Archive for April, 2007|Monthly archive page

Wat is in ‘n vlag?

Die ou SA vlag was ‘n manier om wittes te verenig. Dit was ‘n projek om ‘n einde te bring aan die vyandskap tussen Afrikaner en Engelsman. Die magshebbers van die tyd het ingesien dat wit eenheid nodig was om blanke voorreg in stand te hou ten koste van, tot uitsluiting en tot nadeel van swartes. Dit is hoekom die Britse imperiale vlag (wat eintlik menseslagting simboliseer) ook deel van die ou SA vlag was.

‘n Vlag is een van die tegnieke wat die maghebbende elite van ‘n land gebruik om die bevolking gehoorsaam te hou (sport is nog so ‘n tegniek). Laat hulle ‘trots’ wees, dan sal hulle tevrede wees met hul lot (en die elite los om te maak wat hulle wil). Deur ‘n vlag te swaai (en ‘trots’ te wees) aanvaar jy eintlik die maghebber se agenda vir jou.
Deur die ou vlag te swaai wys jy nie dat jy vir jouself kan dink en die maghebber se agenda vir jou kan ignoreer nie. Jy wys maar net dat jy na die ou agenda verlang. Toe iemand anders as die huidige klomp vir jou gedink en besluit het.

Vir Swys: Antropologie sal nie help om Mbeki te verstaan nie

Ek geniet Swys se goed op LitNet gewoonlik, maar vandag se skrywery: Die “Zim-sindroom” (Chris vd Heyde, Heinrich BZ, Coenie K) hinder my. Soos ‘n 19de eeuse Britse antropoloog raak hy wyshede kwyt oor ‘die Afrikaan’, bv:

‘Groepslojaliteit en -solidariteit moet verstaan word in terme van die Afrikaan se hele lewensbeskouing wat meer op die kollektiewe gerig is’
en
‘Dit laat mens wonder wat die Afrikaan se opvatting van menseregte is’

Met hierdie soort terminologie wil hy suggereer dat hy ‘n kenner is op die gebied van ‘die Afrikaan’. Maar ek wil Swys graag daarop wys dat niks van sy gewaande kennis van ‘die Afrikaan’ hom sal help om die komplekse figuur van President Mbeki te begryp nie. Mbeki se invloede is wyd – onder meer die siniese manupilasies van Whitehall. Baie ander skrywers, bv William Mervin Gumede en die blog http://someamongus.com poog werklik om die man te verstaan, en maak nie staat op amateur antropologie nie.

Hierdie opgeblase soort aanslag gee my aanstoot – hoe moet ‘n ‘Afrikaan’ nie daaroor voel nie? Dit pla my ook omdat ek as Afrikaner gedurig moet beleef hoe daar in Engels op soortgelyke manier gedurig opinies oor ‘die Afrikaner’ kwytgeraak word.

Laastens – Swys is eintlik goed ingelig – maar met hierdie woordkeuses klink hy amper soos daai oningeligde Oom wat verwag mens moet aan sy lippe hang wanneer hy sy welbekende wyshede oor swartmense begin kwytraak.