Archive for Maart, 2008|Monthly archive page
Nooit klaar met SA nie
Baie Afrikaanse mense sit nou in die buiteland – ons weet wat die redes daarvoor is. Dit lyk vir my daar is meer as een manier om ‘n ekspat te wees:
- Een soort mis goed soos blatjang, biltong of niknaks en gaan heeltyd omtrent net daaroor aan. As hulle net die regte soort goed te ete kan kry maak dit nie vir hulle saak dat Suid-Afrika besig is om agteruit te boer nie.
- ‘n Tweede soort het SA se stof van hulle voete afgeskud. In hul briewe aan SA koerante kan mens omtrent aanvoel hoe hulle hul lippe aflek daarvoor dat SA heeltemal moet faal. My persepsie is dat baie van hulle in Australie is.
- Maar wat van ekspats wat op ‘n positiewe manier met hul geboorteland wil omgaan? Hulle (ons) families en vriende woon tog daar! Afrikane in Europa en die VSA het ‘n lang geskiedenis daarvan om ‘n positiewe bydrae te probeer maak. Hulle het baie organisasies geskep wat hulle ten doel stel om dinge vir hul lande, of Afrika as geheel, te verbeter. Een voorbeeld is die African Foundation for Development, wat hulle ten doel stel om Afrika se diaspora in te span om welvaart en werk in Afrika te help skep. Ek het AFFORD se direkteur ontmoet – hy kom van Sierra Leone, ‘n land waar verskriklike dinge gebeur het. Maar eerder as om op die negatiewe te konsentreer, het hy alreeds baie positiewe dinge bereik vir sy land en Afrika as geheel.
Ek beskou laasgenoemde as die beste manier om ‘n ekspat te wees, en ek wens daar was meer organisasies wat spesifiek Afrikaners in die buiteland kan betrek.
Mag ‘n ekspat ‘n opinie oor SA hê?
Ek word soms gekonfronteer met stellings soos “Ja, maar jy sit veilig in die buiteland”, of “Dis maklik as jy in die buiteland is”. Ek dink ook dis baie maklik om van hier af te sit en skryf. Maar mens moet eerder vra of ‘n ekspat se bydaes nuttig of insiggewend is. En ‘n ekspat kan soms insigte kan hê wat hy nie sou gehad het as hy in SA gebly het nie. Maar ons moet ook, net soos enigeen wat nie wil nonsens praat nie, baie meer lees en luister as om van ons te laat hoor.
Een saak op ‘n slag
Ek glo aan een onderwerp op ‘n slag, maar wil nogtans nie sekere kwessies wat mense genoem het probeer systap nie. Daarom probeer ek kortliks iets oor al die ander dinge sê wat mense soos DSG en Da Mario aangeroer het.
Oor swart rassisme
Ek bekommer my oor swart rassisme, misdaad en al daardie dinge, en ek het opinies daaroor. Maar ek weier om daardie saak nou (of in ‘n stuk oor wit rassisme) op te neem, want om dit nou te doen is om die kwessie van wit rassisme te systap. Dis hoekom ek in een saak op ‘n slag glo, want dis al hoe mens dalk iets kan oplos.
“Is dit werklik rassisme wanneer jy nie bereid is om ‘n koshuiskamer te deel met iemand wie se kultuur, gebruike en dies meer hemelsbreed van jou eie verskil?”
Dit is nie nodig om kamers te deel as iemand nie wil nie. Volgens prof Frederick Fourie: “’n koshuis is nie ’n huis nie, dis ’n openbare instelling. Jou kamer is jou huis.” Dis waar vrye assosiasie van toepassing is.” En dis nie net die rektor wat so sê nie – die land se grondwet verskans die reg op vrye assosiasie.
Oor ‘moet integreer’
My ommeswaai oor integrasie is deels omdat ek daarin ‘n geleentheid sien om die idee van koshuistradisies heeltemal te beeindig, want anders as baie ander mooi en goeie dinge wat op die KOVSIE-kampus aangaan, sien ek geen waarde in die belaglike tradisies van huisvergaderings en ontgroening nie.
Ek weet goed dat wat begin met integrasie eindig in oorname en verengelsing – en ek het nie noodwendig ‘n oplossing vir daardie dilemma nie. Maar ons moet die swart mense van die land leer ken om met hulle te kan saamwerk- en as die universiteit nie die plek is nie, waar dan?
Oor Irvin Khoza se verwysing na “kaffers”.
‘n Mens kan hard en reguit met jou eie mense praat want hulle verstaan jy haat hulle nie. Maar wanneer jy met ‘n ander nasie praat is wedersydse begrip baie moeilik om te bewerkstellig en daarom is dit logies om sagter taal te gebruik. Daarom mag mnr Khoza (wat my betref) iemand ‘n kaffer noem en ek mag nie. Ek het vrede daarmee.
Oor die Forum of Black Journalists wat wit joernaliste nie by Zuma wou toelaat nie
As dit maar al soort soort swart rassisme was. Ek is skaars seker of ek dit as rassisme wil beskou. Miskien is dit maar net vryheid van assosiasie.
Oor welvaart, arrogansie en rassisme
Dit is walglik wanneer iemand wat ryk en vooraanstaande in die samelewing is, gemeen of wreed teenoor iemand wat ‘n lae status het, optree. Met voorreg kom verantwoordelikheid. Ek het aangegaan oor daardie studente se bevoorregte posisie, want hul bevoorregting bo die swart werkers maak hul optrede soveel meer walglik. Daarmee probeer ek nie sê (soos DSG dit gestel het: “kom ons gee sommer die wit studente se ouers se plase, huise en besighede ook weg” nie. Ek registreer net my walging.
Oor jammer sê
Jammer sê namens daardie studente, of oor apartheid of oor wat ook al, is nie wat verwag word nie – jy en Da Mario lees my verkeerd. Al wat nodig is, is dat hierdie soort aksie, en rassisme in die algemeen, so hard en eenparig verdoem word elke keer as dit sy kop uitsteek, dat mense dit nie meer waag nie. In sekere Engelse kerke was daar ‘n lang tradisie om priesters wat kinders molesteer het, te beskerm en die gebeure toe te smeer. Die woede oor die probleem het egter so ‘n momentum opgebou, en die saak het die kerk soveel skade aangerig, dat dit vandag baie dom van ‘n kerkleier sou wees om so ‘n priester te beskerm. So ‘n priester kan vandag geen beskerming verwag nie, en daarom glo ek kinders is vandag baie veiliger by die kerke. So ek dink dit is ook nodig dat die rassis geen vorm van beskerming vir sy woorde en dade moet geniet nie.
Oor ‘n ’skuus dat ek lewe houding’
Die teendeel is nodig – die moed van jou oortuiging om ‘n rassis se tjank af te trap, net soos wat jy met ‘n kindermolesteerder sou doen.
Oor of ek ‘n koshuiskamer met iemand van ‘n ander ras sal deel.
Vir my was dit nog nooit aangenaam om leefruimtes met ander mans te deel nie. Maar afhangende van die persoon sou dit nie vir my ‘n groter probleem wees as die persoon swart of bruin is nie – dit hang maar net van die persoon af. Ek was so 4 jaar lank ‘n onderwyser ‘n swart skool. Ek het deel van die lief en leed, en van die kinders en personeel se menswees geword. Dit was vir my ‘n positiewe ervaring, maar ek gee toe dat die klimaat tussen wit en swart dalk meer vyandig kan wees vandag.
Oor die ANC
Ek glo nie die ANC se regering is goed vir die land nie, en spesifiek nie vir Afrikaners nie. Maar mens moet jou weerstand op ‘n logiese manier registreer wat nie jou eie saak skaad nie.
—
Nou ja, hierdie stuk was omtrent so onsamehangend en deurmekaar soos SSSB.
Rassisme se suurstof
Ek glo dat swart mense in die land weet dat net ‘n baie klein proporsie Afrikaners soos daardie Reitz studente self direk iets walgliks aan ‘n swart mens sal doen. So hoekom is dit asof ons almal saam in die beskuldigdebank staan? Hoekom moet ons ‘hand in eie boesem steek’?
Want die res van ons is die lug waarin hulle hul stank versprei – ons gun hulle suurstof. Byvoorbeeld al die ander Reitz studente het skynbaar die video ‘n tyd gelede al gesien, maar nie een het dit goed gedink om ‘n klag daadoor in te dien nie. Wanneer iemand rassisties praat bly ons meesal eerder stil, en dis hoe ons aandadig is.
Hierdie idee van hoe die samelewing nie ‘n greintjie geduld met rassiste moet hê nie, is nie iets wat ek sommer self uit my duim suig nie – dis die manier hoe ander lande dit reggekry het om verder as ons te vorder met die uitwissing van die probleem.
Kom ons praat eerder oor ‘hulle’ rassisme
Telkens wanneer ons gevra word om oor wit rassisme te praat, word dinge soos swart misdaad en swart rassisme bygesleep. Ons kan eenvoudig nie by die onderwerp hou nie. Almal weet dat swart gemeenskappe soms misdadigers in hul geledere verdra en selfs bewonder. Ons wil graag hê hulle moet die misdadigers uitlewer. En nie rassisties teenoor ons wees nie.
Maar hoekom sal swart gemeenskappe, as hierdie dinge ter sprake kom, nie ook soos ons gedurig die onderwerp verander nie?
Comments (14)
Comments (7)
Comments (3)