Archive for Oktober, 2008|Monthly archive page

‘n Gespartel om Engelse goedkeuring

Veemde dinge gebeur in SAFFA-land.   George Claassen kla oor  Pieter Duvenage en Johann Rossouw omdat hulle nie wetenskap en godsdiens teenstrydig vind nie, en omdat hulle hom (Claassen) beskuldig het dat hy ‘n irrasionele aanslag op religie maak, ensovoorts.   Dit lyk of alles daar is vir ‘n goeie debat, of selfs ‘n lekker fight, maar Claassen doen ‘n eienaardige ding – hy haal Duvenage se Afrikaanse stuk aan, maar draai hom dan bloot na sy aanhangers, en skinder dan in Engels oor hoe “religion was pushed down my throat every day” en oor hoe simpel hy Duvenage en Rossouw se filosofiese argumente vind.

Hierdie is bekende terrein vir my – Afrikaners wat, sodra hulle wetenskaplike, of nie-rassige of enige ander moderne insigte kry, verkies om nie daardie dinge met die res van ons te deel nie, maar om aan die Engelse te gaan vertoon hoe on message hulle is deur vir hulle te gaan vertel hoe agterlik ons klompie is.   ‘n Tipiese voorbeeld van hierdie verskynsel (hier gaan dit oor rassisme) is Riaan Wolmarans.  In sy geval is dit ‘n kwessie van wiens brood mens eet, diens woord mens spreek, want hy skryf vir die Mail & Guardian.  Daar is ongelukkig vele soos Riaan en George.

Die gevolg van hierdie verskynsel is om die idee te vestig dat mens slegs in Engels nie-rassig of wetenskaplik kan wees.  Sodra jy van wetenskap, of van nie-rassigheid oortuig raak, moet jy soos ‘n zombie by Engels Inc. vir diens gaan aanmeld.

Die Engelsheid waarvoor hierdie bekeerlinge aanmeld, bestaan ook uit ateïsme, spottendheid en ‘n Suid-Afrikaanse weergawe van die Britse goedheidsmite.

Geloof

My seun kom van die skool af, wys reguit die lug in op, en sê: Weet julle wat!  Jesus woon daar doer buite in die ruimte!
Ons is sprakeloos.
Die volgende aand toe ek hom in die bed sit, het ons ‘n gesprek oor waaroor mens kan huil, en waaroor nie.  Ek vertel hom van sommige van die ellendes van die lewe  (tot my spyt vertel ek meer as wat ek wou). En toe het ons diè gesprek:
“Mense leef ‘n laang tyd, maar dan gaan hulle dood.  Pappa, hoekom gaan mense dood?”
“Want mense is sterflik.”
“Maar hoekom?”
“Ek weet nie, my seun, ek weet nie.”
“Ons sal nog meer daaroor moet lees”, herhaal hy die standaard antwoord wat hy kry wanneer hy my vasvra.  En toe raak hy dadelik in my arms aan die slaap.

Die banksters het alles verander

In Brittanje trek mense hul gordels stywer vir die resessie/depressie wat kom, maar die bouers van super-luukse bote kan nie byhou om in die vraag te voorsien nie.  Die huispryse val, maar die pryse van herehuise en ander eksklusiewe eiendomme word nie daardeur geraak nie.

Baie van die bankiers wat die krisis veroorsaak het, neem nou die tyd af om hul miljoene te geniet, terwyl gewone mense gereed maak om miskien werkloos te raak.  Om die gevolge te dra van dit wat die bankiers veroorsaak het.

Maar ek dink die kredietkrisis gaan die wereld fundamenteel verander.

Bly of gly.  Wil jy emigreer?  Dink daaraan dat die kanse goed is dat jy ‘n groot deel van jou aardse welvaart gaan opgee, net om in die ryk lande hard met werkloosheid kennis te maak.  Suid-Afrika gaan ook deur die krisis beinvloed word, maar ten minste het ons banke weens SA regulasies nie aan die gierigheidsorgie deelgeneem nie.

Persepsies van ryk en arm.   Baie minder mense gaan rykes bewonder vir hul ‘talent’.   Meer sal insien dat die meeste rykdom onverdiend bekom is.  As iemand met sy spoggerige besittings spog sal dit verdag lyk.

Die mite van ‘n vrye mark.  Terwyl die een bank na die ander genasionaliseer word, en Westerse regerings oral inspring om die besigheidswereld te help, is die evangeliste vir die vrye mark tjoepstil, terwyl die wat al lankal kla oor die manier hoe regerings die rykes help, reg bewys word. Ek het simpatie met vrye mark dissipels  – dis ‘n mooi teorie, maar dit het nog nooit in die praktyk bestaan nie, ook nie in die VSA nie.

Die netto waarde van die Weste.   Mense sal begin insien dat die ontwikkelende lande iets het om te bied, terwyl die Weste hul eie waarde ver oorskat het.

Die mag van Amerika sal kwyn. Amerika gaan nie meer die enigste  supermoondheid wees nie, en maar net een van etlike kompeterende magte wees.