Archive for February, 2009|Monthly archive page
Om op te hou rook
Na ek die gelees het, het ek besluit om neer te skryf hoe ek opgehou rook het (dis nou al 4 jaar) in die hoop dat dit iemand kan help. Ek dink daar is veral twee redes hoekom mense rook, en dit was ook my twee redes:
1. Breinstimulasie
2. Jy dink dit verlig jou stres
Breinstimulasie
In die horing van Afrika kou die manne khat, in groot dele van die wereld word sterk koffie gedrink, en so aan. Dit is nou maar eenmaal so dat mens iets wil hê om die brein ‘n bietjie te stimuleer en verveling te verlig. Veral mense wat baie moet wag, of vêr moet ry het hierdie behoefte.
Gelukkig is daar baie dinge wat ook breinstimulasie kan verskaf, veral as jy nie baie arm is nie. Byvoorbeeld musiek, sterk koffie, radio, die Internet, boeke, sport, oefening, reis.
In my geval was dit programmering en blogs – dit het aan my die breinstimulasie verskaf wat rook eers verskaf het. Dis eintlik nie te moeilik om op te hou rook wanneer jy so iets anders het nie. My sussie het vir ons kom kuier en vakansie hou hier in Engeland – dit was haar eerste keer oorsee, en sy het taamlik maklik hier by ons opgehou want alles was vir haar ‘n nuwe ervaring. Terug in SA het sy ongelukkig na 6 maande weer begin.
Dis eintlik baie makliker om op te hou rook as om nie weer te begin nie, en ek dink die rede hoekom mense weer begin is omdat hulle dink dit verlig hulle stres.
Stres en rook
Ek het in die NHS (Britse gesondheidsdiens) se pamflette gelees oor die verwantskap tussen rook en stres. Rook gee in werklikheid vir jou ekstra stres, want ‘n roker se hart klop dag en nag heelwat vinniger, en ekstra suikers en stimulante word afgeskei in jou bloed. So ‘n roker is 24 uur per dag aan ekstra stres blootgestel, bo en behalwe die stres wat die lewe op sy pad bring. ‘n Roker slaap ook nie naastenby so goed soos ‘n nie-roker nie, en min slaap veroorsaak erge stres.
Nou as jy rook gee dit verligting van die smagting na nikotien, en dis daardie gevoel van verligting wat die illusie skep dat rook vir stres help. Ek het ‘n lang tyd aangehou rook terwyl ek myself bo alle twyfel oortuig het dat rook se ’stresverligting’ eintlik net ‘n illusie is, en dat rook in werklikheid baie ekstra stres veroorsaak. Nadat ek opgehou het, het slegte dinge op my pad gekom, maar ek het in daardie tye nie eers aan rook gedink nie, want ek het geweet dat rook nie enige verligting sal bring nie (ek het wel heelwat bier gedrink en doen nog steeds, maar dis ‘n ander storie).
Comments (14)