Archive for April, 2009|Monthly archive page
Wat presies is ‘n blanke?
Voor en tydens die Anglo-Boereoorlog het Britte en Engelssprekende Suid-Afrikaners min of meer ewe min van Afrikaners en swart mense gedink. Hierdie minagting het uiting gevind in dinge soos die hongersnood waarin 50 000 Xhosas gesterf het nadat Brittanje hul grond afgeneem het in die 1850s, die minagting vir die bestaansreg van die Boererepublike nadat goud ondek is, en die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog waartydens in die orde van 27 000 Afrikaner vroue en kinders gesterf het.
Ondanks die feit dat Afrikaners geweet het hoe dit is om so geminag te word, het ons ook dieselfde minagting as die Britte teenoor swart mense gehad in daardie tyd. Ons het ons Britse vyande eerder bewonder en nageboots as om hulle te kritiseer. Ons het as’t ware aspirasies gehad om ons armoede en ellendigheid van daardie tyd agter te laat, en eerder ryk en belangrik te word soos die Britte.
Na die einde van die Boereoorlog het Churchill en Smuts vriende geword, en Churchill het as Britse parlementslid en as “Under-Secretary of State for the Colonies” die Afrikaner aspirasies hierbo genoem, gesteun. En so het die blanke unie van Suid-Afrika onstaan. Afrikaners kon nou tesame met Engelse oor swartmense heers. Die Engelse sou veral die belangrike posisies beklee in die regering en het die sakewereld oorheers, maar Afrikaners wat nie geboer het nie, kon polisiemanne, spoorwegwerkers en stasiemeesters word. Afrikaners wat goed was met Engels, kon selfs meeding om hoë posisies in die staat.
Afrikaner nasionalisme het nie berus daarby om net van derderangse burgers na tweederange burgers te vorder nie, en later het die Nasionale party dit reggekry om Afrikaners te laat vorder tot gelykes van die Engelse in die blanke staat, om die Britse monargie te verwerp en Suid-Afrika ‘n republiek te laat word. Vir Afrikaners was dit vordering, dit het die Engelse meestal irriteer, en vir swartmense was dit slegte nuus, want die Nasionale party regering het sommige van die bietjie regte wat hulle onder Smuts en die Engelse gehad het, weggeneem.
Maar Afrikaners het nou ware blankes geword – ryk, belangrik, en veel beter daaraan toe as swartmense. So blank het ons geword, dat ons selfs ons eie bloedfamilie, geloofs- en taalgenote, die bruin mense se regte weggeneem het.
Ondanks die feit dat Afrikaner nasionalisme die Engelse irriteer het, en Engelse bevoorregting in baie gebiede, veral die staat, verminder of selfs heeltemal beeindig het, het die Engelse (ons “mede-blankes”) asook die Britse regering in die reel en vir die grootste deel van sy bestaan, die blanke apartheidstaat gesteun. Die hoofrede hiervoor was dat swart bevrydingsbewegings in die res van Afrika vir die Britte (en ander Europese koloniale magte), baie probleme gegee het, en vir Engelse was die blanke staat dus ‘n beskerming daarteen.
Baie van ons “mede-blankes” het selfs ingekoop in simbole soos die Oranje-Blanje-Blou, en die meeste het diensplig gedoen om die blanke staat militêr te beveilig. In ruil het Afrikaners ook van die Engelse begin hou, en Nasionale Pers het met tydskrifte soos Huisgenoot spesiale moeite gedoen om Afrikaners te bekeer van ons Republikeinse ideale, en eerder ‘n bewondering vir die Britse koningshuis aan te leer.
***
So dis basies ‘n kort, vereenvoudige geskiedenis van wat dit beteken om ‘n blanke te wees en hoe Afrikaners blankes geword het. Blankheid is ‘n kunsmatige identiteit wat Afrikaners en Engelse tussen 1904 en 1994 in stand gehou het, en ek beskou dit nie as iets om op trots te wees nie.
‘n Blanke vandag, is iemand wat ondanks hierdie vergrype nogtans aan die blanke identiteit vasklou.
Edit: Die volgende paragraaf is verander om ‘n kwetsende verwysing na ‘n spesifieke persoon te verwyder:
Blankes is ook geneig tot selfbejammering, om hul probleme vergelykbaar te sien met ander wie se lyding objektief gesproke veel erger is. En om, wanneer armes of swart mense se lyding genoem word, te wil kompeteer daarvoor dat hulle probleme eerder bespreek moet word.
Gee my eerder ‘n Afrikaner of ‘n Boer as ‘n blanke.
Godsdiens vlieg jou nie in geboue vas nie
Die London atheist bus campaign (of in werklikheid eintlik die Bus slogan generator) het een slogan wat sê: “Science flies you to the moon, religion flies you into buildings.” Dit het ek op Michael Meadon se blog gesien.
Die redes wat Osama bin Laden gegee het oor hoekom die Wêreldhandelsentrum aangeval is, het gehandel oor die verdrukking van die Palestyne, asook die Amerikaanse en Britse steun aan korrupte en diktatoriale monargieë in die Midde-Ooste (Egipte en Saudi-Arabie veral). Hoewel sy redes geklee was in Islamitiese terme soos fatwa, is die redes vir die aanval sonder enige twyfel polities, nie godsdienstig nie.
Kan dit wees dat diegene wat so sanik oor godsdiens (byvoorbeeld Michael Meadon) nie bewus is van die politieke redes vir die aanval nie? Ek dink dit moet ‘n doelbewuste en leuenagtige soort onbewustheid wees, gebasseer op steun aan die Anglo-Amerikaanse neokoloniale praktyke in die Midde-Ooste.
Comments (28)
Comments (25)
Comments (4)