Voor en tydens die Anglo-Boereoorlog het Britte en Engelssprekende Suid-Afrikaners min of meer ewe min van Afrikaners en swart mense gedink.  Hierdie minagting het uiting gevind in dinge soos die hongersnood waarin 50 000 Xhosas gesterf het nadat Brittanje hul grond afgeneem het in die 1850s, die minagting vir die bestaansreg van die Boererepublike nadat goud ondek is, en die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog waartydens in die orde van 27 000 Afrikaner vroue en kinders gesterf het.

Ondanks die feit dat Afrikaners geweet het hoe dit is om so geminag te word, het ons ook dieselfde minagting as die Britte teenoor swart mense gehad in daardie tyd.   Ons het ons Britse vyande eerder bewonder en nageboots as om hulle te kritiseer.  Ons het as’t ware aspirasies gehad om ons armoede en ellendigheid van daardie tyd agter te laat, en eerder ryk en belangrik te word soos die Britte.

Na die einde van die Boereoorlog het Churchill en Smuts vriende geword, en Churchill het as Britse parlementslid en as “Under-Secretary of State for the Colonies” die Afrikaner aspirasies hierbo genoem, gesteun.  En so het die blanke unie van Suid-Afrika onstaan. Afrikaners kon nou tesame met Engelse oor swartmense heers.  Die Engelse sou veral die belangrike posisies beklee in die regering en het die sakewereld oorheers, maar Afrikaners wat nie geboer het nie, kon polisiemanne, spoorwegwerkers en stasiemeesters word.  Afrikaners wat goed was met Engels, kon selfs  meeding om hoë posisies in die staat.

Afrikaner nasionalisme het nie berus daarby om net van derderangse burgers na tweederange burgers te vorder nie, en later het die Nasionale party dit reggekry om Afrikaners te laat vorder tot gelykes van die Engelse in die blanke staat, om die Britse monargie te verwerp en Suid-Afrika ‘n republiek te laat word.  Vir Afrikaners was dit vordering, dit het die Engelse meestal irriteer, en vir swartmense was dit slegte nuus, want die Nasionale party regering het sommige van die bietjie regte wat hulle onder Smuts en die Engelse gehad het, weggeneem.

Maar Afrikaners het nou ware blankes geword – ryk, belangrik, en veel beter daaraan toe as swartmense.  So blank het ons geword, dat ons selfs ons eie bloedfamilie, geloofs- en taalgenote, die bruin mense se regte weggeneem het.

Ondanks die feit dat Afrikaner nasionalisme die Engelse irriteer het, en Engelse bevoorregting in baie gebiede, veral die staat, verminder of selfs heeltemal beeindig het, het die Engelse (ons “mede-blankes”) asook die Britse regering in die reel en vir die grootste deel van sy bestaan,  die blanke apartheidstaat gesteun. Die hoofrede hiervoor was dat swart bevrydingsbewegings in die res van Afrika vir die Britte (en ander Europese koloniale magte), baie probleme gegee het, en vir Engelse was die blanke staat dus ‘n beskerming daarteen.

Baie van ons “mede-blankes” het selfs ingekoop in simbole  soos die Oranje-Blanje-Blou, en die meeste het diensplig gedoen om die blanke staat militêr te beveilig.  In ruil het Afrikaners ook van die Engelse begin hou, en Nasionale Pers het met tydskrifte soos Huisgenoot spesiale moeite gedoen om Afrikaners te bekeer van ons Republikeinse ideale, en eerder ‘n bewondering vir die Britse koningshuis aan te leer.

***

So dis basies ‘n kort, vereenvoudige geskiedenis van wat dit beteken om ‘n blanke te wees en hoe Afrikaners blankes geword het.  Blankheid is ‘n kunsmatige identiteit wat Afrikaners en Engelse tussen 1904 en 1994 in stand gehou het, en ek beskou dit nie as iets om op trots te wees nie.

‘n Blanke vandag, is iemand wat ondanks hierdie vergrype nogtans aan die blanke identiteit vasklou.

Edit: Die volgende paragraaf is verander om ‘n kwetsende verwysing na ‘n spesifieke persoon te verwyder:

Blankes is ook geneig tot  selfbejammering, om hul probleme vergelykbaar te sien met ander wie se lyding objektief gesproke veel erger is.  En om, wanneer armes of swart mense se lyding genoem word, te wil kompeteer daarvoor dat hulle probleme eerder bespreek moet word.

Gee my eerder ‘n Afrikaner of ‘n Boer as ‘n blanke.

Die London atheist bus campaign (of in werklikheid eintlik die Bus slogan generator) het een slogan wat sê:  “Science flies you to the moon, religion flies you into buildings.”  Dit het ek op Michael Meadon se blog gesien.

Die redes wat Osama bin Laden gegee het oor hoekom die Wêreldhandelsentrum aangeval is, het gehandel oor die verdrukking van die Palestyne, asook die Amerikaanse en Britse steun aan korrupte en diktatoriale monargieë in die Midde-Ooste (Egipte en Saudi-Arabie veral).   Hoewel sy redes geklee was in Islamitiese terme soos fatwa, is die redes vir die aanval sonder enige twyfel polities, nie godsdienstig nie.

Kan dit wees dat diegene wat so sanik oor godsdiens (byvoorbeeld Michael Meadon) nie bewus is van die politieke redes vir die aanval nie?  Ek dink dit moet ‘n doelbewuste en leuenagtige soort onbewustheid wees, gebasseer op steun aan die Anglo-Amerikaanse neokoloniale praktyke in die Midde-Ooste.

1

April 4, 2009

1

Boston.com Big Picture

March 19, 2009

Vir my is een van die beste goed op die Net Boston.com se The Big Picture.  Ek het nog nerens anders sulke goeie en mooi nuusfotos gesien nie, en elke uitgawe is  onmismaar.  Byvoorbeeld hul nuutste stel fotos van die huidige ekonomiese krisis. Die vorige stel was weer van Somaliese seerowers.

Hieronder is net 2 uit die Scenes from the recession – stel:

Kamp vir haweloses in Amerika:

bigpicture2

Ongebruikte vraghouers in Hong Kong:

bigpicture

Om op te hou rook

February 28, 2009

Na ek die gelees het, het ek besluit om neer te skryf hoe ek opgehou rook het (dis nou al 4 jaar) in die hoop dat dit iemand kan help. Ek dink daar is veral twee redes hoekom mense rook, en dit was ook my twee redes:

1. Breinstimulasie
2. Jy dink dit verlig jou stres

Breinstimulasie

In die horing van Afrika kou die manne khat, in groot dele van die wereld word sterk koffie gedrink, en so aan. Dit is nou maar eenmaal so dat mens iets wil hê om die brein ‘n bietjie te stimuleer en verveling te verlig.  Veral mense wat baie moet wag, of vêr moet ry het hierdie behoefte.

Gelukkig is daar baie dinge wat ook  breinstimulasie kan verskaf, veral as jy nie baie arm is nie. Byvoorbeeld musiek, sterk koffie, radio, die Internet, boeke, sport, oefening, reis.

In my geval was dit programmering en blogs – dit het aan my die breinstimulasie verskaf wat rook eers verskaf het. Dis eintlik nie te moeilik om op te hou rook wanneer jy so iets anders het nie. My sussie het vir ons kom kuier en vakansie hou hier in Engeland – dit was haar eerste keer oorsee, en sy het taamlik maklik hier by ons opgehou want alles was vir haar ‘n nuwe ervaring. Terug in SA het sy ongelukkig na 6 maande weer begin.

Dis eintlik baie makliker om op te hou rook as om nie weer te begin nie, en ek dink die rede hoekom mense weer begin is omdat hulle dink dit verlig hulle stres.

Stres en rook
Ek het in die NHS (Britse gesondheidsdiens) se pamflette gelees oor die verwantskap tussen rook en stres.  Rook gee in werklikheid vir jou ekstra stres, want ‘n roker se hart klop dag en nag heelwat vinniger, en ekstra suikers en stimulante word afgeskei in jou bloed. So ‘n roker is 24 uur per dag aan ekstra stres blootgestel, bo en behalwe die stres wat die lewe op sy pad bring.  ‘n Roker slaap ook nie naastenby so goed soos ‘n nie-roker nie, en min slaap veroorsaak erge stres.
Nou as jy rook gee dit verligting van die smagting na nikotien, en dis daardie gevoel van verligting wat die illusie skep dat rook vir stres help. Ek het ‘n lang tyd aangehou rook terwyl ek myself bo alle twyfel oortuig het dat rook se ’stresverligting’ eintlik net ‘n illusie is, en dat rook in werklikheid baie ekstra stres veroorsaak. Nadat ek opgehou het, het slegte dinge op my pad gekom, maar ek het in daardie tye nie eers aan rook gedink nie, want ek het geweet dat rook nie enige verligting sal bring nie (ek het wel heelwat bier gedrink en doen nog steeds, maar dis ‘n ander storie).

Net  dae na sy inhuldiging het Obama reeds bomaanvalle goedgekeur. 18 mense dood in Pakistan.  En dis nou die man waarop almal so gehoop het. Dit het nie lank geneem vir Obama om sy ware kleure te wys nie.

Hoe koelbloedig moet mens nie wees om missielaanvalle te loods op dorpies in ‘n land baie  vêr van jou eie bloot omdat daar ’suspected militants’ is, en ongeag die teenwoordigheid van  onskuldiges, vroue en kinders nie!

Waar laat dit nou al Obama se lofsangers, insluitende Mhambi en Pierre De Vos?

Ek sien prof De Vos gaan so herhaaldelik aan omdat Carl Niehaus vir ‘n NG dominee gestudeer het.  Hy gebruik dit as kode om te wys hoe beginselloos Niehaus is, want in Saffaland-denke is NG dominee omtrent so laag op die morele skaal as wat jy kan kry.    Maar ten minste weet die meeste NG dominees een ding: “Moet op prinse nie vertrou nie” .   Dit is vir my ‘n rotsvaste waarheid van politiek.  Daarteenoor is die wat in Obama ‘n Heiland soek maar soos blare in die wind.

Met die nuus dat Nasionale Pers 10 tot 20% van hulle poste gaan sny na ‘n jaar waartydens hul inkomste meer as verdubbel het, is dit ‘n goeie tyd om ‘n bietjie hul base se beginsels met Japanese base s’n te vergelyk.   Byvoorbeeld met Honda, wat nog nooit werkers laat gaan het nie.

Of wat van hierdie baas van Japan Airlines – dalk is daar is iets in sy optrede wat Naspers se base eerder moet probeer navolg.

Naspers het natuurlik lank reeds sulke planne – mense kan dit sien aan die manier hoe Afrikaanse koerante almal (behalwe die Burger) onder die News24 banier op die Internet moet saamkloek. Trouens, alles wat mens wil weet oor hoe belangrik Afrikaans vir Naspers is kan jy sien aan 24.com se voorblad (sien prent hieronder).
Ek het lank reeds die vermoede dat Naspers ‘n pakt met die ANC aangegaan het – Naspers moet Afrikaners gewoond maak daaraan dat Engels in absoluut alles die botoon voer, in ruil vir een of ander voordeel (of miskien dat een of ander dreigement nie uitgevoer sal word nie).
So dit laat ons in ‘n werklik goor situasie want die enigste alternatief is die rassistiese ou klomp blankes by Praag.

Ek het ook ‘n voeltjie hoor fluit dat Naspers se direksievergaderings nou in Engels gehou word.  Hoe aansitterig.

naspers

Veemde dinge gebeur in SAFFA-land.   George Claassen kla oor  Pieter Duvenage en Johann Rossouw omdat hulle nie wetenskap en godsdiens teenstrydig vind nie, en omdat hulle hom (Claassen) beskuldig het dat hy ‘n irrasionele aanslag op religie maak, ensovoorts.   Dit lyk of alles daar is vir ‘n goeie debat, of selfs ‘n lekker fight, maar Claassen doen ‘n eienaardige ding – hy haal Duvenage se Afrikaanse stuk aan, maar draai hom dan bloot na sy aanhangers, en skinder dan in Engels oor hoe “religion was pushed down my throat every day” en oor hoe simpel hy Duvenage en Rossouw se filosofiese argumente vind.

Hierdie is bekende terrein vir my – Afrikaners wat, sodra hulle wetenskaplike, of nie-rassige of enige ander moderne insigte kry, verkies om nie daardie dinge met die res van ons te deel nie, maar om aan die Engelse te gaan vertoon hoe on message hulle is deur vir hulle te gaan vertel hoe agterlik ons klompie is.   ‘n Tipiese voorbeeld van hierdie verskynsel (hier gaan dit oor rassisme) is Riaan Wolmarans.  In sy geval is dit ‘n kwessie van wiens brood mens eet, diens woord mens spreek, want hy skryf vir die Mail & Guardian.  Daar is ongelukkig vele soos Riaan en George.

Die gevolg van hierdie verskynsel is om die idee te vestig dat mens slegs in Engels nie-rassig of wetenskaplik kan wees.  Sodra jy van wetenskap, of van nie-rassigheid oortuig raak, moet jy soos ‘n zombie by Engels Inc. vir diens gaan aanmeld.

Die Engelsheid waarvoor hierdie bekeerlinge aanmeld, bestaan ook uit ateïsme, spottendheid en ‘n Suid-Afrikaanse weergawe van die Britse goedheidsmite.

Geloof

October 16, 2008

My seun kom van die skool af, wys reguit die lug in op, en sê: Weet julle wat!  Jesus woon daar doer buite in die ruimte!
Ons is sprakeloos.
Die volgende aand toe ek hom in die bed sit, het ons ‘n gesprek oor waaroor mens kan huil, en waaroor nie.  Ek vertel hom van sommige van die ellendes van die lewe  (tot my spyt vertel ek meer as wat ek wou). En toe het ons diè gesprek:
“Mense leef ‘n laang tyd, maar dan gaan hulle dood.  Pappa, hoekom gaan mense dood?”
“Want mense is sterflik.”
“Maar hoekom?”
“Ek weet nie, my seun, ek weet nie.”
“Ons sal nog meer daaroor moet lees”, herhaal hy die standaard antwoord wat hy kry wanneer hy my vasvra.  En toe raak hy dadelik in my arms aan die slaap.