Archive for Julie, 2007|Monthly archive page

Middelklas en bang

Ek kry soms lag oor hoe mense hul smaak, gedrag en selfs hul hele lewe laat bepaal deur wat ander mense van hulle dink.
GM se stuk oor doosmusiek het my weer daaraan laat dink. Die konings van koel klap die sweep en die skapies hardloop gehoorsaam na waar hulle aangepor word om te wees. Baie mense se smaak word ook sommer direk uit London bepaal.

Mooi mense

Die man, en sy meisie wat 2 voet langer as hy is, hand-aan hand in die stad.

Die mollige meisie met haar kort rokkie in die tou voor die disco.

Die lang, benerige tienerseun wat sy pa en ma in die openbaar omhels.

7 Habits of successful dominees

Ek lees glad nie meer selfhelp boeke nie, want ek het gevind dat ek nie kan onthou of toepas wat die tipe boeke sê nie. Ek kan byvoorbeeld nie eers een van die 7 Habits onthou nie. En die Road Less Travelled se kaart vir my lewe is ook lankal al verlore. Tog staan 7 Habits vir my uit, want my dominee van so 11 jaar gelede het een keer, kort na ek die boek gelees het, daaruit gepreek sonder om erkenning aan die boek of skrywer te gee. Dit is die een ding wat ek altyd van 7 Habits sal onthou.

Klipgooi Christene

Wat sê mens van iemand wat so maak:

Hy skryf ‘n stuk oor of homoseksualiteit sonde is of nie. Sy artikel struktuur lyk so:

“Daar is twee redes waarom dié leefstyl veroordeel word.”

“Eerstens, die mediese wetenskap veroordeel dit:”
<hengse klomp goed vanaf elders hier geplak, ongeag die feit dat mediese wetenskap nie in die veroordelings-besigheid is nie>
“Tweedens, veroordeel die Bybel dit”
<bybelverse ensomeer>

Nou wonder ek maar net hoekom die Bybel eers tweede gebruik word in hierdie veroordeling. En hoekom hierdie soort mense nog so arrogant is. Hoekom kan hulle nie hul besig hou met vas, offerdiere slag ensomeer, en ander mense met rus laat nie?

Skryf dit op

In ‘n vorige werk het ons spesifiek iemand wat ‘n mislukking gemaak het,  teen ‘n groot betaling as konsultant gehuur.   Hy het ‘n sekere soort besigheid begin, wat later op ‘n taamlike hoëprofiel manier bankkrot gespeel het, en het duur lesse daaruit geleer wat vir ons goud werd was omdat ons dieselfde soort ding begin het – net in ‘n ander land.

Dit het my geweldig beindruk dat mislukking so nuttig kan wees  – mits jy dit nie net daar laat nie.  Dit is ook ‘n veelgenoemde sêding dat baie entrepeneurs eers met ‘n tweede of derde besigheid slaag.

As jy net oor die pyn daarvan kan kom, kan jy altyd iets van jou mislukkings maak, al skryf jy net ‘n artikel daaroor. Want dalk leer iemand (dalk jyself) iets daaruit.

Afrikaners en Darfoer (I)

In 2003 het ek, my vrou en ons baba aan ‘n optog in London teen die Darfoer slagting deelgeneem.  Ons het naby die Foreign Office gewag vir almal om bymekaar te kom.  Daar was ‘n paar van die London Pan Africanist gereelde ouens – Afrikane wat sosialistiese en Pan-Afrikaanse gebeure reel en bywoon, byvoorbeeld Nkrumah – aande, protes teen die Irak oorlog en betoog teen inmenging met Kuba.  Daar was ‘n heel fotogeniese wit paartjie, wat toevallig ook ‘n uitstalling van hul skilderye en fotos van die Sudan wou bemark.   Die stad was so besig, en ons was so min, dat ek gevrees het ons sou deur die verkeer beweeg sonder dat iemand agterkom daar is ‘n optog aan die gang.
Maar na ‘n lang wag, kom die busse van Manchester en Birmingham daar aan, met Justice and Equality Movement (JEM) en Sudan Liberation Movement (SLM) – mense, en ander wat van Darfoer af kom.  Skielik is daar plakkate, dromme, lawaai, megafone, polisiebegeleiding ensomeer, en ons is nie meer onopsigtelik nie.  Ons beweeg om die hoek, by die Foreign Office se terrein in, en maak ‘n helse kabaal.   Een Foreign Office amptenaar loer deur die venster, en een of 2 stap by die gebou uit om ‘n middagtoebroodjie te gaan koop.  Hulle is heeltemal gewoond aan die soort ding.

Na ‘n paar toesprake, en ‘n oorhandiging van ‘n dokument aan ‘n amptenaar, begin ons optog.  Ons is so 200 mense, maar met die hulp van die polisiemotorfietse en dromme maak ons darem ‘n indruk, reken ek.
Die roete gaan verby die Sudanese ambassade, waar ons ‘n ekstra kabaal opskop, maar volgens die reels nie mog stop nie, en eindig toe by die Amerikaanse ambassade.   En so volg die mense van Darfoer in die spore van hoeveel ander groepe wat uitkoms teen hul verdrukking hier in London kom soek het.
Daar is altyd iemand wat probeer om die Britte, en daarmee saam, wereld-opinie, aan hulle kant te kry.  Van almal was die ANC seker die mees skouspelagtig suksesvol.  Hulle het die die jongmense hier aan hul kant gekry, en baie optogte en nagwake gehou.  In die 1980’s was daar permanent mense wat voor Suid-Afrika Huis protesteer het.   Die ANC se oorwinning van die Britte se harte, en Afrikaners se eie verwerping van Apartheid was meer deurslagewend as enige gewapende stryd.

Nie lank na die optog het ek (die keer alleen) ook ‘n vergadering in London bygewoon.  Daar was net een verteenwoordiger van Darfur.   Verder was daar twee wit Australiers, ‘n paar mense van AFFORD (African Foundation for Development – ‘n groep Afrikane wat met besigheid Afrika wil laat vorder), en ook ‘n paar van die Pan Africanists.  Ons bespreek wat kan nog gedoen word (bv miskien in die lyn van hulp).  Een van die Pan Africanists (‘n Keniaan) staan toe op, en sê hy stel nie belang om voedselpakkies te maak nie – sy stryd is polities.  Hy praat toe ‘n lang ruk oor hoe goedkoop Afrikane se lewens is, en stel voor ons hou ‘n permanente 24-uur per dag waak voor die Sudanese ambassade – net soos wat die ANC altyd gedoen het.  My moed sak in my skoene – want ek bly nie eers in London nie, ons het ‘n baba, en ek sien dit gaan moeilik en duur wees om gereeld London toe reis, en daar voor die ambassade deur die nag te sit.

Die 2 Australiers praat toe – hulle is albei so rondom 50 – en albei veterane van baie aksies en optogte in die stryd teen ongeregtigheid.  Hulle het ook aan anti-apartheid aksies deelgeneem, en hulle sê toe dat ons realisties moet begin, en nog mense moet betrek – dis nie so maklik om mense in ‘n permanente waak by die ambassade te kry nie.  Daar word toe besluit ons sal Donderdagaand van 6 tot 8 voor die Ambassade gaan waak om ‘n begin te maak.  Almal by die vergadering onderneem om nog mense vir die saak te werf.

Donderdag ry ons toe weer met die trein London toe, en daar daag ons by die ambassade op.  Ons is so ‘n bietjie vroeg, maar ek sien alreeds ‘n probleem.  Anders as Suid-Afrika Huis, wat by Travalgar Square in die hart van London is, is die Sudanese ambasade heel weggesteek, agter een van die koninging se wonings.  Die straat is verlate, en die ambassade is ook verlate.  Ons wag.  Later daag die 2 Australiers op.
Ons wag nog steeds.  ‘n Oos Europese skoonmaakster gaan by die ambassade in, en begin werk.  Teen 8-uur is dit duidelik dat niemand anders gaan opdaag nie, veral nie die Keniaan wat permanent wou waak nie, en niemand het eers agtergekom wat ons doen nie.