Archive for Junie, 2008|Monthly archive page

Kuruman espresso

Ek moes nog ver bestuur, en bestel ‘n espresso (my gunsteling soort koffie) in Kuruman, maar die vriendelike kelnerin bring toe ‘n groot koppie koffie.  My skoonsus vra toe of hulle dan nie weet hoe maak mens espresso nie.

“Nee ons weet, maar ek het gesê maak vol daai koppie, ons kan nie die meneer so kroek nie!”

Sir Mugabe en wie se titel afgeskaf moet word.

Gister het Mugabe sy Britse titel verloor.  Dit is vir my nogal hartseer, want as jong man het hulle hom en sy merkwaardige eerste vrou baie sleg behandel.  Later het hulle begin om in hom te belê as leier – ‘n proses wat baie heuning om die mond smeer behels, en in 1994 is hy tot ridder geslaan.
Read more »

Hoekom ou mense val

Net ‘n nota van iets wat ek gister op die BBC radio gehoor het van ‘n ouetehuis wat die hoeveelheid ou mense wat val en hulself beseer drasties verminder het.   Al wat hulle gedoen het is om per skedule te sorg dat die ou mense gereeld en genoeg water drink.

Lit Brother

Om te blog gee ‘n persoonlike perspektief op waaroor jy ook al oor blog.  As dit nie persoonlik was nie, sou dit ‘n formele artikel gewees het – iets wat baie werk kos, en etlike kere weer deurgelees moet word om seker te maak die feite is reg, die argumente volg logies, en die hele ding is nie op emosie gebaseer nie.
Die Afrikaanse blogs by WordPress is meesal ‘n lekker geselsery, baie soos wat Afrikaanse mense gesels wanneer hulle mekaar teekom. Ek hou oor die algemeen daarvan.   Ek sal nou nie so diep op my eie persoonlike lewe ingaan soos party ouens nie, maar ek het vrede met die wat dit doen, want hulle blogs is dalk hul persoonlike dagboeke waar hulle dinge vir hulself uitwerk.

Maar as iemand by LitNet blog, het ek gedink, doen hy dit omdat hy iets te  sê het in die openbare sfeer – iets wat mense wat hom nie ken nie kan interesseer.  Miskien sy persoonlike kykie na een of ander politieke, ekonomiese, tegnologiese saak.  Of dalk ‘n godsdienstige, musikale of sport insig wat met ons gedeel kan word.  Of dalk iets van boeke – dis tog LitNet after all.

Moenie glo nie.  LitNet blogs gaan eerder oor Carl Niehaus se persoonlike lewe, en hoe Neil Kroese gym.  Die selfobsessie daarvan!
Om die waarheid te sê, ek is baie bly Afrikaans het my toegerus met presies die regte woorde om LitNet blogs te benoem: dis ‘n pot kak.

Kom eerder weg daar as jy dalk per ongeluk daar beland het want die ding lyk aansteeklik.