Archive for November, 2009|Monthly archive page

Wat is ‘n Afrikaan?

Ek het nie ‘n groot begeerte om elke dag ‘n Afrikaan genoem te word nie, want dit is besig om ‘n naam van uitsluiting te word – net soos wat die woord “blanke” ‘n woord van uitsluiting is.  ‘n Woord wat sê  “jy hoort nie eintlik hier by ons nie”.

Wanneer dit kom daarby oor of ons Afrikane is, dink ek dit het niks met met kultuur te doen nie, maar alles met jou regte as burger, en daarom is mense wat ons nou van hierdie benaming wil ontneem, besig met vertrouensbreek en xenofobie.
Vertrouensbreek want die ANC onderhandelaars voor 1994, insluitende Nelson Mandela, Mbeki en Zuma, het gesê  dat ons ook Afrikane is.  Die Freedom Charter begin ook met die woorde “South Africa belongs to all who live in it, black and white”
En ons legitimeit as burgers hang nie net af van die Freedom Charter en van wat Nelson Mandela ons genoem het nie, maar dis ook vasgele in die grondwet, in ons burgerskap en in die feit dat ons al hoe lank hier is, en  (behalwe vir individue) nie ‘n ander heenkome het nie.

Dis glad nie waar dat swart mense in die algemeen ons wil weg hê, of nie wil hê dat ons “Afrikane” moet wees nie. Inteendeel.  Die werklikheid is dat die meerderheid swart mense nog steeds geduldig wag vir ons om ons rassisme en meerderwaardigheid te los en om medemense en gelykes met hulle te wees.   Hulle het geen probleem daarmee om  gelykes mede-Afrikane te noem nie.

Maar dit is tog so dat daar sedert (en as gevolg van) Thabo Mbeki se presidentskap swart nasionaliste in die ruling elite na vore kom, wat poog om die naam Afrikaan net vir swart mense toe te eien, en ons van die naam  te ontneem, en ek meen hulle is blote kansvatters en mens moet nie eers een sentimeter vir hulle terugstaan nie, spesifiek omdat dit juis  iets is wat mens nie moet doen wanneer jy met ‘n kansvatter te doen het nie.

Dikwels is politici wat dit probeer, self nie eers so danig anti-wit nie, maar is eerder besig om die aandag te probeer aflei van iets, byvoorbeeld korrupsie.
Maar dis nie swart mense in die algemeen wat dit doen nie, selfs nie eers die ANC as geheel nie, net spesifieke kwaadwilliges binne die regerende klas.  En, soos alle kwaaddoeners, moet hulle beveg word, nie enige legitimiteit gegee word deur hulle klassifikasies te aanvaar nie!    Mens moenie eers vir een sekonde te kenne  gee dat hulle die reg het om oor ons Afrikaan-skap te besluit nie, want dit sal hulle net sterk in hulle kwaad.

Mense se regte was nog altyd iets wat nie vanself gekom het nie, dis altyd iets waarvoor mense moet opkom, veg en waaksaam oor wees.  Selfs in voorspoedige Europa.    Vir ons is dit dieselfde.  Ons moet hard en duidelik wys dat ons nie ons legitimiteit as landsburgers van ons sal laat wegneem nie.
Mens se legimiteit is dikwels afhanklik van jou bereidheid om te veg vir wat jy het.  Wat dit betref is Vlam se ervaring nou die dag vir my baie interessant:

Ek glo sy het met haar woede haar legitimiteit as landburger gewys, en goed so vir haar.  En boonop het sy en haar kollega opgemaak en versoen.
Dit is selfs nog beter.  Die diepste oorsaak van haar kollega se optrede is tog die bittere juk en vernedering wat Apartheid veroorsaak het, so natuurlik moet dit op ‘n manier uitkom een of ander tyd.   Mens moet begrip he daarvoor dat baie swartmense graag minstens een keer teenoor ‘n witte so wil uitvaar.

En daar is nog ‘n beter manier om jou legitimiteit te bewys – iets wat mense soos Desmond Tutu, gereeld sê:  “maak die land (of Afrika) se probleme jou probleme”.   Identifiseer regtig daarmee, en jy sal vind dat jou legitimiteit nie deur redelike mense bevraagteken word nie.

Jan-Jan, die dappere

Ek moet erken ek het al artikels van Jan-Jan Joubert gelees wat nie vir my baie interessant was nie.   Maar toevallig lees ek op Anton Barnard (een van die Praag kwaadstokers) se blog:

Ek kan my reeds indink hoe Jan-Jan Joubert se skril stemmetjie nog ‘n oktaaf sal styg uit pure vrees, en hoe hy gal sal braak in al wat ‘n Nasperskoerant is hieroor

Nou  as Anton so haatlik oor Jan-Jan is, dan verdien hy hy sekerlik ‘n bietjie meer aandag.  En dit is ook so.  In Sondag se Rapport skryf hy:

Alte dikwels word aangevoer die gebeure was onskuldige studentepret waaraan die skoonmakers vrywillig en glimlaggend meegedoen het. Om dit te beweer, is om magsverhoudinge verkeerd te verstaan, hopelik nie aspris nie.

In enige professionele magsverhouding staan die mindere in ’n mate verleë jeens die maghebber. Hoe beter jy is in jou werk, hoe wyer jou opsies en hoe beter gekwalifiseerd jy is, hoe minder verleë is jy.

Daardie skoonmakers is ongeskoold, en dis vroue wat as broodwinners vir hul gesinne optree in gemeenskappe waar baie meer as die helfte van die mense krepeer te midde van werkloosheid. Daar is geen groter vrees as om die vastigheid van werk te verloor nie. Daardie werk is al manier uit die armoedeslagyster se ellende, al manier waarop jy hoop het vir jou kinders, al kans op selfrespek, al skild teen moedeloosheid.

Daarom grinnik jy maar saam vir die baas se simpel grappies, want jy moenie jou werk verloor nie. Daarom sluk jy jou trots, want jy moet net nie jou werk verloor nie. Daarom hou jy jou mond en doen mee, want jy moet net nie jou werk verloor nie.

Jinne mense, dis die werklikheid. Wie nie deernis het vir die posisie van die skoonmaker en die kwesbaarheid van haar menswaardigheid begryp nie, ignoreer die magsverhoudinge in ons land en is ongevoelig oor die aard van verontmenslikende armoede.

Ek is dalk verkeerd, maar ek dink dis dalk die eerste keer dat ‘n Naspers joernalis die kwessies van interpersoonlike magspolitiek so duidelik uitstippel. (Iemand soos Christi van der Westhuizen skryf soms sulke soort goed, maar ek dink sy is ‘n vryskut skrywer.   Naspers se eie joernaliste klink gewoonlik na DA-segsmanne)

Nes Jesus, kies die dapper persoon altyd kant vir die maglose, terwyl mense soos Barnard, en sy ideologiese baas, Dan Roodt, vanuit hul uiters bevoorregte posisies nogtans verkies om ‘n  minagtende houding teenoor die magloses, armes en hulle regte en behoeftes in te neem.