Archive for September, 2008|Monthly archive page
Wikipedia
Ek het al dikwels opgemerk dat sonkrag en windlaaier elke dag mense by my blog laat beland vanaf soekmasjiene, en dat ‘n Lekker lewe sonder Eskom of die regering by verre die gewildste artikel op my blog is. Daaruit lei ek af dat mense in Afrikaans soek, en dat daar ‘n groot behoefte na kennis (en nie net klets nie) op die Web is. Ek het nie baie tyd nie, maar het al so ‘n bietjie op die Wikipedia bygedra – meesal net saadjies, dws enkele sinne wat aandui wat iets is, en wat later uitgebrui kan word na ‘n volledige artikel.
Ek het nie voorsien hoe interessant en verslawend dit is nie! Ook nie hoe maklik dit is nie. As jy iets skryf, sien jy gou dat jy ondersteunende artikels nodig het, en as jy jou kom kry is jy lus om daardie artikels, (of ten minste saadjies) ook te skryf. Dis soos Pistachio neute eet – dis baie moelik om op te hou as jy eers begin het.
Dis ‘n hele subkultuur – daar is byvoorbeeld iets soos WikiDwergies en WikiFeetjies.
Daar is baie mense wat deelneem, maar daar is veral enkeles wat in die kort tydjie wat ek die projek dopgehou het, uitstaan. Besoek gerus hul interessante gebruikersbladsye:
Renier Maritz, Anrie, Frank Naude, Alias, Voyageur, Morne, Adriaan90, Piet Delport, Hansjoseph en tot selfs die 14-jarige Ben Bezuidenhout wat die grootste deel van sy lewe in Engeland woon.
(Ek hoop nie ek het iemand uitgelaat wat baie bygedra het uit nie.) Hulle is van die mense wat die Wikipedia laat vorder het tot meer as 10 000 artikels. En wanneer SA eers regte Internet kry, sal dit baie vinniger vorder, meen ek.
Die kerk is darem ‘n eienaardige ding
Ek het baie respek vir gelowiges, en vir die manier hoe die Kerk deur die eeue ‘n basiese morele raamwerk daargestel het, wat baie bygedra het, meen ek, tot mense se opheffing. Maar gelowiges se geloof sit ongemaklik teenoor hoe hul predikante is.
Byvoorbeeld die predikant van ‘n kerk wat ons soms bywoon – sommige van die lidmate is die wonderlikste mense, veral die lede van die breiklub. Hulle ken almal, gee vir almal om, trek almal in, en brei om klere vir die armes te gee. Nogtans het die dominee – dis nou die ou op die kansel wie se preke gewoonlik nie verstaan of onthou kan word nie – een keer ewe neerhalend aan ons gesê dat hy nie kan verstaan hoekom die breiklub so gewild en suksesvol is nie (in vergelyking met ander kerk projekte wat nader aan sy hart en ambisie was)
Die predikant was gewoonlik ‘n slimkop op skool met ‘n sterk behoefte aan bewondering en goedkeuring. En toe gaan hy universiteit toe om daardie behoefte te vervul, en vrou te vang. Per ongeluk leer hy ook allerlei dinge soos sielkunde en wetenskap wat nie altyd so lekker by geloof pas nie.
Hy was soms maar stout op universiteit, maar toe hy hy hom weer kom kry, is hy ‘n predikant, en het verantwoordelikheid om mense in die geloof te help. En na al die wetenskap blootstelling van universiteit is hy nie so seker of hy eintlik nog self glo nie, maar nou’s hy in ‘n beroep, en boonop die broodwinner en die eerste baba is op pad. So hy gaan maar aan – ten minste kry hy baie bewondering.
Soos hy vorder op sy pad, leer hy hoe polities die kerk eintlik is. As ‘n man eers 30 verby is, begin hy ‘n aptyt ontwikkel vir mag. Nou kom daar dinge soos kerkraadsvergaderings, sinodes, kerkbeleid, kerkeenheid, taalbeleid ensomeer waarin sy maglus kan uitleef. Dis baie opwindender as hospitaalbesoek.
Die jakkalsdraaie wat hierdie ouens doen is lagwekkend en pateties:
Die Moreleta Park NG Kerk dank ‘n orrelis af omdat hy gay is (ander werknemers en predikante wat ander sondes doen word nie oor daardie sondes afgedank nie), maar buig die knie en vra verskoning toe die wet hulle aanspreek, en impliseer daarmee dat of hulle was verkeerd oor God se wil, of hulle beskou gehoorsaamheid aan ‘n sekulere wet belangriker as God se wet (of ten minste belangriker om hul basse te red).
Predikante van die wit kerke praat eenheid met die nie-wit kerke, maar wil nie regtig nie. Hoe die kerk van God volgens rasvoorkeur bedryf kan word verstaan ek nie.
Predikante van die swart kerke wil die wit kerke verengels – en die bruin kerke moet maar saam verengels word. As hulle so Engels wil wees, hoekom nie maar sommer die aartsbiskop van Canterbury navolg, en sy kerk join nie?
Fotos van Indië
Kliek op die fotos om te vergroot.
Armoede en rykdom, asook Tata en kommunikasietorings.
Tata Indicom. Behalwe motorfabrieke en ‘n selfoonnetwerk, het Tata ook verskeie ander tentakels in omtrent elke sektor, byvoorbeeld hulle het ook ‘n hotelgroep, en teeplantasies.
Motorfietsryers in Mumbai. Mhambi het ook oor Indië en die feit dat sommige vroue nie helms dra nie, geskryf.
Sypaadjies is dikwels ‘n swakpunt – vuil, smal en vol gate soos hieronder in Ernakulam, of totaal afwesig of vervang deur oop rioolslote soos sekere plekke in Thrissur.
Mense wat in telekoms belangstel, sal die drade ook interessant vind. My indruk van telekoms in Indië (ondanks die toestand van die kabels hieronder), is dat dit goed is in vergelyking met ander infrastruktuur van die land. Internet toegang blyk oral beskikbaar te wees, en is nie duur nie.
‘n Hindu troue is iets om te beleef, en is nie net een seremonie op een dag nie. Hierdie foto wys my twee seuns en ‘n Delhi egpaar se dogtertjie.
Hierdie olifant was ook by die troue.
Een deel van die troue was ‘n rit vir gaste op ‘n huisboot by Alappuzha.
Dink jy daaraan om jou kind Brandon of Samantha te noem? Die Indiers – soos hierdie lugwaardin – beskou ons seuns se gewone Afrikaanse name as baie eksoties.
Maak plek, hier kom Indië
Die verkeer is ‘n goeie beginpunt om iets van Indië te verstaan. Want behalwe vir sekere plekke waar verkeerspolisie diens doen, lyk dit of elkeen hier min of meer ry soos hy goed dink. En dit werk op ‘n misterieuse manier. Almal gebruik hul toeters , maar dis sonder aggressie – die toeters sê nie “as jy weer so voor my inry gaan ek jou bliksem” – soos in SA of Engeland nie. Eerder net “maak plek hier kom ek” – amper soos ‘n soort sonar wat die verkeer, en voetgangers in staat stel om moeiteloos deurmekaar te vloei sonder dat dit baie gevaarlik voel. Ons een taxidrywer het selfs getoet toe hy oor ‘n rooi lig ry, om die mense vir wie dit groen was te waarsku, en hulle het dit glad nie as vreemd beskou nie.
Hier is baie min aggressie in die samelewing, die strate is veilig – miskien is dit te wagte in ‘n samelewing waar vroue so prominent is. Oral sien jy vroue in die mooiste kleure, en bo alles glimlag Bollywood godinne vriendelik oor alles heen (vanaf reuse advertensieborde). Die aspirasie is na skoonheid en huislikheid – dit voel vir my na ‘n samelewing met ‘n vroulike karma.
As Indië ‘n vroulike karma het, het geweldadige lande soos SA ‘n manlike karma, en ryk noordelike lande soos Brittanje het geen karma nie. In die dooilike ryk lande ry mense alleen in groot karre na koue kantoorblokke waar hulle agter rekenaars sit en mens kan nie sien watse duister dinge hulle doen nie. Hulle doen dinge soos spekulasie op kommoditeite, en word skatryk uit koffiebone wat nog nie eers geplant is nie. Kinders word merendeels as ‘n oorlas beskou, en oor die algemeen sien jy net karre op straat.
Maar Indië se strate wemel van mense, vriendelikheid, geurige kos, winkels, verkeer, lawaai, hitte, vreemde geboue, hele strate wat na wierook ruik, lewe. Dis ‘n sensoriese ding – mens kom kort in Engeland weens die tekort aan kleur en sonskyn – hier in Indië is daar oorvloed.
Die Indiese ekonomie groei sterk – weens die wereldekonomie se probleme het die groeikoers nou geval van 9.2% tot 7.9% – dis nog steeds ‘n hele entjie bo SA se beste koers in onlangse jare. In hierdie omstandighede slaag al hoe meer mense om te ontkom uit armoede.
Hier is baie geleenthede – ‘n land wat besig is om homself op te bou. Die gevoel wat ek hier kry, is dat dit vir baie Indiërs ‘n optimistiese en opwindende tyd is. Ons het tot dusver in Mumbai (Bombaai) en Kerala gereis, en baie minder wit toeriste teegekom as wat ek verwag het. Maar ons sien baie Indiese vakansiegangers wat hul land geniet. En ons was by ‘n skouspelagtige troue – die feesvieringe het etlike dae geneem, en baie wonderlike dinge ingesluit. Dis maklik om iemand te vind wat jou wil vertel oor Indië se ekonomiese wonderwerk, oor Tata korporasie wat benewens hul voertuig vervaardiging nog hordes ander belange het, en oor Indiërs wat wereldwyd presteer. En seker almal hier weet dat Indië een van die magtige wereldmoondhede gaan word.
Comments (2)
Comments (7)
Comments (6)






