Archive for the ‘blankes’ Tag

Jou kind gaan net ‘n persoonlike verhouding met die Mall hê.

As ‘n ateis wil ek graag sê dat ek die gevoel van bevryding van die kerk soos wat Vlam hier beskryf ook ervaar het.  Tog respekteer ek die kerk want die Christelike kerk het die grondslag van die Westerse beskawing gelê, of ons dit nou wil erken of nie.  Ek dink dat feitlik elke morele vordering wat in die Weste gemaak is, se wortels in die Christendom lê.
Dinge soos eerlikheid en integriteit in die openbare en besigheidslewe, en dinge soos die beindiging van slawerny.  Die Kerk het verder ook die universiteite waar van die grootste wetenskaplike ondekkings gemaak is, begin, en sommige van die mooiste musiek en kuns wat bestaan, kom uit die Christelike tradisie.
So ek kan nie anders as om die kerk te respekteer nie.

Die een ding wat ek sukkel om te respekteer  (jammer hoor), is die “persoonlike verhouding met God” – mode.  Ek dink dit behels die volgende:
Jy (en ek bedoel nou nie enige iemand spesifiek nie) wil ‘n moderne verbruikerslewe ly, jy wil doen wat jy wil, geen pligte jeens die samelewing hê nie, en net   emosie-belaaide gesprekke met God in jou binnekamer hê, hoofsaaklik oor jou persoonlike behoeftes.
Of, as jy wel vrywillige aksies in die samelewing opneem, byvoorbeeld sendingwerk, gaan dit net oor hoe daardie aktiwiteite jou laat voel.   Die oomblik dat hierdie dinge jou nie meer goed laat voel nie, gaan jy dit los soos ‘n warm patat.
En op grond van die feit dat jy hierdie persoonlike gevoelsverhouding met God het, voel jy dat eendag wanneer jou moderne verbruikerslewe tot ‘n einde kom, jy probleemloos die hemel sal inseil want jy het mos geglo.  Ek dink hierdie soort Godsdiens se diepste aard en wese is ‘n ontkenning daarvan dat dit ‘n moerse probleem is om ‘n krasse verbruikerslewe te lewe ten aanskoue van mense wat nie eers ‘n dak oor hulle koppe het nie.

Wel, ek dink jou kinders gaan die oorbodigheid van jou persoonlike verhouding met God insien.  Jy is dalk die laaste Christen van jou familie – die een wat ‘n tradisie van ‘n duisend of meer jaar beindig, ten gunste van ‘n lewe in diens van die Mall.  Jou kinders gaan net die selfsug en selfbeheptheid van die moderne verbruikerslewe aanneem, en wegdoen met jou lui binnekamer-vroomheid.  En stadig gaan die selfsug van die verbruikerslewe alles wat standhoudend in die samelewing is, wegkalwe, tot mense mekaar oor besittings om die lewe bring.  (Of wag, in Suid-Afrika gebeur dit mos alreeds).

So ek wil jou graag uitdaag.  Kies die Christenskap van die kerk, of as dit nie jou ding is nie, word eerder ‘n eerlike ateis wat nadink oor die dilemmas van ons tyd.  Wat moet die  Christendom se plek neem in mense se morele raamwerk?   Daar moet wraggies iets beter wees as net  Englishness en ‘n verbruikerslewe.

Nota:  My standpunt is baie beinvloed deur Johann Rossouw se boek ‘n Rooi Z4 en ‘n Renaissance-kasteel - seker die insiggewendste Afrikaanse boek van ons tyd.   Hy is egter nie ‘n ateis nie, hy skryf uit ‘n  Christelike perspektief.

Die wit rotte van Afrika

Hierdie benaming kom uit Eben Venter se boek Horrelpoot (wat ek nie kon klaar gelees kry nie). Dit kom elke keer in my gedagtes op as ek met ‘n sekere soort blanke te doen kry. En ek voel sleg daaroor dat ek so aan hulle (ons!) dink, want ek weet waar hulle vandaan kom, en ek wil daarby uitkom hoekom ek simpatie met hulle het.

Die soort blanke waarvan ek praat is nou nie die subtiele rassis nie, maar die soort wat nie hul haat en rassisme probeer wegsteek nie, en wat die kruste maniere vind om dit ten toon te stel. Hulle wyk vêr af van die naasteliefde en beskawende invloed van die Christendom, en gee eerder vrye teuels aan hulle haat.

Hulle aksies is ongelooflik dom, in die sin dat dit op geen manier kan lei na die bereiking van hulle veronderstelde doelwitte nie. Hulle bereik niks, behalwe om vyande vir hulself (en alle ander wit mense) te maak nie. Op geen manier kan die haatlike goed wat hulle op padtekens krap, die walglike blogs wat hulle begin, en die manier hoe hulle fisies dreigend en onaangenaam optree, byvoorbeeld deur met ‘n 4X4 spesiaal vinnig op swart voetgangers af te peil, hulle saak bevorder nie. Hulle maak nie eers vriende vir hulle saak onder hul eie mense nie, soos gesien kan word aan die manier hoe hulle probeer om ‘n vroulike Afrikaanse blogger te intimideer.

En hulle het ‘n obsessie oor seks met swartmense. Enigeen wat nie hulle haat vir swartmense deel nie, word op belaglike wyse beskuldig daarvan dat hy/sy seks met swartmense wil hê.

Hoe kom dit dat daar sulke mense is? Ek sal nie die gewone redes uitlaat nie, want ek betwyfel nie die waarheid van hierdie redes nie:

* Hulle kom uit ‘n patriargale en kolonialistiese denkstelsel, waar wit bo swart, en manlik bo vroulik gestel is.
* Hulle het ‘n settelaarsmentaliteit, dws hulle glo dat die plaaslike bevolking onderwerp en onder gehou moet word.

Maar ek dink nie hierdie redes is die volle prentjie nie, en ek wil nou my redes gee hoekom ek ook simpatie met hierdie mense het. Hulle is geteel as voetsoldate van Whiteness.

Soos ons Engelssprekende landgenote lief is om uit te wys, is die meeste van hierdie voetsoldate Afrikaans. Hulle Pa’s en Oupas was die polisiemanne, beamptes en mynkapteins wat die Apartheidstelsel toegepas het, die vuilwerk gedoen het, die houe uitgedeel het, terwyl die Engelse, as eienaars van die grootste deel van die ekonomie buite landbou, ‘n sagter houding kon inneem, en nog steeds kon baat by die verdukkende stelsel.

En mense maak deesdae graag asof daar nie iets soos ‘n Koue Oorlog was nie. Afrikaners was een van die groepe wat deur die ware magshebbers in Washington en London misbruik is om die vuilwerk te doen van die beveiliging van Westerse oorheersing van die Derde Wereld. Ja, hulle moes veral keer dat Suid-Afrika se myne – wat ‘n konstante stroom van inkomste aan Engelse elites (veral) genereer, in die kommuniste se hande val. En sommer probeer help om Angola en Mosambiek se rykdomme uit die kommuniste se hande te ruk, om dit aan Westerse kapitalisme beskikbaar te stel.

Afrikaners is eintlik grootgemaak vir hierdie rol – van kleins af baie gehoorsaam aan gesag, moenie gesag bevraagteken nie, en seuns is van van kleins af geleer om semi-militer te wees.

En toe is daar tussen die Britte, Engelse mynbase in SA, en die Engelsgesinde swartmense van die ANC skielik besluit hulle is moeg vir die Afrikaners. Die Engelse kon net so ‘n goeie deal met die ANC maak met betrekking tot die beveiliging en uitbreiding van Engelse belange in SA as wat hulle tussen 1902 en die 1980’s met die Afrikaners gehad het. Toe dit gebeur het, is hierdie voetsoldate se wereld omgekeer.

Skielik, in die nuwe Suid-Afrika, dra hulle (as ‘n klas van die Afrikaners) die meeste van die blaam, en is ook die mees kwesbaar in terme van werksverlies onder die nuwe omstandighede. Armoede is aan die toeneem onder hulle, en daar is die kwessie van chaos en bloedige misdaad in Suid-Afrika – iets waaraan almal maar uitgelewer is deur ‘n regering wat meer as ‘n dekade in ontkenning daaroor was, en eintlik nog steeds is.

En die Afrikaner elites het hulle tot ‘n groot mate in die steek gelaat. Baie ryk Afrikaners verengels, emigreer, of verpretensieus eerder as om hierdie mense te help om ‘n nuwe visie en geleenthede te vind.

Nie dat ek hierdie rassistiese voetsoldate heeltemal wil verskoon nie; mens is nog steeds moreel verantwoordelik vir jou dade. Maar as jy politieke aksies wil neem, moet jy darem dink wat jy wil bereik, en hoe jou aksies daartoe gaan bydra.

Wat presies is ‘n blanke?

Voor en tydens die Anglo-Boereoorlog het Britte en Engelssprekende Suid-Afrikaners min of meer ewe min van Afrikaners en swart mense gedink.  Hierdie minagting het uiting gevind in dinge soos die hongersnood waarin 50 000 Xhosas gesterf het nadat Brittanje hul grond afgeneem het in die 1850s, die minagting vir die bestaansreg van die Boererepublike nadat goud ondek is, en die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog waartydens in die orde van 27 000 Afrikaner vroue en kinders gesterf het.

Ondanks die feit dat Afrikaners geweet het hoe dit is om so geminag te word, het ons ook dieselfde minagting as die Britte teenoor swart mense gehad in daardie tyd.   Ons het ons Britse vyande eerder bewonder en nageboots as om hulle te kritiseer.  Ons het as’t ware aspirasies gehad om ons armoede en ellendigheid van daardie tyd agter te laat, en eerder ryk en belangrik te word soos die Britte.

Na die einde van die Boereoorlog het Churchill en Smuts vriende geword, en Churchill het as Britse parlementslid en as “Under-Secretary of State for the Colonies” die Afrikaner aspirasies hierbo genoem, gesteun.  En so het die blanke unie van Suid-Afrika onstaan. Afrikaners kon nou tesame met Engelse oor swartmense heers.  Die Engelse sou veral die belangrike posisies beklee in die regering en het die sakewereld oorheers, maar Afrikaners wat nie geboer het nie, kon polisiemanne, spoorwegwerkers en stasiemeesters word.  Afrikaners wat goed was met Engels, kon selfs  meeding om hoë posisies in die staat.

Afrikaner nasionalisme het nie berus daarby om net van derderangse burgers na tweederange burgers te vorder nie, en later het die Nasionale party dit reggekry om Afrikaners te laat vorder tot gelykes van die Engelse in die blanke staat, om die Britse monargie te verwerp en Suid-Afrika ‘n republiek te laat word.  Vir Afrikaners was dit vordering, dit het die Engelse meestal irriteer, en vir swartmense was dit slegte nuus, want die Nasionale party regering het sommige van die bietjie regte wat hulle onder Smuts en die Engelse gehad het, weggeneem.

Maar Afrikaners het nou ware blankes geword – ryk, belangrik, en veel beter daaraan toe as swartmense.  So blank het ons geword, dat ons selfs ons eie bloedfamilie, geloofs- en taalgenote, die bruin mense se regte weggeneem het.

Ondanks die feit dat Afrikaner nasionalisme die Engelse irriteer het, en Engelse bevoorregting in baie gebiede, veral die staat, verminder of selfs heeltemal beeindig het, het die Engelse (ons “mede-blankes”) asook die Britse regering in die reel en vir die grootste deel van sy bestaan,  die blanke apartheidstaat gesteun. Die hoofrede hiervoor was dat swart bevrydingsbewegings in die res van Afrika vir die Britte (en ander Europese koloniale magte), baie probleme gegee het, en vir Engelse was die blanke staat dus ‘n beskerming daarteen.

Baie van ons “mede-blankes” het selfs ingekoop in simbole  soos die Oranje-Blanje-Blou, en die meeste het diensplig gedoen om die blanke staat militêr te beveilig.  In ruil het Afrikaners ook van die Engelse begin hou, en Nasionale Pers het met tydskrifte soos Huisgenoot spesiale moeite gedoen om Afrikaners te bekeer van ons Republikeinse ideale, en eerder ‘n bewondering vir die Britse koningshuis aan te leer.

***

So dis basies ‘n kort, vereenvoudige geskiedenis van wat dit beteken om ‘n blanke te wees en hoe Afrikaners blankes geword het.  Blankheid is ‘n kunsmatige identiteit wat Afrikaners en Engelse tussen 1904 en 1994 in stand gehou het, en ek beskou dit nie as iets om op trots te wees nie.

‘n Blanke vandag, is iemand wat ondanks hierdie vergrype nogtans aan die blanke identiteit vasklou.

Edit: Die volgende paragraaf is verander om ‘n kwetsende verwysing na ‘n spesifieke persoon te verwyder:

Blankes is ook geneig tot  selfbejammering, om hul probleme vergelykbaar te sien met ander wie se lyding objektief gesproke veel erger is.  En om, wanneer armes of swart mense se lyding genoem word, te wil kompeteer daarvoor dat hulle probleme eerder bespreek moet word.

Gee my eerder ‘n Afrikaner of ‘n Boer as ‘n blanke.

Godsdiens vlieg jou nie in geboue vas nie

Die London atheist bus campaign (of in werklikheid eintlik die Bus slogan generator) het een slogan wat sê:  “Science flies you to the moon, religion flies you into buildings.”  Dit het ek op Michael Meadon se blog gesien.

Die redes wat Osama bin Laden gegee het oor hoekom die Wêreldhandelsentrum aangeval is, het gehandel oor die verdrukking van die Palestyne, asook die Amerikaanse en Britse steun aan korrupte en diktatoriale monargieë in die Midde-Ooste (Egipte en Saudi-Arabie veral).   Hoewel sy redes geklee was in Islamitiese terme soos fatwa, is die redes vir die aanval sonder enige twyfel polities, nie godsdienstig nie.

Kan dit wees dat diegene wat so sanik oor godsdiens (byvoorbeeld Michael Meadon) nie bewus is van die politieke redes vir die aanval nie?  Ek dink dit moet ‘n doelbewuste en leuenagtige soort onbewustheid wees, gebasseer op steun aan die Anglo-Amerikaanse neokoloniale praktyke in die Midde-Ooste.