Archive for the ‘afrika’ Tag
Dorp
Op die balkon van ‘n woonstel bo die PEP-Stores staan ‘n maer wit ou en suig hard aan sy sigaret. Hy kyk na die besige toneeltjie onder hom. Dis warm. Papiere waai rond. Mense groet mekaar luid. Afrika musiek pomp uit die klomp taxis waar mense met hulle shopping inklim.
Die wit ou lyk nie of hy die beat vang nie.
Afrikaners en Darfoer (I)
In 2003 het ek, my vrou en ons baba aan ‘n optog in London teen die Darfoer slagting deelgeneem. Ons het naby die Foreign Office gewag vir almal om bymekaar te kom. Daar was ‘n paar van die London Pan Africanist gereelde ouens – Afrikane wat sosialistiese en Pan-Afrikaanse gebeure reel en bywoon, byvoorbeeld Nkrumah – aande, protes teen die Irak oorlog en betoog teen inmenging met Kuba. Daar was ‘n heel fotogeniese wit paartjie, wat toevallig ook ‘n uitstalling van hul skilderye en fotos van die Sudan wou bemark. Die stad was so besig, en ons was so min, dat ek gevrees het ons sou deur die verkeer beweeg sonder dat iemand agterkom daar is ‘n optog aan die gang.
Maar na ‘n lang wag, kom die busse van Manchester en Birmingham daar aan, met Justice and Equality Movement (JEM) en Sudan Liberation Movement (SLM) – mense, en ander wat van Darfoer af kom. Skielik is daar plakkate, dromme, lawaai, megafone, polisiebegeleiding ensomeer, en ons is nie meer onopsigtelik nie. Ons beweeg om die hoek, by die Foreign Office se terrein in, en maak ‘n helse kabaal. Een Foreign Office amptenaar loer deur die venster, en een of 2 stap by die gebou uit om ‘n middagtoebroodjie te gaan koop. Hulle is heeltemal gewoond aan die soort ding.
Na ‘n paar toesprake, en ‘n oorhandiging van ‘n dokument aan ‘n amptenaar, begin ons optog. Ons is so 200 mense, maar met die hulp van die polisiemotorfietse en dromme maak ons darem ‘n indruk, reken ek.
Die roete gaan verby die Sudanese ambassade, waar ons ‘n ekstra kabaal opskop, maar volgens die reels nie mog stop nie, en eindig toe by die Amerikaanse ambassade. En so volg die mense van Darfoer in die spore van hoeveel ander groepe wat uitkoms teen hul verdrukking hier in London kom soek het.
Daar is altyd iemand wat probeer om die Britte, en daarmee saam, wereld-opinie, aan hulle kant te kry. Van almal was die ANC seker die mees skouspelagtig suksesvol. Hulle het die die jongmense hier aan hul kant gekry, en baie optogte en nagwake gehou. In die 1980’s was daar permanent mense wat voor Suid-Afrika Huis protesteer het. Die ANC se oorwinning van die Britte se harte, en Afrikaners se eie verwerping van Apartheid was meer deurslagewend as enige gewapende stryd.
Nie lank na die optog het ek (die keer alleen) ook ‘n vergadering in London bygewoon. Daar was net een verteenwoordiger van Darfur. Verder was daar twee wit Australiers, ‘n paar mense van AFFORD (African Foundation for Development – ‘n groep Afrikane wat met besigheid Afrika wil laat vorder), en ook ‘n paar van die Pan Africanists. Ons bespreek wat kan nog gedoen word (bv miskien in die lyn van hulp). Een van die Pan Africanists (‘n Keniaan) staan toe op, en sê hy stel nie belang om voedselpakkies te maak nie – sy stryd is polities. Hy praat toe ‘n lang ruk oor hoe goedkoop Afrikane se lewens is, en stel voor ons hou ‘n permanente 24-uur per dag waak voor die Sudanese ambassade – net soos wat die ANC altyd gedoen het. My moed sak in my skoene – want ek bly nie eers in London nie, ons het ‘n baba, en ek sien dit gaan moeilik en duur wees om gereeld London toe reis, en daar voor die ambassade deur die nag te sit.
Die 2 Australiers praat toe – hulle is albei so rondom 50 – en albei veterane van baie aksies en optogte in die stryd teen ongeregtigheid. Hulle het ook aan anti-apartheid aksies deelgeneem, en hulle sê toe dat ons realisties moet begin, en nog mense moet betrek – dis nie so maklik om mense in ‘n permanente waak by die ambassade te kry nie. Daar word toe besluit ons sal Donderdagaand van 6 tot 8 voor die Ambassade gaan waak om ‘n begin te maak. Almal by die vergadering onderneem om nog mense vir die saak te werf.
Donderdag ry ons toe weer met die trein London toe, en daar daag ons by die ambassade op. Ons is so ‘n bietjie vroeg, maar ek sien alreeds ‘n probleem. Anders as Suid-Afrika Huis, wat by Travalgar Square in die hart van London is, is die Sudanese ambasade heel weggesteek, agter een van die koninging se wonings. Die straat is verlate, en die ambassade is ook verlate. Ons wag. Later daag die 2 Australiers op.
Ons wag nog steeds. ‘n Oos Europese skoonmaakster gaan by die ambassade in, en begin werk. Teen 8-uur is dit duidelik dat niemand anders gaan opdaag nie, veral nie die Keniaan wat permanent wou waak nie, en niemand het eers agtergekom wat ons doen nie.
Tiere en wolwe
Vandag het dit redelik hard gereen en terwyl ons ry se ek vir my driejarige seun nou reen dit katte en honde. Hy hou toe van die sêding, en sê toe ‘nou reen dit tiere en wolwe’. Ek dink toe by myself dat dit nooit tiere en wolwe reen hier in Engeland nie. En ek dink aan een dag in Bloemfontein toe dit so hard gereen het dat alle verkeer heeltemal moes stop – geen ruitveer kon voorbly nie – mens kon eenvoudig niks behalwe water sien nie. Tiere en wolwe sowaar. Die gode wat Afrika bliksem vir al haar sondes. Tien minute later het die son helder geskyn en alles was blink, vars en gereinig. Enorme stapels kumulus wolke het bo alles uitgetroon en ek het nederig gevoel.
Dis soveel makliker om ‘n ateis in Engeland te wees.
Wat is al die nonsens oor Sussie Wie?
Aan almal wat so gal braak oor Sussie Wie wil ek net sê ek hou van haar. Daar is iets nuuts aan die manier hoe sy boeremusiek, Afrikaans en Afrika musiek meng in Ring ka ting. Vorige pogings soos Johannes Kerkorrel was eintlik te ernstig.
Ring ka ting is baie speels en aangenaam, soos baie Afrika musiek eintlik is. Dit speel reguit met platvloersheid sonder om rerig te platvloers te wees- daarom is dit baie interessant, en baie Afrikaans!
Wanneer dit kom by produksie kwaliteit, kan goed wat nie so sterk staan op daardie gebied nie, ook suksesvol wees omdat dit oorspronlik is.
Die ouens wat geblog het oor hoe kak daardie video kamtig is, het waarskynlik ‘n CD met Wenners Wenners Wenners Wenners Wenners iewers in hulle huis. En daaraan is nie salf te smeer nie.
Vir Swys: Antropologie sal nie help om Mbeki te verstaan nie
Ek geniet Swys se goed op LitNet gewoonlik, maar vandag se skrywery: Die “Zim-sindroom” (Chris vd Heyde, Heinrich BZ, Coenie K) hinder my. Soos ‘n 19de eeuse Britse antropoloog raak hy wyshede kwyt oor ‘die Afrikaan’, bv:
‘Groepslojaliteit en -solidariteit moet verstaan word in terme van die Afrikaan se hele lewensbeskouing wat meer op die kollektiewe gerig is’
en
‘Dit laat mens wonder wat die Afrikaan se opvatting van menseregte is’
Met hierdie soort terminologie wil hy suggereer dat hy ‘n kenner is op die gebied van ‘die Afrikaan’. Maar ek wil Swys graag daarop wys dat niks van sy gewaande kennis van ‘die Afrikaan’ hom sal help om die komplekse figuur van President Mbeki te begryp nie. Mbeki se invloede is wyd – onder meer die siniese manupilasies van Whitehall. Baie ander skrywers, bv William Mervin Gumede en die blog http://someamongus.com poog werklik om die man te verstaan, en maak nie staat op amateur antropologie nie.
Hierdie opgeblase soort aanslag gee my aanstoot – hoe moet ‘n ‘Afrikaan’ nie daaroor voel nie? Dit pla my ook omdat ek as Afrikaner gedurig moet beleef hoe daar in Engels op soortgelyke manier gedurig opinies oor ‘die Afrikaner’ kwytgeraak word.
Laastens – Swys is eintlik goed ingelig – maar met hierdie woordkeuses klink hy amper soos daai oningeligde Oom wat verwag mens moet aan sy lippe hang wanneer hy sy welbekende wyshede oor swartmense begin kwytraak.
Afrika
‘We did not inherit Africa from our fathers but we have it on loan from our children.’
-Amish gesegde aangepas deur ‘n Ghanese vrou
Comments (4)
Comments (3)
Comments (2)