Archive for February, 2008|Monthly archive page
Rassisme by die UOVS
As ‘n oud-Kovsie ondersteun ek Mhambi se voorstel dat Afrikaanse bloggers hulle uitspreek teen die Reitz studente wat swart mense verneder het en ‘n video daarvan gemaak het (en ek wil almal aanmoedig om dieselfde te doen). Ek dink hierdie ouens is walglik en gemeen. Die mense wat hulle verneder het is nie kinders – soos hulle nie. Ek hoop hulle sal kwaai gestraf word.
Die siekte van koshuis tradisies
Ek was vir 6 maande in J.B.M Hertzog, ‘n koshuis net langs Reitz. Die koshuise het allerlei kunsmatige tradisies gehad, soos byvoorbeeld ontgroeningseremonies. In een so ‘n seremonie moes mens byvoorbeeld ‘n mengsel drink wat jou laat kots. En jy moes vir ouens van jou eie ouderdom – wat dalk 2 jaar langer as jy op kampus was, maar nog nie diensplig gedoen het nie – ‘Oom’ sê. En daar was ‘n jaarlikse eet-kompetisie, waar gekyk is wie kan die meeste eet. Die tradisies was bedoel om jou ‘trots’ te maak. Daar is iets siek aan die manier hoe die manne so oorhoops met mekaar is in ‘n koshuis.
Verder kan ek onthou dat ons ontsaglik bevoorreg was, en soos die kat se snor behandel is. Daar was goeie kos (wat nogtans soms onverdiende protes uitgelok het), en bediendes wat die koshuiskamers skoongemaak het. Hierdie bediendes is ’squeesas’ genoem, maar behalwe vir die beledigende naam, kan ek nie enige insident onthou waar hulle nie goed behandel is nie.
Die belastingbetaler het sowat twee derdes van ons studiekostes gedek, en sommiges (ekself inkluis) het rondgeval en van studierigting verander. Ander het jare lank gedop, maar kon nogtans daar rondhang om die koshuislewe te geniet. Wat begin het as ‘n universiteit wat Afrikaners bemagtig en opgegevoed het, het iewers langs die pad in lui-lekker land vir wit jongmense verword.
Myns insiens is die Reitz-kwessie nie net een van rassisme nie, maar ook ‘n simptoom van onnodige en onregmatige bevoorregting wat van lankal af kom.
Integreer die koshuise nou
Ek was nie juis ten gunste van die idee dat koshuise integreer nie, want ek het gehoor dat swart en wit studenteleiers voorheen ooreengekom het om apart te woon. My redenasie was dat die studenteowerhede nie moet inmeng teen dit wat die studente self besluit het nie. Nou besef ek dat Prof. Frederick Fourie reg is om die koshuise te integreer. Want hierdie bedorwe brokkies sal in aanraking kom met swart studente wat baie hard moes werk, en wie se ouers baie hard moes werk, vir die voorreg dat hulle kan studeer. Hulle sal mense sien wat hulself gereed maak om die land te lei, en nie tyd het vir nonsens soos ‘n gekots nie.
En die koshuisowerhede kan gerus sommer alle studentemotors op die kampus verbied. Dan kan die wit bloedjies leer om self te stap of fiets/bus te ry soos wat hulle swart medestudente doen.
‘Alleman the infallible’
Toe my Ouma ‘n jong meisie was, het sy werk by ‘n poskantoor in Johannesburg gekry (in die 1920s). Sy was baie bly daaroor, want sy het arm grootgeword. Nietemin, sy moes gedurig aanmerkings van Engelse aanhoor oor haar bevoegdheid, haar Engels wat nie goed genoeg is nie, ensomeer. Sy was maar net ‘n poskantoorklerk, maar sommige Engelse van daardie tyd het Afrikaners selfs nie eers sulke lae poste gegun nie. Heelwat later moes hulle sulke onaangenaamhede soos Afrikaners in die poskantoor en staatsdiens leer aanvaar, want Afrikaners het die mag gehad.
Ek skryf daarvan, want witmense vandag se reaksie op swartes in enige pos behalwe handearbeider, is dikwels maar baie dieselfde. En ek wil nie graag soos die Engelse van my Ouma se tyd wees nie. Daarom het dit my sleg getref toe ek ‘Alleman the infallible’ genoem is deur Khosi – iemand wat soms by Constitutionally Speaking kommentaar lewer. Hy het ook gesê: “Of course, anything other that your side of the argument has to be the ‘wrong’ side.” Dit pla my. Ek wil nie ‘n ’slim’ witte wees wat krities staan teenoor alles wat swart mense doen nie – selfs nie teenoor alles wat die ANC doen nie.
Klip/skêr/papier argumente
Constitutionally Speaking is ‘n baie interessante blog – beslis die moeite werd vir enige iemand wat SA probeer verstaan. Ek dink ek leer ook iets daar oor eerlikheid en argumente voer. Mense sien baie maklik deur oneerlikheid en verskuilde motiewe in ‘n argument. As jou argument soos ‘n spel van klip/skêr/papier is – wanneer jy iets probeer wat jy dink gaan werk met jou teenstander – is jy gewoonlik besig om jouself in die voet te skiet.
So begin Pierre de Vos soms (wel taamlik dikwels) ‘n artikel met ‘n kort inleiding waarin hy so ‘n bietjie Afrikaner-bashing doen. Hy wil gou eers sy eie credentials by swart mense opbou voor hy op sy eintlike teiken, die ANC elites losbars. Slegte skuif – niemand word juis daardeur beindruk nie, dink ek. (Maar andersins skryf hy baie interessant).
Of Khosi probeer pres Mbeki verdedig deur ‘n argument wat hy reken (vermoed ek) sal werk by blankes: ‘Imagine a scene where our serving police commissioner is hand-cuffed and marched to a police station. CNN, BBC, SKY etc. I am embarrassed just thinking of it’. Ek weet nie of dit by ander witmense sal werk as ‘n verdediging van Mbeki se aksies rondom Selebi nie – vir my werk dit nie eers amper nie.
Mens moet eerder net reguit sê wat jy dink, en waarvoor jy hoop.
Mbeki die stryder
Maar Khosi het ander argumente ook – wat ek as eerlike argumente beskou, en dit kom daarop neer dat Mbeki ‘n goeie stryd stry. Hy kon nie net van Selebi ontslae raak toe die aantygings na vore begin kom nie – maar moes die regte prosedure volg. Wat regtelike prosedures betref is dit natuurlik nonsens, dit gaan eerder oor ANC prosedures, maar Khosi skets Mbeki as ‘n stryder wat baie beperk is in terme van wat hy kan doen weens sy magtige opponente binne die ANC.
En hierdie opponente (nie net Zuma nie) wil natuurlik ook van die Skerpioene ontslae raak. Enigeen kan sien dat daardie persone dit wil doen omdat hulle nie ondersoek wil word wanneer hulle staatsgeld plunder nie. Maar Khosi verwys na die persoonlike tol wat al hierdie gevegte op Mbeki neem, (Mbeki will ‘put his body in the firing line again’).
Almal weet van Mbeki se foute en tekortkominge – maar geen mens of leier het dit nie. En aangesien ek weet ook ek is nie ‘infallible’ nie, verwag ek dit ook nie van die president nie. Hy moet net die goeie stryd stry – ek hoop Khosi praat die waarheid dat hy dit doen. En ek wens dit was moontlik dat diegene in die ANC wat nie misdadigers is nie, nou hul eie pad kon begin loop.
Nog Afrikaner goedgelowigheid
Ek het voorheen geskryf oor Afrikaners wat so liggelowig is. Intussen het ek begin wonder of die regte woord dalk eerder goedgelowig is. Maar hier is nog ‘n teken van die sindroom:
‘n Jong man het gister vry en met “ ’n tweede kans” uit die Pretoriase streekhof gestap nadat sy slagoffers hom vergewe en saam met hom gebid het en die saak teen hom teruggetrek is.
Mnr. James Baloyi (20) is van ’n ernstige rooftog en poging tot moord aangekla nadat hy in Maart verlede jaar twee vroue in ’n huis in Erasmuskloof, in die ooste van Pretoria, aangeval en beroof het.
Hy het mev. Esther Makgoba, die huiswerker, met ’n mes gesteek. Mev. Bertha Pretorius, die huiseienaar se skoonma, is nie beseer nie.
Die polisie het Baloyi minute ná die rooftog in ’n veld agter die huis gearresteer. ’n Polisiehelikopter en ’n menigte polisielede het ná die rooftog na die boosdoeners help soek.
Mnr. Myndert Bloem, die huiseienaar, was by toe Baloyi gearresteer is en het Baloyi toe ’n drukkie gegee en hom in die naam van Jesus vergewe.Gister het Makgoba én Pretorius in die hof ook gesê dat hulle Baloyi vergewe.
Volle storie hier.
Ek wonder of die Pretoriase streekhof se vrylating van die misdadiger bloot omdat sy slagoffers hom vergewe het, wettig is.
‘n Lekker lewe sonder Eskom of die regering
My skoonpa(nou 80), het nooit in sy lewe Eskom of Evkom krag gehad nie. Hy het sy plaas gekoop met geld wat hy as mynwerker verdien het, en het ‘n liefde vir wetenskap en tegnologie. Hy het sterk opinies oor dinge, en kla graag oor Eskom-boere wat so maklik bankrot speel – (dis nou lank voor die huidige Eskom sage), rekenaar- boere (boere wat rekenaar sagteware gebruik om hul boerdery te beplan, en dan ook maar bankrot speel), en staatshulp. Hy wil niks met die staat (ou of nuwe SA) te doen hê nie, en het ook nooit droogtehulp aanvaar nie. Hy het selfs probeer om ander boere te oortuig om nie hul diere se brandmerke by die owerhede te registreer, toe daar so ‘n projek was nie (“want mens moenie aan hulle ‘n houvas oor jou gee nie”). Hy het ook geen werkers nie – op 80 doen hy nog al die werk self, hoewel sy seuns en skoonseuns se kragte wel ingespan word wanneer hulle daar kuier.
Ek het besluit om iets oor sy energie opsies, en die langtermyn volhoubaarheid daarvan, te skryf ingeval iemand dit nuttig vind.
![]()
Hierdie sonverwarmings eenheid het hy self gebou. Dit is swart plastiek waterpype, in ‘n swart kas met ‘n deursigtige plastiek plaat voor, en dit verskaf warm water in die krane vir skottelgoed, hande was en bad. Net een of twee mense per aand kan bad -as ons daar is, kom ons meesal in die swemdam skoon (glad nie ‘n probleem in die somer nie!). Hierdie is die tweede inkarnasie van die idee – die eerste een het baie jare gewerk, maar het mettertyd begin bars, afdop en skeeftrek weens die son.
‘n Wind-turbine of windlaaier het so 8 jaar lank bo-op hierdie windpomp se staander gewerk, en meeste dae heelwat elektrisiteit opgewek. Die elektrisiteit is dan in ‘n stel batterye opgegaar vir die aande. In die dag is hierdie elektrisiteit ook gebruik om die plaas-vrieskas koud te kry. (‘n Plaas vrieskas is ‘n baie groot kis-vrieskas wat goed geisoleer is om baie lank sonder elektrisiteit te kan koud bly) . Maar die windlaaier is op die ou end deur hael stukkend geslaan, (of so geslaan dat hy as gevolg van duike in sy lemme so vibreer het dat hy gebreek het).
Die windlaaier was ook redelik raserig, want hy het bitter vinnig gedraai as die wind sterk waai. Myns insiens was dit ‘n goeie tegnologie – en heel waarskynlik is vandag se modelle stiller en meer betroubaar. Dit is seker moontlik om ‘n plaat bo op te sit wat die hael kan keer, maar daardie plaat sal baie stewig moet sit.
My skoonpa het die afgelope jaar of wat ‘n sonpaneel in plaas van die windlaaier:
Die sonpaneel doen nou dieselfde werk as wat die windlaaier gedoen het – laai die batterye, maar is seker ook kwesbaar vir hael.
Die minder aangename deel van sonkrag. Die batterye is groot, duur en morsig, en word buite onder ‘n afdak aangehou. Die nuutste stel is darem beter as die voriges. Hulle verskaf ook elektrisiteit aan ‘n ‘jakalsproef’ draad wat gelektrifiseer is, en rondom die skaapkampe gaan. Hoewel die gelektrifiseerde draad jou ‘n allemintige skok gee as jy daaraan raak, gebruik dit eintlik baie min elektrisiteit.
Daar is ook ‘n dieselenjin, maar die word net enkele kere per jaar gebruik, byvoorbeeld wanneer daar heelwat besoekers is, of wanneer elektriese masjiene soos die draaibank gebruik word.
![]()
Die sonoond is ideaal vir kookkos – mits dit middagete is.
Ander kos en kookwater word deur die gastoof verhit. Daar is ook ‘n elektriese stofie (so groot soos ‘n mikrogolf) waarmee brood gebak word (met ‘n gisplantjie).
Windpompe: ‘n Tegnologie wat homself oor en oor bewys het. Daar is natuurlik heelwat windpompe op die plaas – ‘n natuurlike manier om water uit die grond te kry met baie min moeite of onderhoud (as die ding eers in plek is.) Ondanks die baie voordele van ‘n windpomp, gebruik baie boere deesdae blykbaar eerder dompelpompe – wat minder betroubaar is, elektrisiteit nodig het, en boonop maklik (en dikwels) gesteel word. My skoonpa het ‘n baie lae opinie van dompelpompe, en kla graag oor die boere wat vir sulke idees val.
Reenwater word van die dak af opgevang vir wasgoed, want die grondwater is “hard” – bedoelende die kalk in die water is ‘n probleem wanneer klere gewas word.
Mag*
‘n Lang, slanke vrou, in hoëhakskoene, gestileerde jeans, ‘n kort leerbaadjie en met netjies ge-permde hare, het by die mall gestaan en praat met ‘n bedelaar. Hy was ten minste ‘n voet korter as sy, slordig en stink. Hy het ongemaklik gelyk. Sy het gelag: “O ja, ja!, ha ha ha!”; sy oë het vinnig geknip. Sy was besig met ‘n vertoning – hy ‘n nuttige byspeler, ‘n bykomstigheid tot haar pragtige menswees. Dit was asof sy wou sê: “Ek is wel mooi en ryk, maar kyk hoe goedhartig is ek teenoor bedelaars!”
Hy het geweet sy geniet sy armoede, en het gevoel sy het sy staanplek oorgeneem. Hy was in haar skaduwee.
Ek wou wag om te sien hoe sy volgende na die Delicatessen-winkel toe stap, maar sy sou my sien en ek wou haar nie aanmoedig nie. Ek wou haar met ‘n eier gooi, maar was te lafhartig.
Die aansitterigheid van witmense benou my.
———————————–
* My vertaling van Power van Lara Pawson. Ek het liberties gevat met dit – verskoon tog maar.
Comments (44)
Comments (6)
Comments (9)