Archive for April, 2008|Monthly archive page
Gesiglose mediabase
Ek is nie te gelukkig met my poging om te verklaar hoekom David Bullard dit kon regkry om jare lank onder Mondli Makhanya met soveel wit meerderwaardigheid te skryf nie, maar ek het nou ‘n ander vermoede van wat gebeur het. Chris Moerdyk skryf oor hoe Bullard die Sunday Times in Empire magazine gekritiseer het, en hy glo dit is hoekom Bullard onstlaan is. Ek stem nie met hom saam dat Bullard “nie eers weet hoe om rassisties te wees nie”, maar die Empire Magazine kwessie is beslis deel van die storie.
Makhanya was waarskynlik nooit gelukkig met Bullard nie, maar hy kon dalk nie van hom onstslae raak nie, want sy base by Avusa het miskien geglo dat Bullard baie werd was vir die koerant. Maar toe Bullard die koerant en Avusa kritiseer, was Bullard skielik vervangbaar, en het Makhanya uiteindelik sy sin gekry om van hom ontslae te raak. Net soos wat Llewellyn Kriel se doppie geklink het toe hy Avusa kritiseer het.
As ek reg is, is die gesiglose base by Avusa se optrede konsekwent laakbaar. Hulle laat toe dat Bullard wit meerderwaardige opinies verkoop in die naam van satire en vryheid van spraak, en opinieskrywers soos Bullard moet die regering, die ANC, en wie ook al nog vreesloos kritiseer, maar sodra hulle – die gesiglose base of die maatskappy self – onder skoot kom word die skrywer summier afgedank.
Nasionale Pers is vermoedelik minstens net so waardeloos en gierig as Avusa. Tim het waarskynlik nie alleen die besluit geneem dat Rapport se sirkulasie nie mag daal weens die SMS veldtog oor Deon Maas nie.
SA se media korporasies verkoop elke dag stories oor hoe die samelewing behoort te wees. Ek hoop nie hulle is almal so sinies en gierig is as wat ek dink hulle is nie.
Mondli Makhanya maàk die nuus
Dit staan ‘n koerantredakteur vry om enige tyd die opinieskywers wat gebruik word te vervang. Om ‘n opinieskrywer te wees is ‘n werk met hoë status en invloed, maar lae werksekerheid – dis waarvoor jy jou inlaat as jy daardie werk doen.
Iemand soos David Bullard gaan nie more op straat sit omdat hy sy werk by The Times verloor het nie, so mens hoef nie te jammer vir hom te wees nie.
Ek kan insien dat Bullard se manier van skryf beledigend vir swart mense is. Hy het jare lank so geskryf, ook in die jare dat Mondli Makhanya die redakteur was. Ek het my aanvanklik verstom daaroor Makhanya dit toelaat. Maar ek het later begin verstaan dat dit alles gaan oor kontroversie en sirkulasiesyfers.
Toe Bullard begin om met bloggers die spot te dryf, het ek dit geniet. Hy kon alles en almal behoorlik beledig, en toe hy bloggers beledig was hulle so ontstoke dat hulle byvoorbeeld alles van hom op Muti met ‘bullshitard’ gemerk het.
‘David Bullard is a legend‘ is ‘n oulike stuk oor Bullard se kontroversialiteit. Maar Bullard se manier van skryf is miskien nie werklik geskik vir SA nie. Want wit mense sal in Bullard se laaste stuk bevestiging vir hul vooroordele vind. Bevestiging van hul aanstootlike aanname dat kolonialisme goed vir swart mense was. Ek dink Bullard se punchline van ’someone to blame’ is waaroor die stuk eintlik gaan. Bullard spot die huidige maghebbers, en dis ‘n goeie ding om te doen. Maar die inleidende deel is te beledigend, al is hoe ‘n ongekoloniseerde Afrika sou wees regtig die tema nie, is dit hoe 95% van mense dit gaan lees. Boonop moet iemand wat so skryf almal eweredig laat deurloop. En ek is bevrees Bullard het wit Engelse, Afrikaners, bloggers en Duitse herdershond eienaars afgeskeep en te veel op die WaBenzi, oftewel die huidge maghebbers gekonsentreer.
Mag mens met swart mense spot?
Ek reken Makhanya het nog altyd so gedink, en daarom aangehou om Bullard te gebruik. Maar ek vermoed Makhanya het begin dink dit was tyd vir ‘n verandering – miskien het hy gevoel Bullard herhaal homself. En miskien het hy ‘n nuwe skrywer gevind wat nog meer vir die koerant kan beteken.
En toe lees hy Bullard se laaste stuk en keur dit goed (soos nog altyd) vir publikasie. Maar ‘n paar dae later dank hy hom af – sogenaamd oor daardie stuk, maar eintlik kan dit nie daaroor wees nie. Want hy kon lankal vir Bullard aangesê het om anders te skryf of te waai. Hy kon hom stil-stil laat gaan het omdat Bullard se opinies dalk te veel mense sou afsit om die koerant te koop. Maar dis glad nie Makhanya se styl nie, want hy weet hoe om self nuus en sensasie te veroorsaak. Daarom dank hy hom af met ‘n groot gedoente, en die land gons.
Net soos wat hy byvoorbeeld nuus en sensasie gemaak het met sy “Manto is a drunk and a thief” -opskrif en die sensasie rondom sy (Makhanya se) moontlike arres oor Manto se mediese lêers.
Makhanya slaan ‘n slag teen rassisme, en die sirkulasiesyfers styg alweer. As ek ‘n koerant besit het sou ek graag Makhanya wou hê as redakteur.
Comments (1)
Comments (6)
Comments (4)