Vir Swys: Antropologie sal nie help om Mbeki te verstaan nie

Ek geniet Swys se goed op LitNet gewoonlik, maar vandag se skrywery: Die “Zim-sindroom” (Chris vd Heyde, Heinrich BZ, Coenie K) hinder my. Soos ‘n 19de eeuse Britse antropoloog raak hy wyshede kwyt oor ‘die Afrikaan’, bv:

‘Groepslojaliteit en -solidariteit moet verstaan word in terme van die Afrikaan se hele lewensbeskouing wat meer op die kollektiewe gerig is’
en
‘Dit laat mens wonder wat die Afrikaan se opvatting van menseregte is’

Met hierdie soort terminologie wil hy suggereer dat hy ‘n kenner is op die gebied van ‘die Afrikaan’. Maar ek wil Swys graag daarop wys dat niks van sy gewaande kennis van ‘die Afrikaan’ hom sal help om die komplekse figuur van President Mbeki te begryp nie. Mbeki se invloede is wyd – onder meer die siniese manupilasies van Whitehall. Baie ander skrywers, bv William Mervin Gumede en die blog http://someamongus.com poog werklik om die man te verstaan, en maak nie staat op amateur antropologie nie.

Hierdie opgeblase soort aanslag gee my aanstoot – hoe moet ‘n ‘Afrikaan’ nie daaroor voel nie? Dit pla my ook omdat ek as Afrikaner gedurig moet beleef hoe daar in Engels op soortgelyke manier gedurig opinies oor ‘die Afrikaner’ kwytgeraak word.

Laastens – Swys is eintlik goed ingelig – maar met hierdie woordkeuses klink hy amper soos daai oningeligde Oom wat verwag mens moet aan sy lippe hang wanneer hy sy welbekende wyshede oor swartmense begin kwytraak.

This entry was posted in Ongeklassifiseerd and tagged , , . Bookmark the permalink.

6 Responses to Vir Swys: Antropologie sal nie help om Mbeki te verstaan nie

  1. boerinballingskap sê:

    Ek dink ek verskil van jou perspektief op Mbeki. Kan jy dalk uitbrei oor die “siniese manipulasies van Whitehall” (VK regering)?
    Mbeki is miskien kompleks en ek glo hy’s intelligent, maar baie van sy beleidsrigtings, opinies en keuses van regeringsministers, laat veel te wense oor. Ek glo hy is ‘n idealis en koester soms illusies wat nie altyd in voeling is met real-politiek nie. Oor Zim kan ek net een ding noem: Kleur en struggle-geskiedenis is ‘n bepalende faktor. As Mugabe wit was, sou Mbeki (en ander Afrika-leiers)al lankal fermer van hulle laat hoor het.

  2. alleman sê:

    Ek dink ook Mbeki se beleidsrigtings laat veel te wense oor. Maar ek meen die gemiddelde Afrikaner trap klei wanneer hy probeer verklarings soek vir Mbeki se keuses. Ek stem ook saam (soos seker almal) dat kleur en struggle-geskiedenis bepalend oor Zim is. Maar Mbeki is ingewikkelder as wat die meeste Afrikaners wil probeer verstaan.

    Oor die VK sal ek miskien later weer skryf. Ek woon al te lank hier (meer as 10 jaar).

  3. alleman sê:

    Swys het my so geantwoord (hierdie is onder meer ‘n eksperiment oor hoe bloggers met LitNetters kan kommunikeer):

    Allemintag Alleman!

    en ek het weer soos volg reageer:
    Vir Swys – hoe om harder te probeer om Mbeki te verstaan:

    My brief het probeer sê dat Mbeki ‘n moeilike kalant is om te verstaan, en dat spesifiek Afrikaners ‘n slegte en lui gewoonte het om idees wat ons oor swartmense het op Mbeki van toepassing te maak. Ander (Engelse) waarnemers vaar na my mening beter, want hulle konsentreer baie harder om die individu, en die organisasie (ANC) en die politieke kragte wat op hulle inwerk, te verstaan.

    Idees oor kommunale lewenswyse, ubuntu ens is dalk soms nuttig om ‘n gewone swartmens te verstaan, maar wanneer dit by die ANC-elite kom, moet mens eerder idees soos manipulasie, identiteitspolitiek, magstryd, magswellus en die gewone oneerlikheid van politici wêreldwyd gebruik om te verstaan wat aangaan. Die ANC-elite is nie soos gewone swartmense nie – hulle is na my mening meer soos Britte, en Londen is waar baie van hulle ook gevorm is. Idees oor mag, ateïsme, die ontwikkelingstaat, sosiale manipulasie, vinnig ryk word en ‘n begrip van die Britse samelewing, help my meer om die ANC-elite te verstaan as idees oor Afrika-religieë, Ubuntu, kommunale lewenswyse of swartmense in die algemeen.

    Ek voel dat een rede hoekom ons Afrikaners soms sukkel om aan te pas in die NSA, is dat ons nie in staat is om te onderskei tussen swartmense en die ANC-elite nie, en eenvoudig nie eens probeer om lg in eie reg te verstaan nie.

    ‘n Stelling soos ‘Dit laat mens wonder wat die Afrikaan se opvatting van menseregte is,’ is bv ‘n veralgemening van Mbeki se dinge na swartmense in die algemeen, en is onregverdig en onakkuraat.

    Ons mense is te maklik tevrede met sinne oor die ANC wat begin met:

    ‘Die Afrikaan … ‘,
    ‘Jou Xhosa is …’

    Mens weet sommer watter soort veralgemenings hierop gaan volg.

    Maar as iemand byvoorbeeld sê dat Mbeki nie ‘n rassis is nie, maar weet hoe om die rassekaart te speel, dan maak baie dinge skielik baie meer sin – vir my in elk geval.

  4. boerinballingskap sê:

    Ek verstaan die punt wat jy probeer maak. Iemand soos William Gumede is byvoorbeeld iemand wat in staat is om baie goeie evaluasies tov Mbeki te maak. Ek stem saam dat mens nie moet oor-vereenvoudig nie. Ek glo egter wel dat ras en etnisiteit ‘n belangrike plek beklee in Mbeki se denkwyses. Ek glo hy is soms ‘n groter Afrikanis as wat die PAC ooit droom om te kan wees. Uit my (subjektiewe)perspektief is hy (en ek glo hy sien homself ook so) ‘n eksponent van Afrika-nasionalisme.

    Groetnis, BiB

  5. alleman sê:

    Ek het nie juis ‘n probleem met die idees van Afrika-nasionalisme nie. Die probleem met Mbeki is die manier hoe hy soms ons daarby in- of uitsluit. Bv in sy ‘I am an African’ – toespraak noem hy die Afrikaner so:

    “I am the grandchild who lays fresh flowers on the Boer graves at St Helena and the Bahamas, who sees in the mind’s eye and suffers the suffering of a simple peasant folk, death, concentration camps, destroyed homesteads, a dream in ruins”

    So ‘n mens is gedurig onseker waar jy met hom staan – ook omdat hy nie juis ‘n kommunikeerder is nie. Mens moet eintlik sy blog lees.

    Wat ras betref, dit sou nie reg wees as Mbeki nie aandag gegee het aan ras-wanbalanse nie. Wat daaromtrent gedoen word is oop vir debat, maar dis nie sommer net om ons te pynig dat hy dit doen nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s