Archive for November, 2007|Monthly archive page
van sterretekens
Gewoonlik as iemand van sterretekens skryf hou ek summier op met lees – ek moes dit ook gedoen het toe hier gelees het.
1. Ek hou van droë en verlate plekke – soos die Karoo.
2. Ek het in die laaste 10 jaar gevorder van iemand wat werksonderhoude gevrees en gehaat het, na iemand wat dit geniet.
3. LabMuis is my vrou, en sy is ‘n slimmetjie. As ons seuntjie seerkry moet ons daar soen – ook as hy sy tong raakbyt. Maar deesdae glo hy vrouens soen beter as mans. Vandag toe ek hom skool toe vat (hy op sy fietsie), stop hy skielik en beweer sy boud het seergekry…
4. Net soos John droom ek soms van mede-bloggers.
5. blik is die ander plek waar ek probeer sin maak van my land en mense. Ek het ook al heelwat geld gemaak met blik
6. Ek dink ek is aan die einde van ‘n lang ‘verhouding’ met linksheid. Ek is seker nog steeds links-agtig, maar eintlik spandeer ek meer tyd om oor skynheiligheid te karring, want ek dink ek woon in die skynheiligheids-hoofkwartier van die wereld. Ek vermoed iemand sal skynheiligheid by my ook kan uitwys – doen dit gerus want ek is ‘n sucker vir daai soort pyn.
7. Ek is ‘n ateïs, maar ek verkies gelowiges bo die meeste ateïste, en ek dink dat ateïste wat gelowiges probeer oortuig is besig om vir die maan te blaf. Al sien ek die leed wat godsdienste sommige mense soms aandoen, glo ek nie dat ‘n wereld sonder geloof beter sal wees nie, trouens dit kan dalk andersom uitwerk.
8. Agt is ‘n bietjie te veel vir my.
Ek tag vir Luigi, Anton (wat jare lank die eerste en enigste Afrikaanse blog gehad het), John (om vas te stel of hy nog met ons is), Sean en Jens.
‘n Afrikaan maak dit tot in die Moederland
Naby ons woon ‘n Keniaanse vrou. Sy het ‘n haarsalon in Kenia gehad, en ‘n dogtertjie by haar eerste man. Sy was nie te sleg daaraan toe nie, maar het ‘n Brit in Kenia ontmoet, en met hom getrou. Met verwagtinge van ‘n lewe sonder kwelling oor probleme soos misdaad, besmette water of kragonderbrekings is sy saam met hom na Engeland. Hier te lande, is die illusie gou gekelder. Hy het haar begin slaan. Sy het eenkeer die polisie gebel – hulle het opgedaag, dadelik haar man se kant gekies, en vir haar gese sy kan maar terug Kenia toe.
Haar man het hulle geld vermors – ook haar spaargeld wat sy van Kenia af gebring het, en geld wat sy hier verdien het. Maar hulle het op ‘n manier aangekarring want hulle seuntjie is gebore en… wel ek weet nie eintlik hoe nie. Sy wou eintlik graag terug gaan, want die lewe in Kenia was beter. Maar sy het niks meer oorgehad nie.
Toe kom sy agter die man molesteer haar 8-jarige dogtertjie. Sy het haar man op heter daad betrap, en uit die huis gejaag met die dreigement dat sy sal polisie toe gaan. Sy het begin reel om te skei, en aanvanklik het dit gelyk of sy suksesvol gaan wees. Maar toe vind sy uit dat sy het as getroude persoon net ‘n voorwaardelike reg verkry om in Brittanje te woon, en as sy skei voor sy ‘n sekere aantal jaar hier gewoon het, moet sy, met kinders en al terug Kenia toe. Om daar met niks te begin.
Haar man het nou weer daar ingetrek.
Versoeking
Jare gelede het ek as student soms bus bestuur vir ekstra inkomste. Veral tydens diensplig-innames het ek en ander studente goed geld gemaak op die manier. Ons het soms ure gery wat onverantwoordelik – selfs krimineel was. Byvoorbeeld een keer het ek Bloemfontein – Lohatla – Bloemfontein – Kaapstad – Bloemfontein in een gery sonder enige slaap tussenin – dit het 2 nagte ingesluit. As die mammas maar geweet het hoe moeg daardie drywers aan wie hul seuns toevertrou is, soms was!
Maar ons is per kilometer betaal en vandag kan ek nie glo ek, die ander studente en die maatskappy het sulke kanse met almal se lewens gevat vir daai geld nie.
En daar was ‘n ander student wat ook so busgery het. Sy naam was Ian, en hy was ‘n baie slim en interessante ou – so ‘n regte natuurlike filosoof. Hy het met almal gesels – swart en wit was mal oor hom. In die wereld is daar maar min met soveel sjarme soos hy.
Ek en hy het eenkeer vêr saam gery in die Noord-Kaap – ek dink dit was Pomfret of Upington toe, en ons was met leë busse op pad terug.
Toe ons so 9-uur die aand in Kimberley kom is ons lekker honger, sat gery en dors. So ons stop toe en gaan eet by ‘n restaurant voor ons die laaste stuk Bloemfontein toe aanpak. Toe ons vir die kos wag, vertel ek vir Ian van ander busbestuurders wat uitgevang is omdat hulle passasiers (nie dienspligtiges nie), gesien het dat hulle bier drink en daarna ry. En ek se toe vir hom ek weet nie hoe kan ‘n mens so iets doen nie. ” So gepraat van bier”, se hy toe…
Moet mens Afrikaanse koerante vermy?
George skryf dat mens die Afrikaanse pers moet vermy. Ek verskil want dis al wat ons het, en daarom moet ons omgee vir die gehalte daarvan. Anders wen die spreekkoor-brigade.
En verder is daar iets wat Chris my van bewus gemaak het, naamlik Nietzsche se siening van ‘n nasie. Daardie gedeelde verwysingsraamwerk is vir my baie belangrik, en daarom pla dit my geweldig as Afrikaners (die SMS’ers maar Tim ook), ‘n gemors van die Afrikaanse koerant maak.
Tim du Plessis moet bedank
Ek het ook ‘n sagte plek vir Tim du Plessis . Hy het dikwels uitgewys hoe lafhartig en gedienstig die land se sakeleiers is voor ons maghebbers oor die kwessie van misdaad. Maar nou vertoon hy presies dieselfde soort lafhartigheid deur te swig voor ‘n SMS-veldtog van gesigloses, en nie sy joernalis te beskerm of by sy keuse te staan nie. Nie dat ek dink Maas was die moeite werd om te lees nie.
Die feit dat hy so bang is vir die geldelike verliese wat Rapport moontlik kon lei, bevestig eintlik Naspers se waardes (Naspers het absoluut geen waardes behalwe geldgierigheid nie). En dit klink miskien wereldwys om te sê dat dit is maar hoe dit is met koerante – hulle moet verkoop. In werklikheid is daar in die Engelse SA pers dapper joernaliste wat veel meer as Tim waag – en by hulle standpunte hou. Dink maar aan Mondli Makhanya, wat die Sunday Times en homself aan yslike finansiele risikos blootgestel het met sy ‘Manto is a drunk and a thief’ – voorblad. Om ‘n lafhartige koerant, en redakteur te wees is ook ‘n finansiele risiko (of behoort te wees), want aan ‘n lafhartige koerant is daar niks – dis nie die moeite werd om hom te koop nie.
Suid-Afrika het dapper joernaliste bitter nodig – so gee iemand anders as Tim ‘n kans.
Waarheid wat verlore gemaak word
Mense praat van die doodstraf as ‘n manier is om misdaad te voorkom. Voorstanders en teenstanders ‘bewys’ hul standpunte met statistieke en voorbeelde. Maar wat het Justin Browne se kindertjies en familie aan midaadvoorkoming?
Die samelewing is aan hulle iets heeltemal anders as midaadvoorkoming verskuldig. Dit is iets wat ‘n fundamentele menslike noodsaaklikheid is, maar wat skynbaar uit ons woordeskat en denkwyse verlore gemaak word: geregtigheid.
Geregtigheid beteken vergelding – nie rehabilitasie nie. Iewers langs die pad het dinge soos rehabilitasie en midaadvoorkoming die regswese van sy ware doel laat vergeet. Geregtigheid vereis niks minder as die doodstraf vir Justin Browne se moordenaars nie.
Wreedheid
Wanneer dit by menslike boosheid kom, worstel mens maar aan, sonder om finale antwoorde te vind. Of jou antwoorde verander – naderhand besef jy jy is “soos soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word”
Mieliepap spekuleer oor verkragting in SA, en die rol wat ras en mag daarin speel. Maar Anthony Anderson is ‘n voorbeeld van uiterste wreedheid waarmee ek deesdae worstel. Hy is blank, soos sy slagoffer, en hy het nie in ‘n sink-shack grootgeword nie. Hy was welvarend genoeg om homself by Youtube te vermaak – vergeleke met SA se plakkerskamp-bewoners het hy baie bevoorregde lewe. Tog is sy opperste wreedheid, en gebrek aan empatie met sy slagoffer, na my mening soortgelyk aan SA se verkragters. Ek glo dat as Anthony Anderson gedink het hy kan daarmee wegkom, hy ook sou moor en verkrag.
Ek glo nie meer enige verklarings oor mag, ras, Apartheid of armoede nie. Al sekerheid wat ek oor boosheid het, is dat daar ‘n sekere persentasie mense is wat inherent en onomkeerbaar wreed is – hoekom, weet ek nie, maar hulle is. Al wat hulle teehou, is die samelewing se vermoë om hulle te vang en kwaai te straf. Die dommes onder hulle, soos Anthony Anderson, pleeg nogtans sulke dade, maar as hulle in plekke soos Engeland woon, word hulle gevang en gestraf. Die slimmes word ‘n sekere soort baas, en maak hul ondergeskiktes se lewens ondraaglik, maar kom meesal daarmee weg.
Die enigste rede hoekom daar so verkrag en gemartel word in SA, is omdat ons grootliks die vermoe om die wreedaards te vang en te straf verloor het.
Comments (9)
Comments (7)
Comments (2)