Archive for the ‘afrikaners’ Tag
Die wit rotte van Afrika
Hierdie benaming kom uit Eben Venter se boek Horrelpoot (wat ek nie kon klaar gelees kry nie). Dit kom elke keer in my gedagtes op as ek met ‘n sekere soort blanke te doen kry. En ek voel sleg daaroor dat ek so aan hulle (ons!) dink, want ek weet waar hulle vandaan kom, en ek wil daarby uitkom hoekom ek simpatie met hulle het.
Die soort blanke waarvan ek praat is nou nie die subtiele rassis nie, maar die soort wat nie hul haat en rassisme probeer wegsteek nie, en wat die kruste maniere vind om dit ten toon te stel. Hulle wyk vêr af van die naasteliefde en beskawende invloed van die Christendom, en gee eerder vrye teuels aan hulle haat.
Hulle aksies is ongelooflik dom, in die sin dat dit op geen manier kan lei na die bereiking van hulle veronderstelde doelwitte nie. Hulle bereik niks, behalwe om vyande vir hulself (en alle ander wit mense) te maak nie. Op geen manier kan die haatlike goed wat hulle op padtekens krap, die walglike blogs wat hulle begin, en die manier hoe hulle fisies dreigend en onaangenaam optree, byvoorbeeld deur met ‘n 4X4 spesiaal vinnig op swart voetgangers af te peil, hulle saak bevorder nie. Hulle maak nie eers vriende vir hulle saak onder hul eie mense nie, soos gesien kan word aan die manier hoe hulle probeer om ‘n vroulike Afrikaanse blogger te intimideer.
En hulle het ‘n obsessie oor seks met swartmense. Enigeen wat nie hulle haat vir swartmense deel nie, word op belaglike wyse beskuldig daarvan dat hy/sy seks met swartmense wil hê.
Hoe kom dit dat daar sulke mense is? Ek sal nie die gewone redes uitlaat nie, want ek betwyfel nie die waarheid van hierdie redes nie:
* Hulle kom uit ‘n patriargale en kolonialistiese denkstelsel, waar wit bo swart, en manlik bo vroulik gestel is.
* Hulle het ‘n settelaarsmentaliteit, dws hulle glo dat die plaaslike bevolking onderwerp en onder gehou moet word.
Maar ek dink nie hierdie redes is die volle prentjie nie, en ek wil nou my redes gee hoekom ek ook simpatie met hierdie mense het. Hulle is geteel as voetsoldate van Whiteness.
Soos ons Engelssprekende landgenote lief is om uit te wys, is die meeste van hierdie voetsoldate Afrikaans. Hulle Pa’s en Oupas was die polisiemanne, beamptes en mynkapteins wat die Apartheidstelsel toegepas het, die vuilwerk gedoen het, die houe uitgedeel het, terwyl die Engelse, as eienaars van die grootste deel van die ekonomie buite landbou, ‘n sagter houding kon inneem, en nog steeds kon baat by die verdukkende stelsel.
En mense maak deesdae graag asof daar nie iets soos ‘n Koue Oorlog was nie. Afrikaners was een van die groepe wat deur die ware magshebbers in Washington en London misbruik is om die vuilwerk te doen van die beveiliging van Westerse oorheersing van die Derde Wereld. Ja, hulle moes veral keer dat Suid-Afrika se myne – wat ‘n konstante stroom van inkomste aan Engelse elites (veral) genereer, in die kommuniste se hande val. En sommer probeer help om Angola en Mosambiek se rykdomme uit die kommuniste se hande te ruk, om dit aan Westerse kapitalisme beskikbaar te stel.
Afrikaners is eintlik grootgemaak vir hierdie rol – van kleins af baie gehoorsaam aan gesag, moenie gesag bevraagteken nie, en seuns is van van kleins af geleer om semi-militer te wees.
En toe is daar tussen die Britte, Engelse mynbase in SA, en die Engelsgesinde swartmense van die ANC skielik besluit hulle is moeg vir die Afrikaners. Die Engelse kon net so ‘n goeie deal met die ANC maak met betrekking tot die beveiliging en uitbreiding van Engelse belange in SA as wat hulle tussen 1902 en die 1980’s met die Afrikaners gehad het. Toe dit gebeur het, is hierdie voetsoldate se wereld omgekeer.
Skielik, in die nuwe Suid-Afrika, dra hulle (as ‘n klas van die Afrikaners) die meeste van die blaam, en is ook die mees kwesbaar in terme van werksverlies onder die nuwe omstandighede. Armoede is aan die toeneem onder hulle, en daar is die kwessie van chaos en bloedige misdaad in Suid-Afrika – iets waaraan almal maar uitgelewer is deur ‘n regering wat meer as ‘n dekade in ontkenning daaroor was, en eintlik nog steeds is.
En die Afrikaner elites het hulle tot ‘n groot mate in die steek gelaat. Baie ryk Afrikaners verengels, emigreer, of verpretensieus eerder as om hierdie mense te help om ‘n nuwe visie en geleenthede te vind.
Nie dat ek hierdie rassistiese voetsoldate heeltemal wil verskoon nie; mens is nog steeds moreel verantwoordelik vir jou dade. Maar as jy politieke aksies wil neem, moet jy darem dink wat jy wil bereik, en hoe jou aksies daartoe gaan bydra.
Nooit klaar met SA nie
Baie Afrikaanse mense sit nou in die buiteland – ons weet wat die redes daarvoor is. Dit lyk vir my daar is meer as een manier om ‘n ekspat te wees:
- Een soort mis goed soos blatjang, biltong of niknaks en gaan heeltyd omtrent net daaroor aan. As hulle net die regte soort goed te ete kan kry maak dit nie vir hulle saak dat Suid-Afrika besig is om agteruit te boer nie.
- ‘n Tweede soort het SA se stof van hulle voete afgeskud. In hul briewe aan SA koerante kan mens omtrent aanvoel hoe hulle hul lippe aflek daarvoor dat SA heeltemal moet faal. My persepsie is dat baie van hulle in Australie is.
- Maar wat van ekspats wat op ‘n positiewe manier met hul geboorteland wil omgaan? Hulle (ons) families en vriende woon tog daar! Afrikane in Europa en die VSA het ‘n lang geskiedenis daarvan om ‘n positiewe bydrae te probeer maak. Hulle het baie organisasies geskep wat hulle ten doel stel om dinge vir hul lande, of Afrika as geheel, te verbeter. Een voorbeeld is die African Foundation for Development, wat hulle ten doel stel om Afrika se diaspora in te span om welvaart en werk in Afrika te help skep. Ek het AFFORD se direkteur ontmoet – hy kom van Sierra Leone, ‘n land waar verskriklike dinge gebeur het. Maar eerder as om op die negatiewe te konsentreer, het hy alreeds baie positiewe dinge bereik vir sy land en Afrika as geheel.
Ek beskou laasgenoemde as die beste manier om ‘n ekspat te wees, en ek wens daar was meer organisasies wat spesifiek Afrikaners in die buiteland kan betrek.
Mag ‘n ekspat ‘n opinie oor SA hê?
Ek word soms gekonfronteer met stellings soos “Ja, maar jy sit veilig in die buiteland”, of “Dis maklik as jy in die buiteland is”. Ek dink ook dis baie maklik om van hier af te sit en skryf. Maar mens moet eerder vra of ‘n ekspat se bydaes nuttig of insiggewend is. En ‘n ekspat kan soms insigte kan hê wat hy nie sou gehad het as hy in SA gebly het nie. Maar ons moet ook, net soos enigeen wat nie wil nonsens praat nie, baie meer lees en luister as om van ons te laat hoor.
Ek raak die kluts kwyt
Ek wys deesdae graag Onverskrokke vir my seuntjie – dis so oulik gedoen, en meesleurend. Ek het eintlik nie bygehou met hoe Afrikaanse musiek ontwikkel het nie. As ek nou ‘n musieklys maak moet ek begin met Koos du Plessis, Gert Vlok Nel asook Laurika Rauch, veral ‘Die Gang’ en wanneer sy Ingrid Jonker se ‘Toemaar die donker man’ sing.
Ek kan ook nie sonder Miriam Makeba nie, al is ek een van daardie southern lions wat doodgemaak moet word. En ek het ‘n New Internationalist Rough Guide to South African Jazz waarvoor ek uiters lief is. Op daardie cd is ‘Thaba Bosio’ van Sipho Mabuse, en ‘Election day Serenade’ van Pops Mohamed, om maar net twee te noem. Die Maliese sanger Ali Farka Touré is verlede jaar oorlede. Ek het een van sy CDs (eintlike ‘n onwettige kopie) naby Ouagadougou se lughawe by ‘n smous gekoop. Dit was die bargain van ‘n leeftyd. Die Burkinabes sê die Maliers sien neer op hulle. Maar hulle kan ook nie sonder Ali Farka Touré klaarkom nie.
En ek het ‘n CD genaamd ‘the Music of Cosmos’. Hierdie cd bevat musiek wat Carl Sagan self gekies het, en dit raak my diep. Ek het dit die eerste keer op sy wonderlike televisiereeks gehoor, hoewel my ouers nie altyd seker was of ek vir Carl Sagan moet kyk nie. Ek het dit baie geluister as ek Wes gery het, die Noord Kaap in.
Ek het dit ook geluister toe ek saam met ‘n klomp geologie studente na Barkly pas en daardie dele is. Net so entjie bo die pas het ons op ‘n vulkaanpyp geklim en van daar die son laag sien hang. Daardie plek, die pas en die pad daarheen van Bloemfontein af is vir my wonderlik mooi. En so is alles wat op The Music of Cosmos is (behalwe miskien Vivaldi se Spring pas nie so lekker in nie). En die hoogste hoogtepunt van daardie CD is Stravinsky se “The Rite of Spring” – ek weet nie of ander orkeste ooit sal kan verbeter op hoe die London Symphony Orchestra dit daar speel nie.
Ek is ook mal oor Finlandia, maar as ek Britse pop soos “why does it always rain on me” hoor, wil ek sê – staak onmiddellik jou geteem! Gee my veel eerder Sally Nyolo – of selfs Sussie Wie se ‘Ring ka ting ting’ wat my half aan Sally se ‘Un Jour Au Village’ laat dink (maar Sally is eintlik meer gesofistikeerd waar Sussie laf is en laasgenoemde kan gerus los om die motorfietse so te ref).
Miskien is hier bo iewers ‘n lydraad vir Mhambi oor hoekom ek tot dusver nie daarin kon slaag om te verduidelik *hoe* mens ‘n tribal Afrikaner is nie.
Hoe om ‘detribalised’ te wees*
Natuurlik praat jy Engels met almal wat nie Afrikaans is nie – jy is mos darem nie nie ‘n taal – Nazi nie! Veral met swartmense want mens moet tog nie so neerbuigend teenoor swartmense wees om te dink hulle kan nie Engels praat nie.
Jy kry soms skaam vir jou volksgenote. Veral as dit by dinge soos “Poena is Koning” kom. Engelse hou van jou – jy is nes hulle – en soms laat hulle jou so goed voel daaroor dat jy so verstandig is om nie ‘n tribal Afrikaner te wees nie. Dalk beywer jy jou daarvoor om vir die Engelse te wys ‘ons is nie almal so nie’.
Jy haat niemand nie, en jy wens dat almal net in vrede kon saamleef. Eintlik sou almal in vrede kon saamleef as almal net alles soos jy ingesien het. Jy kan nie mooi verstaan hoekom hulle nie kan nie – dalk het hulle iewers te veel gely. En daarvoor moet ‘n mens ook begrip hê. As daar tog maar net meer gelykheid was.
Jy verstaan hoekom die Engelse voortdurend aangaan oor die Duitsers want jy hou self nie so baie van die Duitsers nie (maar jy hou van enige Duitser wat nie tribal is nie). Hoe kon die Nazi’s so aangaan teen die Jode? Die Duitsers (en ja, die Afrikaners ook) behoort eintlik meer versoenend te wees na alles wat hulle die wêreld aangedoen het.
Toe jy in Febrarie 2003 in London was, het jy ook teen die oorlog in Irak gemarch. Jy was trots om deel van 2 miljoen sulke goeie mense te wees wat teen oorlog is. Die Britse linkses daar het die pad aangedui. Hulle is werklik ‘n oulike klomp.
Toe kom jy later agter hulle stem weer vir Labour. En jy begin wonder hoe dit is dat 2 miljoen mense nie die einde van daardie Britse regering kon (wou?) opeis nie. Jy besef hulle het wel verkies dat Britanje Irak nie aanval nie, maar dit was net ‘n voorkeur. Hulle het verstaan dat dit om hulle eie voordeel gedoen is, en hulle het dit gou so aanvaar al was is dit met ‘n gebrom van ‘not in my name’. Jy begin verstaan dat die Britse linkses deel is van die Britse Ryk wat eintlik maar nog steeds bestaan.
As jy detribalised wil wees moet jy nog steeds deel van hulle wees want jy sien nie ‘n ander manier om detribalised te wees nie. As jy detribalised goedkeuring ontvang sal dit in Engels wees. En dan besef jy met ‘n skok: jy het eintlik die tribe van Milner, Kitchener en Blair gejoin.
*Vir Walton
Is ons dom en wreed?
‘n Paar jaar gelede het die dogter van ‘n ANC leier gekla dat Afrikaners “retarded” is. En Walton het geskryf oor een van die vieslike Afrikaanse blogs wat mens soms teekom (se maar niks van die manier hoe hy daaroor geskryf het nie). Is hierdie bloggers te dom om in te sien hoeveel vyande hulle vir ons maak? Soms hoop ek dit kom uit dat dit in werklikheid ons vyande is wat daardie blogs skryf amper soos die DA se vals briefskywers.
My skoonpa (‘n boer), kla soms oor ander boere wat hy soms mee te doen kry wat niks lees nie. “Hulle lees nie eers die Landbouweekblad nie”, sê hy graag. Hoe dom moet mens wees as dit jou nie pla dat jy niks weet nie? Hoe is dit moontlik dat die Afrikaner se projek om homself op te hef in die tyd toe ons politieke mag gehad het, so gefaal het dat sommiges ongeletterd is? Het daardie projek dalk niks verder as die stede en sommige dorpe gestrek nie, en was sommige plattelandse skole dalk soortgelyk aan “Bantu Education”?
Maar as dit tog maar net by domheid gebly het. Daar is nog wreedheid ook. Genadelose onmenslikheid, wat skynbaar sonder enige rede gepleeg word. Sommiges moor of rand tot ou swart mense en swart kinders aan. Dit lees ek alles in hierdie Sunday Times artikel. Boonop word hulle dan soms deur wit landroste beskerm en kom skotvry. Hoe dom moet ‘n landros wees wat dink hy help sy mense deur hulle misdade oor te sien?
Comments (9)
Comments (14)
Comments (9)