Archive for February, 2007|Monthly archive page
Hou op wolf-wolf skree
Johan Wingard skryf in vandag se Rapport oor mandaatlose Afrikaner organisasies, en “dat dit nie altyd duidelik is of hulle namens Afrikaners of namens blankes optree nie”. Dit is ‘n baie goeie punt. Hy skryf verder oor die kwessie van gesneuwelde weermagsoldate se name by Vryheidspark, en dat daar by Salvokop reeds ‘n monument vir hierdie soldate is…
Dit is iets waaroor AfriForum baie, baie lawaai opgeskop het. Totaal onnodig. Ek wil nie se: ‘Hoekom moet Afrikaners altyd kwaad en kwaai wees?’ nie, want daar is een of twee goed om baie kwaad oor te wees. AfriForum en ander moet net oor daardie goed baklei, en nie altyd ongevraag oor elke ou klein dingetjie nie.
Moet ‘n Vryheidsfront leier so maak?
Dit is wereldwyd so dat konserwatiewe politici op vrees teer, terwyl mense eintlik iemand nodig het wat aan hulle hoop en leiding kan gee (as hulle enigsins leiers nodig het).
Prof. Pieter Joubert, Vryheidsfront sweep in Potchefstroom se stadsraad skryf ‘n brief aan Beeld, wat hy afsluit met:
“Moet blankes aanvaar dat hulle bloot as langtermynsetlaars beskou word en dat ons so gou moontlik moet emigreer (vlug!)?”
Hoewel mense wat onder gruwel – misdaad deurloop seker met reg soos hy kan voel, is dit nie die rol van ‘n leier om sy vrees en wanhoop so uit te gil, in ‘n retoriese vraag aan die publiek nie. Bly eerder stil, want die meeste kan in elk geval nie emigreer nie, al wil hulle. Of gee eerder hoop en leiding, al is dit om te se ons gaan terug veg, of wat ook al. Maar moet nie ‘n leiersposisie beset as jy nie kan lei nie.
Wat verg dit om iets groots te bereik?
Ek lees in die New Internationalist (Maart 2007), van Thomas Clarkson se ‘Anti-Slavery Committee’. Hy het ‘n stuk teen slawerny geskryf, en daarna, terwyl hy een aand op sy perd ry, het hy besluit:
‘It was time some person should see these calamities to their end’
Hy het toe sy organisasie in 1787 gestig, en Britanje te perd deurkruis (altesame 56 000 km !), om sy radikale idee te bevorder.
Olaudah Equiano, ‘n voormalige slaaf, het ook vir 5 jaar lank Brittanje deurkruis met sy autobiografie. Uiteindelik het hulle die steun van William Wilberforce, ‘n parlementslid, gekry en openbare mening oor die saak landswyd omgekeer. In 1792 het die parlement gestem om slawehandel uit te faseer. Maar dit het nog 15 jaar geneem voor slawehandel beindig is, en daarna nog 30 jaar voor slawerny in die Britse Ryk beindig is.
Moet jy jou plaaslike polisiestasie beset?
Ek wonder oor al die briewe aan president Mbeki oor misdaad, en of dit enige effek sal he. Die regering is maar so-so, en stel nie regtig belang nie (hoewel hulle seker baie bly sal wees as die probleem homself oplos, aangesien misdaad die ekonomie skaad).
Heelwat polisiemanne wat ek al teegekom het, is seker niks werd nie. Ek herinner my aan ‘n blanke polisieman wat aan my erken het hy het ‘dockets verloor’ (weggegooi). Ek het eenkeer saam met ‘n blanke polisieman gery, en hy het pret gehad deur voor ‘n bus te stop, sodat die bus nie kan verbykom nie. So eenvoudig is sommige polisiemanne. Sien ook hierdie stuk: Blitspatrollie reggeruk na porno-kykery
In daardie Volksblad artikel, beveel Neels van Rooyen(ANC-LP) aan dat mense moet deelneem aan gemeenskapspolisiëringsforums. Ek dink dit is reg – plaaslike optrede is belangrik.
Maar wat te make as die gemeenskapspolisiëringsforums en onafhanklike klagtedirektoraat nie ‘n effek het nie, en as die plaaslike polisie nie hul werk doen nie, en arrogant en lui is?
Moet mens dalk ‘n groot klomp mense van alle rasse organiseer, en die plaaslike polisiekantoor beset? En dan eise stel aan die plaaslike bevelvoerder.
As jy lid is van die gemeenskapspolisiëringsforums, behoort jy te weet wat die eise moet wees.
Maar moenie dit probeer as jy nie groot steun kan kry nie, en nie steun van alle rasse wil werf nie.
Jy moet werklik goed organiseer en beplan – byvoorbeeld presies weet (en pamflette hê) van wat jy gaan eis. Daar moet baie meer mense opdaag as wat die polisie kan hanteer of arresteer. Daar moet geen rassisme of geweld wees nie. Die koerante moet verslagewers daar hê, ens.
Of is dit ‘n dom idee?
Statisties gesproke
Ek sien nou die dag iemand troos ‘n misdaad-slagoffer dat noudat sy reeds deurgeloop het, haar kanse kleiner is om weer deur te loop. Dit is ongelukkig nie so nie.
1/10
Vat nou maar die geval van ‘n lotery. Gestel jou kans om te wen is 1/10, en jy wen nogtans. Wat is jou kans om weer te wen volgende keer? Nog steeds 1/10. So is dit ook met misdaad – jou kanse om weer deur te loop bly teoreties dieselfde, maar in praktyk kom sekere menslike faktore nog by.
Binne-inligting
Seker die belangrikste faktor wat bepaal of jy gaan deurloop, is binne-inligting. Misdadigers wil graag vooraf weet wat om te verwag. Daarom, as jy reeds deurgeloop het, moet jy nie dink jou kans om weer deur te loop is dieselfde as die gemiddelde Suid-Afrikaner nie. Want as jy reeds deurgeloop het, en jy het nie jou blyplek en omstandighede verander nie, sou ek skat daardie binne-inligting kan weer teen jou gebruik word, en jou kanse is bo-gemiddeld om weer deur te loop.
2010
Min besoekers aan Suid-Afrika in 2010 sal seker ernstig deurloop, want binne-inligting oor hulle bestaan nie. Ek dink nie 2010 is van belang in die misdaad – kwessie nie. Dit moet ook nie aangevoer word as ‘n rede hoekom ons misdaad moet beveg nie.
Comments (10)
Comments (1)
Comments (2)