Archive for Januarie, 2008|Monthly archive page
Hoe om nie liggelowig te wees nie
Myns insiens is die Afrikaner oor die algemeen maar ‘n liggelowige nasie, en mense – insluitend mede-Afrikaners – maak maklik misbruik van ons liggelowigheid. Voorbeelde hiervan sluit in:
- Adriaan Nieuwoudt se melk kulture en ander piramide skemas
- Siener van Rensburg se voorspellings
- Spreek in tale
- Kettingbriewe
- 11 Amptelike tale
- Die ANC se versekerings in die vorige eeu dat Afrikaners ook as Afrikane gesien word.
- Die Afrikaanse kerkleiers wat Mbeki geglo het toe hy gese het: ‘Trust me on Selebi’
- Die Afrikaner-leiers wat so onderhandel het dat Cyril Ramaphosa en sy span op een stadium die verrigtinge moes verdaag ‘om te gaan lag’
So ek wil graag drie waarkuwingstekens lys wat mense dalk kan help om nie so so liggelowig en naief te wees nie.
Mense wat met Bybelversies iets probeer verkwansel.
As iemand dit doen, is die kanse baie groot dat dit ‘n slenter is – en as jy daarvoor val, verdien jy om van jou geld bevry te word.
Mense wat niks van die wetenskap wil weet nie.
Mense wat mag oor jou wil bekom.
Afrikatekens en ‘Oorwin plaasaanvalle’
Hier doen ek nou iets wat ek self nie goedkeur nie – om ‘n boek wat ek nie gelees het nie te kritiseer. Maar die boek Oorwin Plaasaanvalle deur Lukas Swart bevat ‘n DVD wat veronderstel is om jou van Afrikatekens te leer
Uit die resensie: ‘Die verkenners pak ook sogenaamde Afrikatekens (takke stokke, klippe, blare en letterlik enige ander voorwerp) op die grond uit wat aan die aanvalspan kommunikeer presies wat gedoen moet word en wanneer. Met behulp van die tekens kan die aanvalspan bv. sien of die beoogde slagoffers verkrag, vermoor, vermink, of slegs beroof moet word.’
Daar is ook ‘n Afrika tekens webbladsy wat waarsku:
“Vir die wat hoogmoedig en te slim is om van die vyand se metodes teen ons te leer, sal Jesaja 5 vanaf vers 13 spoedig ‘n werklikheid word. Wanneer jy met hierdie dinge die spot wil dryf, hou tog net in gedagte wat met die spotters van Noag, Josef, Moses, Jakob, Elisa en soveel ander gebeur het”
Hierdie soort waarskuwing is vir my ‘n teken op die grond. ‘n Teken van ‘n gedreig om jou te dwing om saam te stem, of ten minste stil te bly oor jou voorbehoude. Daarom dink ek daar is ‘n goeie kans dat die hele idee van Afrikatekens uit die duim gesuig is.
Selebi en politici in die algemeen
‘n Engelse vriend wat taamlik arm is het, toe ek so half aanneem hy stem Labour, sterk kapsie gemaak. Nee, hy het in sy lewe al vir al 3 Engeland se partye gestem, maar van politici sê hy: “I hate the bastards – they are all the same.” Maar wat van iemand soos Tony Benn vra ek hom. Toe vloek hy al weer, en gebruik woorde soos fake, en bastard.
En mettertyd het ek begin verstaan wat hy bedoel. Soos toe Tony Benn nie uit Labour bedank het oor Irak nie. En toe die DA toe nou nie die party van hoop is waarvoor ek gehoop het nie. En Nicolas Sarkozy se African peasant toespraak.
En Mbeki se illusies oor homself. En Putin wat met sy muscles gepose het (en nog baie ander dinge van Poetin, maar ek het nie genoeg plek of tyd nie.)
Ek kan nog oor Tony Blair, Gordon Brown, George Bush, FW de Klerk, Pik Botha, genl Musharraf, en nog baie ander skryf, maar eintlik wil ek by Jackie Selebi uitkom. Hy wat soos ‘n nar met ‘n geel trui, maar met sy polisiepet aan, by die Polokwane konferensie kloue vir die kamera gemaak het. Want hy het in sy aansoek om nie aangekla te word nie, onder meer gesê dat as “besluit word om hom aan te kla, sal dit ’n ernstige en nadelige gevolg hê op wetstoepassing in die land”, en “polisielede oor die land heen is uiters lojaal teenoor hom en as hy aangekla word, sal dit hul moreel benadeel.”
Ondanks al my sinisme het dit my asem laat snak. Dit lyk my daar is hoegenaamd geen perke aan politici se arrogansie en kak nie. Onder hom is wet en orde in SA omtrent daarmee heen – dit kan net ‘n goeie ding wees dat hy waai. Ek hoop sy opvolger is nie weer ‘n politikus nie, maar ‘n regte polisieman (maar nie Andre Pruis nie).
Maar vanaand vier ek Selebi se suspensie en vervolging met minstens een Grolsh.
Hoe om oninteressant te wees
Mans: Aanbid jou maag. Mans het ‘n neiging om, namate hulle ouer word, hul mae voorop te stel. Dis nou nie die manier waarop die maag uiterlik meer prominent word nie, maar eintlik die manier hoe ons kan aangaan oor kos / bier / wyn. Ons word fynproewers en namate ons mae belangriker word kwyn dinge soos avontuurlus, moed, ambisie en libido.
Vrouens: Kwel oor jou en jou familie se sosiale status. Is jou huis / meubels ens goed genoeg? Het jou man ‘n belangrike werk? Is jou kind in ‘n beter land as jou vriendinne se kinders? (Buite Afrika het kinders in Engeland die laagste statuswaarde – mik eerder om jou kinders in Kanada of Skandinawië te kry)
Jong mense: Glo jou ouers en maats oor hoe interessant jy is.
Kleuter weerstands beweging
My seuntjie kry soms te doen met dinge soos:
- My vrou se vroulike Indiese kollegas en die se moeders wat (binne sekondes na hulle hom die eerste keer sien) oor hom koer terwyl hulle hom in sy maag met hul vingers steek.
- Familielede wat vrae soos diè vra:
“Eet jy ‘n appel?”
“Sit jy op jou pappa se skoot?”
Sy reaksie op die soort ding wissel tussen om sy kop woes te skud terwyl hy hard gil tot fisieke aanvalle op die mense wat hom so treiter.
Tot dusver was my reaksie taamlik simpatiek aan my kind se kant – naamlik hoe kan ek hom leer om sy strewe na menswaardige behandeling op ‘n nie-geweldadige wyse te verwesenlik.
Maar ek het nou ‘n ding begin vermoed – en dit is dat in gemeenskappe waar kinders eenvoudig moet leer om grootmense se dingetjies te aanvaar en daarmee saam te leef, byvoorbeeld Indiers en Afrikaners, bestaan daar nog ‘n gemeenskaplikheid. Mense gee om vir mekaar en aanvaar ‘n wye verskydenheid van karakters soos hulle is – al behandel hulle nie altyd jou kind soos hy graag behandel wil wees nie.
Terwyl in ‘n on-gemeenskap soos die Engelse van Britanje (ek ken nie juis SA Engelse nie), word kinders met die grootste respek behandel. Grootmense wat die gedragskodes verbreek word vermy. En tog is seker almal dit eens dat besonder baie Britse kinders onuitstaanbaar is. En dat daar baie eensaamheid in Britanje is.
Comments (10)
Comments (2)
Comments (16)