Archive for Oktober, 2007|Monthly archive page

Ek raak die kluts kwyt

Ek wys deesdae graag Onverskrokke vir my seuntjie – dis so oulik gedoen, en meesleurend. Ek het eintlik nie bygehou met hoe Afrikaanse musiek ontwikkel het nie. As ek nou ‘n musieklys maak moet ek begin met Koos du Plessis, Gert Vlok Nel asook Laurika Rauch, veral ‘Die Gang’ en wanneer sy Ingrid Jonker se ‘Toemaar die donker man’ sing.

Ek kan ook nie sonder Miriam Makeba nie, al is ek een van daardie southern lions wat doodgemaak moet word. En ek het ‘n New Internationalist Rough Guide to South African Jazz waarvoor ek uiters lief is. Op daardie cd is ‘Thaba Bosio’ van Sipho Mabuse, en ‘Election day Serenade’ van Pops Mohamed, om maar net twee te noem. Die Maliese sanger Ali Farka Touré is verlede jaar oorlede. Ek het een van sy CDs (eintlike ‘n onwettige kopie) naby Ouagadougou se lughawe by ‘n smous gekoop. Dit was die bargain van ‘n leeftyd. Die Burkinabes sê die Maliers sien neer op hulle. Maar hulle kan ook nie sonder Ali Farka Touré klaarkom nie.

En ek het ‘n CD genaamd ‘the Music of Cosmos’. Hierdie cd bevat musiek wat Carl Sagan self gekies het, en dit raak my diep. Ek het dit die eerste keer op sy wonderlike televisiereeks gehoor, hoewel my ouers nie altyd seker was of ek vir Carl Sagan moet kyk nie. Ek het dit baie geluister as ek Wes gery het, die Noord Kaap in.
Ek het dit ook geluister toe ek saam met ‘n klomp geologie studente na Barkly pas en daardie dele is. Net so entjie bo die pas het ons op ‘n vulkaanpyp geklim en van daar die son laag sien hang. Daardie plek, die pas en die pad daarheen van Bloemfontein af is vir my wonderlik mooi. En so is alles wat op The Music of Cosmos is (behalwe miskien Vivaldi se Spring pas nie so lekker in nie). En die hoogste hoogtepunt van daardie CD is Stravinsky se “The Rite of Spring” – ek weet nie of ander orkeste ooit sal kan verbeter op hoe die London Symphony Orchestra dit daar speel nie.

Ek is ook mal oor Finlandia, maar as ek Britse pop soos “why does it always rain on me” hoor, wil ek sê – staak onmiddellik jou geteem! Gee my veel eerder Sally Nyolo – of selfs Sussie Wie se ‘Ring ka ting ting’ wat my half aan Sally se ‘Un Jour Au Village’ laat dink (maar Sally is eintlik meer gesofistikeerd waar Sussie laf is en laasgenoemde kan gerus los om die motorfietse so te ref).

Miskien is hier bo iewers ‘n lydraad vir Mhambi oor hoekom ek tot dusver nie daarin kon slaag om te verduidelik *hoe* mens ‘n tribal Afrikaner is nie.

Hoe om ‘detribalised’ te wees*

Natuurlik praat jy Engels met almal wat nie Afrikaans is nie – jy is mos darem nie nie ‘n taal – Nazi nie! Veral met swartmense want mens moet tog nie so neerbuigend teenoor swartmense wees om te dink hulle kan nie Engels praat nie.

Jy kry soms skaam vir jou volksgenote. Veral as dit by dinge soos “Poena is Koning” kom. Engelse hou van jou – jy is nes hulle – en soms laat hulle jou so goed voel daaroor dat jy so verstandig is om nie ‘n tribal Afrikaner te wees nie. Dalk beywer jy jou daarvoor om vir die Engelse te wys ‘ons is nie almal so nie’.

Jy haat niemand nie, en jy wens dat almal net in vrede kon saamleef. Eintlik sou almal in vrede kon saamleef as almal net alles soos jy ingesien het. Jy kan nie mooi verstaan hoekom hulle nie kan nie – dalk het hulle iewers te veel gely. En daarvoor moet ‘n mens ook begrip hê. As daar tog maar net meer gelykheid was.

Jy verstaan hoekom die Engelse voortdurend aangaan oor die Duitsers want jy hou self nie so baie van die Duitsers nie (maar jy hou van enige Duitser wat nie tribal is nie). Hoe kon die Nazi’s so aangaan teen die Jode? Die Duitsers (en ja, die Afrikaners ook) behoort eintlik meer versoenend te wees na alles wat hulle die wêreld aangedoen het.

Toe jy in Febrarie 2003 in London was, het jy ook teen die oorlog in Irak gemarch. Jy was trots om deel van 2 miljoen sulke goeie mense te wees wat teen oorlog is. Die Britse linkses daar het die pad aangedui. Hulle is werklik ‘n oulike klomp.

Toe kom jy later agter hulle stem weer vir Labour. En jy begin wonder hoe dit is dat 2 miljoen mense nie die einde van daardie Britse regering kon (wou?) opeis nie. Jy besef hulle het wel verkies dat Britanje Irak nie aanval nie, maar dit was net ‘n voorkeur. Hulle het verstaan dat dit om hulle eie voordeel gedoen is, en hulle het dit gou so aanvaar al was is dit met ‘n gebrom van ‘not in my name’. Jy begin verstaan dat die Britse linkses deel is van die Britse Ryk wat eintlik maar nog steeds bestaan.

As jy detribalised wil wees moet jy nog steeds deel van hulle wees want jy sien nie ‘n ander manier om detribalised te wees nie. As jy detribalised goedkeuring ontvang sal dit in Engels wees. En dan besef jy met ‘n skok: jy het eintlik die tribe van Milner, Kitchener en Blair gejoin.

*Vir Walton