Op geen manier kan die haatlike goed wat hulle op padtekens krap, die walglike blogs wat hulle begin, en die manier hoe hulle fisies dreigend en onaangenaam optree, byvoorbeeld deur met ‘n 4X4 spesiaal vinnig op swart voetgangers af te peil, hulle saak bevorder nie. Hulle maak nie eers vriende vir hulle saak onder hul eie mense nie, soos gesien kan word aan die manier hoe hulle probeer om ‘n vroulike Afrikaanse blogger te intimideer.

En hulle het ‘n obsessie oor seks met swartmense. Enigeen wat nie hulle haat vir swartmense deel nie, word op belaglike wyse beskuldig daarvan dat hy/sy seks met swartmense wil hê.

Hoe kom dit dat daar sulke mense is? Ek sal nie die gewone redes uitlaat nie, want ek betwyfel nie die waarheid van hierdie redes nie:

* Hulle kom uit ‘n patriargale en kolonialistiese denkstelsel, waar wit bo swart, en manlik bo vroulik gestel is.
* Hulle het ‘n settelaarsmentaliteit, dws hulle glo dat die plaaslike bevolking onderwerp en onder gehou moet word.

Maar ek dink nie hierdie redes is die volle prentjie nie, en ek wil nou my redes gee hoekom ek ook simpatie met hierdie mense het. Hulle is geteel as voetsoldate van Whiteness.

Soos ons Engelssprekende landgenote lief is om uit te wys, is die meeste van hierdie voetsoldate Afrikaans. Hulle Pa’s en Oupas was die polisiemanne, beamptes en mynkapteins wat die Apartheidstelsel toegepas het, die vuilwerk gedoen het, die houe uitgedeel het, terwyl die Engelse, as eienaars van die grootste deel van die ekonomie buite landbou, ‘n sagter houding kon inneem, en nog steeds kon baat by die verdukkende stelsel.

En mense maak deesdae graag asof daar nie iets soos ‘n Koue Oorlog was nie. Afrikaners was een van die groepe wat deur die ware magshebbers in Washington en London misbruik is om die vuilwerk te doen van die beveiliging van Westerse oorheersing van die Derde Wereld. Ja, hulle moes veral keer dat Suid-Afrika se myne – wat ‘n konstante stroom van inkomste aan Engelse elites (veral) genereer, in die kommuniste se hande val. En sommer probeer help om Angola en Mosambiek se rykdomme uit die kommuniste se hande te ruk, om dit aan Westerse kapitalisme beskikbaar te stel.

Afrikaners is eintlik grootgemaak vir hierdie rol – van kleins af baie gehoorsaam aan gesag, moenie gesag bevraagteken nie, en seuns is van van kleins af geleer om semi-militer te wees.

En toe is daar tussen die Britte, Engelse mynbase in SA, en die Engelsgesinde swartmense van die ANC skielik besluit hulle is moeg vir die Afrikaners. Die Engelse kon net so ‘n goeie deal met die ANC maak met betrekking tot die beveiliging en uitbreiding van Engelse belange in SA as wat hulle tussen 1902 en die 1980’s met die Afrikaners gehad het. Toe dit gebeur het, is hierdie voetsoldate se wereld omgekeer.

Skielik, in die nuwe Suid-Afrika, dra hulle (as ‘n klas van die Afrikaners) die meeste van die blaam, en is ook die mees kwesbaar in terme van werksverlies onder die nuwe omstandighede. Armoede is aan die toeneem onder hulle, en daar is die kwessie van chaos en bloedige misdaad in Suid-Afrika – iets waaraan almal maar uitgelewer is deur ‘n regering wat meer as ‘n dekade in ontkenning daaroor was, en eintlik nog steeds is.

En die Afrikaner elites het hulle tot ‘n groot mate in die steek gelaat. Baie ryk Afrikaners verengels, emigreer, of verpretensieus eerder as om hierdie mense te help om ‘n nuwe visie en geleenthede te vind.

Nie dat ek hierdie rassistiese voetsoldate heeltemal wil verskoon nie; mens is nog steeds moreel verantwoordelik vir jou dade. Maar as jy politieke aksies wil neem, moet jy darem dink wat jy wil bereik, en hoe jou aksies daartoe gaan bydra.

Dorp

Op die balkon van ‘n woonstel bo die PEP-Stores staan ‘n maer wit ou en suig hard aan sy sigaret.  Hy kyk na die besige toneeltjie onder hom.  Dis warm.  Papiere waai rond. Mense groet mekaar luid.  Afrika musiek pomp uit die klomp taxis waar mense met hulle shopping inklim.

Die wit ou lyk nie of hy die beat vang nie.

Volgende Blad »