Afrikaners en Darfoer (I)

In 2003 het ek, my vrou en ons baba aan ‘n optog in London teen die Darfoer slagting deelgeneem.  Ons het naby die Foreign Office gewag vir almal om bymekaar te kom.  Daar was ‘n paar van die London Pan Africanist gereelde ouens – Afrikane wat sosialistiese en Pan-Afrikaanse gebeure reel en bywoon, byvoorbeeld Nkrumah – aande, protes teen die Irak oorlog en betoog teen inmenging met Kuba.  Daar was ‘n heel fotogeniese wit paartjie, wat toevallig ook ‘n uitstalling van hul skilderye en fotos van die Sudan wou bemark.   Die stad was so besig, en ons was so min, dat ek gevrees het ons sou deur die verkeer beweeg sonder dat iemand agterkom daar is ‘n optog aan die gang.
Maar na ‘n lang wag, kom die busse van Manchester en Birmingham daar aan, met Justice and Equality Movement (JEM) en Sudan Liberation Movement (SLM) – mense, en ander wat van Darfoer af kom.  Skielik is daar plakkate, dromme, lawaai, megafone, polisiebegeleiding ensomeer, en ons is nie meer onopsigtelik nie.  Ons beweeg om die hoek, by die Foreign Office se terrein in, en maak ‘n helse kabaal.   Een Foreign Office amptenaar loer deur die venster, en een of 2 stap by die gebou uit om ‘n middagtoebroodjie te gaan koop.  Hulle is heeltemal gewoond aan die soort ding.

Na ‘n paar toesprake, en ‘n oorhandiging van ‘n dokument aan ‘n amptenaar, begin ons optog.  Ons is so 200 mense, maar met die hulp van die polisiemotorfietse en dromme maak ons darem ‘n indruk, reken ek.
Die roete gaan verby die Sudanese ambassade, waar ons ‘n ekstra kabaal opskop, maar volgens die reels nie mog stop nie, en eindig toe by die Amerikaanse ambassade.   En so volg die mense van Darfoer in die spore van hoeveel ander groepe wat uitkoms teen hul verdrukking hier in London kom soek het.
Daar is altyd iemand wat probeer om die Britte, en daarmee saam, wereld-opinie, aan hulle kant te kry.  Van almal was die ANC seker die mees skouspelagtig suksesvol.  Hulle het die die jongmense hier aan hul kant gekry, en baie optogte en nagwake gehou.  In die 1980’s was daar permanent mense wat voor Suid-Afrika Huis protesteer het.   Die ANC se oorwinning van die Britte se harte, en Afrikaners se eie verwerping van Apartheid was meer deurslagewend as enige gewapende stryd.

Nie lank na die optog het ek (die keer alleen) ook ‘n vergadering in London bygewoon.  Daar was net een verteenwoordiger van Darfur.   Verder was daar twee wit Australiers, ‘n paar mense van AFFORD (African Foundation for Development – ‘n groep Afrikane wat met besigheid Afrika wil laat vorder), en ook ‘n paar van die Pan Africanists.  Ons bespreek wat kan nog gedoen word (bv miskien in die lyn van hulp).  Een van die Pan Africanists (‘n Keniaan) staan toe op, en sê hy stel nie belang om voedselpakkies te maak nie – sy stryd is polities.  Hy praat toe ‘n lang ruk oor hoe goedkoop Afrikane se lewens is, en stel voor ons hou ‘n permanente 24-uur per dag waak voor die Sudanese ambassade – net soos wat die ANC altyd gedoen het.  My moed sak in my skoene – want ek bly nie eers in London nie, ons het ‘n baba, en ek sien dit gaan moeilik en duur wees om gereeld London toe reis, en daar voor die ambassade deur die nag te sit.

Die 2 Australiers praat toe – hulle is albei so rondom 50 – en albei veterane van baie aksies en optogte in die stryd teen ongeregtigheid.  Hulle het ook aan anti-apartheid aksies deelgeneem, en hulle sê toe dat ons realisties moet begin, en nog mense moet betrek – dis nie so maklik om mense in ‘n permanente waak by die ambassade te kry nie.  Daar word toe besluit ons sal Donderdagaand van 6 tot 8 voor die Ambassade gaan waak om ‘n begin te maak.  Almal by die vergadering onderneem om nog mense vir die saak te werf.

Donderdag ry ons toe weer met die trein London toe, en daar daag ons by die ambassade op.  Ons is so ‘n bietjie vroeg, maar ek sien alreeds ‘n probleem.  Anders as Suid-Afrika Huis, wat by Travalgar Square in die hart van London is, is die Sudanese ambasade heel weggesteek, agter een van die koninging se wonings.  Die straat is verlate, en die ambassade is ook verlate.  Ons wag.  Later daag die 2 Australiers op.
Ons wag nog steeds.  ‘n Oos Europese skoonmaakster gaan by die ambassade in, en begin werk.  Teen 8-uur is dit duidelik dat niemand anders gaan opdaag nie, veral nie die Keniaan wat permanent wou waak nie, en niemand het eers agtergekom wat ons doen nie.

This entry was posted in Ongeklassifiseerd and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.

3 Responses to Afrikaners en Darfoer (I)

  1. Ek dink daar is baie frustrasie oor Darfoer, omdat daar nie so ‘n goedgeorganiseerde beweging is, soos in SA se geval nie. Daar is ook weinig wat aan die Soedanese regering gedoen kan word, aangesien China die regering steun en meeste van Soedan se olie koop.

    Afrika sal moet begin verantwoordelikheid neem vir probleme op die vasteland, selfs al is dit net om korrupte regerings skerper te kritiseer. Selfs net dit sal beter wees as die huidige omstandighede.

  2. Daar se George dit toe, net voor ek vir jou wou voorstel dat julle volgende keer spesifiek die Chinese ambassade moet teiken. Die Chinese doen GOEIE besigheid in Afrika en hulle voel VERE (met ‘n hoofletter F!) vir menseregte.

  3. alleman sê:

    Ek is nie meer by dit betrokke nie – hierdie was eintlik ‘n soort ‘op moedverloor se vlakte’ – stuk. En om te wys dat die mense van Darfoer vanselfsprekend vêr meer toewyding het as die Afrika-solidariteit-groep, bv die Keniaan en ekself.

    Ek stem saam dat die Sjinese geteiken moet word oor Darfoer, maar op ‘n ander vlak is ek eintlik opgewonde oor hul betrokkenheid in Afrika. Hulle kom nie met die paternalisme en helperigheid van die Britte nie, maar soek openlik hul eie belang. Dit voel vir my dit gee aan Afrikane die kans om die rol van gekoloniseerdes wat maar altyd weer na Brittanje en Frankryk moet kyk, af te skud en die rol van gelykes te begin inneem.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s