Archive for December, 2007|Monthly archive page
Christene en mag
Ek het nie Philip Pullman se Dark Materials – trilogie gelees, of The Golden Compass gesien nie. Maar ek weet dat die boeke onder meer gesien word as ‘n antwoord op CS Lewis se Narnia boeke (wat ‘n sterk Christelike tema het). Ek het ook ‘n onderhoud met Pullman gesien, waarin hy vir Lewis aanval oor die manier hoe Susan, die oudste dogter in die Narnia-boeke, in die laaste boek verdoem word tot die hel – oftewel Narnia se ekwivalent daarvan, omdat: “She’s interested in nothing nowadays except nylons and lipstick and invitations.” Pullman vind hierdie bevestiging van die uitverkiesingsleer afskuwelik, asook Lewis se preutse afsku in die feit dat Susan ontwaak as seksuele wese. Vir hom is daardie ontwaking mooi en natuurlik. Sy siening (soos ek dit verstaan) is dat hierdie lewe mooi en waardevol is, en dat Christene soms, weens hul fokus op die hiernamaals, geneig is om fatalisties en morsig met hierdie lewe om te gaan. Daarom is sy trilogie anti-Christelik en veral anti-kerk.
Nou het ons Christene in SA wat ‘n SMS veldtog teen The Golden Compass voer. Hulle wil die anti-Christen regsien. En hulle dink dat mense wat soos Pullman voel, Jesus of Christene haat. En ek wil dit stel dat diegene wat soos Pullman dink, en ek is een, haat nie vir Jesus of Christene nie. Ons weet maar net dat mag korrupteer, en dat wanneer Christene die mag het korrupteer dit hulle ook.
Dit was so onder die Roomse Kerk, die Victoriaanse imperialiste, die NG Kerk asook die fundamentaliste in die VSA vandag. Christene wat almal wil beheer en voorsê.
‘n Groot klomp van hulle haat alles wat nie soos hulle is nie, en wil dit verwoes of verander. Ek dink die SMS’ers is van daardie soort. En om God dood te maak in ‘n boek is dalk ‘n manier om te sê dat ons moeg is om deur julle rondgestamp te word.
Hoe Christene kan verander
Die mooi in die Christelike geloof na my mening is die klem op die liefde, nederigheid en onselfsugtigheid. Hierdie dinge kom na vore wanneer Christene nie die mag het nie, soos in die tyd voor die Christelike geloof Rome se amptelike godsdiens geword het. Ek vermoed die stigters van die Roomse ordes wat ‘n eed van armoede geneem het, was Christene wat al in die Roomse tyd besef het dat mag en rykdom die Christelike geloof korrupteer. Maar vandag is Christene ryker en magtiger as ooit. En dit wys.
Miskien moet daar vandag ‘n protesantse kerk begin word wat armoede, liefde en nederigheid as waardes het. En wat bevestig dat hierdie lewe mooi en waardevol is.
Koos Kombuis hulpvonds
Koos Kombuis se inskrywing oor Ubuntu het my in so ‘n mate ontstel dat ek hier daaroor moes stoom afblaas. Koos blameer Ubuntu (naasteliefde) vir alles wat hom pla in Suid-Afrika. Ek dink hy is verkeerd – daar is heeltemal te min naasteliefde in SA. Maar ek dink mens moet tog probeer om vir Koos te verstaan – sy huis in ‘n spogbuurt se waarde staan gevaar om te val. So my voorstel is nou dat ons ‘n hulpvonds stig en die geld wat ons daardeur in, aan Koos skenk om op te maak vir die moontlike verlies aan waarde.
Maar wat as jy dalk jou geld vir meer verdienstelike sake wil gee? Wel, Koos stel dit duidelik dat die arm mense wat die staat naby hom wil vestig is ‘less deserving’.
So kontak my gerus as jy graag wil bydra.
Comments (9)
Comments (7)