Archive for Oktober, 2009|Monthly archive page
Jansen se verguising
Rhoda Khadalie en ander skryf oor die verguising van Jonathan Jansen. Ek stem nie eintlik met haar argumente saam nie. Nogtans voel ek half of ek aan ‘n verguising meegedoen het. Jansen het fouteer op dag een, maar mens moet onthou dat elke mens wat in ‘n moeilike leiersposisie staan, tot ‘n sekere mate onbekwaam vir die taak is. In die meeste gevalle bestaan die ideale kandidaat vir hierdie tipe pos eenvoudig nie. Daarom moet hy nie onophoudelik verguis word nie, want hy het nou ingestem om sy eensydige benadering te verander. Iemand anders sou op ‘n ander manier gefaal het, en die lewe gaan nog altyd aan ondanks menslike onvolmaaktheid.
Die aanvalle op hom word te ver gevoer, en die idee dat selfs Julius Malema hom nou ook moet gaan spreek is onguur.
Die wortel van Jansen se moelikheid is in die manier hoe hy homself as ‘n sendeling sien wat ons barbaarse ou klompie moet kom reghelp. As hy daarvan bewus was dat die Reitz 4 se gedrag nou nie eintlik standaard Afrikaner optrede is nie, sou hy ingesien het dat sy rol moet eerder wees om die neergelegde proses sy loop te laat neem. Nietemin, ‘n sendeling is ‘n beter soort iets, as byvoorbeeld ‘n sosialis in ‘n BMW, of ‘n korrupte persoon in die parlement of regering.
Ons moet maar, soos Afrikane van ouds met sendelinge, hom goedig en vriendelik behandel, hom beskerm, sy dingetjies aanvaar en selfs iets goeds by hom probeer leer , maar die dinge wat vir ons onmoontlik is, hoflik weerstaan.
Het Jansen nou ‘n guns aan Afrikaners bewys deur ‘n spesiale gunsie vir 4 oortreders te probeer doen?
Ons het nie sulke soort gunsies nodig nie. Ons oortreders moet regverdiglik gestraf word – nie swaarder of ligter as wat hulle verdien nie. En daarvoor moet ons op die reg, en op die UV se vooraf vasgelegde disiplinere prosedures staatmaak.
Net soos wat ons wil hê die oortreder Schabir Shaik moet nie spesiale gunsies ontvang net omdat hy vriende met pres Zuma is nie, net so moet ons ook nie spesiale gunsies verwag vir oortreders in ons geledere nie. In hierdie soort gunsies lê die saad van korrupsie. Daarteenoor lei die behoorlike regspleging wat in ‘n regstaat gebeur, tot ‘n ordelike en veilige samelewing.
Die regsgeleerde, Pierre de Vos, verduidelik dit ook hier.
Die disiplinere prosedures van ‘n universiteit het ook geldigheid voor die howe van die land. So waarom het Jansen hierdie normale prosedures probeer omseil?
- Wou hy, soos die konings van ouds wat tydens hul bekronings al die gevangenes van die land vrygelaat het (en sonder twyfel daardeur ‘n yslike probleem vir hul arme onderdane geskep het), ‘n grootse gebaar teenoor Afrikaners doen? Hoekom moet ons daaroor bly wees as hy ons oortreders “vergewe”? Dis nonsens. Ons moenie vergiffenis vir ons oortreders begeer nie, maar geregtigheid. Die feit dat soveel Afrikaners nou swoon oor koning Jansen, wys net hoe suksesvol Naspers was daarmee om ons van ‘n nasie van republikeine te verander in ‘n nasie wat koningklikes bewonder.
- Of wou hy hierdie aksie as ‘n gawe aan die Afrikaner probeer voorhou? Op so ‘n manier goedwilligheid koop wat hy later kan gebruik om sy agenda vir Afrikaners uit te voer. En moenie ‘n fout maak nie, ‘n agenda vir ons het hy wel. Die Afrikaner is waaroor hy gedurig skryf – ons is sy een groot obsessie. Hierdie daad van Jansen, wat hy nie geregtig op was om te doen nie, bring geen voordeel hoegenaamd vir Afrikaners nie, en daarom behoort sy aandele by ons geensins hoer te wees as wat dat was nie.
Jonathan Jansen se stories gaan hom inhaal
Ek sukkel al lank om te besluit of ek van hom hou of nie, maar ek dink nou Jansen is beslis nie die regte man om die Vrystaatse Universiteit te lei nie. Sy aankondiging tydens sy inhuldingingsrede dat hy “seker” is dat die strafregtelike klagte teen die vier Reitz urine-studente laat vaar gaan word, het tot groot verwarring en chaos gelei. Later moes hy bieg dat hy nie by magte is om die strafregtelike klagte te laat vaar nie, en dat hy slegs die universiteit se eie stappe kan laat vaar. So daar is probleme met Jansen:
- Dat hy iets aangekondig het wat hy nie kan doen nie.
- Dat hy sommer namens die werkers wat verneder is wil vergewe – wie is hy om dit te doen? Vergiffenis is slegs vir daardie vroue. Dis hulle reg om te gee as hulle wil, en te weerhou as hulle wil.
Prof Jansen is ‘n storieverteller. Sommige van sy stories is aangenaam, soos die een van die boere wat Jansen by Senekal se Wimpy ontmoet het. Bietjie soetsappig miskien, maar Afrikaners, ek inkluis, is suckers vir stories waarin ons darem bietjie aanvaarding van swartmense kry, of ten minste nie in die slegste moontlike lig gestel word nie.
Maar ongelukkig is al sy stories nie so aangenaam nie, en ek moet erken ek het al gewonder of hy altyd die waarheid vertel. Byvoorbeeld die storie van Aggressie van die vaders. In hierdie storie moet ons hom glo dat ‘n man wat by hom oor sy rassisme wou kom bieg, dit met ‘n baie aggressiewe houding kom probeer doen het. Hierdie storie, en die manier hoe Jansen dit vertel, laat my diep ongemaklik.
Dan was daar die storie van “beware Bergies in suits”, waarin hy Danny Titus se Bruin Belange Inisiatief aangeval het. Vermoedelik oor die BBI dit waag om vir Bruin mense se belange op te kom, en dus die “Saffer” beginsel verbreek. Dis nou die manier van denke wat wil hê dat ons almal Saffers word, ‘n nuwe soort identiteit waar ons almal basies soos wit Engelsprekendes moet wees (of ten minste daaraan werk om te word). Daar kan nie sprake wees van enige soort groepsidentiteit of groepsregte onder Saffers nie, want ons is mos almal Saffers. Bruin mense wat bruin belange wil bevorder is “bergies in suits”, dws kansvatters. (Hierdie storie was in The Times, maar is ongelukkig nie meer op die Net nie.)
En dan is daar Jansen se leuenagtige wanvoorstelling van die stryd rondom Afrikaans, wat Johan Rossouw beter beantwoord as wat ek sou kon. Ek is bevrees Jansen kom na die Vrystaatse Universiteit met ‘n versteekte agenda van Anglisering – en hy maak propaganda vir die siening dat die stryd om Afrikaans bloot deur rassisme gedryf word. Ongelukkig swoon die blankes nou so oor hom omdat hy die Reitz 4 beskerm, en omdat hulle dink hy die Afrikaner eiehandig van rassisme gaan genees, hulle sal hom sommer toelaat om namens hulle te dink.
Comments (12)

Lewer Kommentaar
Comments (4)