‘n Lekker lewe sonder Eskom of die regering

My skoonpa(nou 80), het nooit in sy lewe Eskom of Evkom krag gehad nie.   Hy het sy plaas gekoop met geld wat hy as mynwerker verdien het, en het ‘n liefde vir wetenskap en tegnologie. Hy het sterk opinies oor dinge, en kla graag oor Eskom-boere wat so maklik bankrot speel – (dis nou lank voor die huidige Eskom sage),  rekenaar- boere (boere wat rekenaar sagteware gebruik om hul boerdery te beplan, en dan ook maar bankrot speel),  en staatshulp.  Hy wil niks met die staat (ou of nuwe SA) te doen hê nie, en het ook nooit droogtehulp aanvaar nie.  Hy het selfs probeer om ander boere te oortuig om nie hul diere se brandmerke by die owerhede te registreer, toe daar so ‘n projek was nie (“want mens moenie aan hulle ‘n houvas oor jou gee nie”).  Hy het ook geen werkers nie – op 80 doen hy nog al die werk self, hoewel sy seuns en skoonseuns se kragte wel ingespan word wanneer hulle daar kuier.

Ek het besluit om iets oor sy energie opsies, en die langtermyn volhoubaarheid daarvan, te skryf ingeval iemand dit nuttig vind.
warmwater.jpg

Hierdie sonverwarmings eenheid het hy self gebou.  Dit is swart plastiek waterpype,  in ‘n swart kas met ‘n deursigtige plastiek plaat voor, en dit verskaf warm water in die krane vir skottelgoed, hande was en bad.  Net een of twee mense per aand kan bad -as ons daar is, kom ons meesal in die swemdam skoon (glad nie ‘n probleem in die somer nie!).  Hierdie is die tweede inkarnasie van die idee – die eerste een het baie jare gewerk, maar het mettertyd begin bars, afdop en skeeftrek weens die son.

Windkrag

‘n Wind-turbine of windlaaier het so 8 jaar lank bo-op  hierdie windpomp se staander gewerk, en meeste dae heelwat elektrisiteit opgewek.  Die elektrisiteit is dan in ‘n stel batterye opgegaar vir die aande.  In die dag is hierdie elektrisiteit ook gebruik om die plaas-vrieskas koud te kry. (‘n Plaas vrieskas is ‘n baie groot kis-vrieskas wat goed geisoleer is om baie lank sonder elektrisiteit te kan koud bly) .  Maar die windlaaier is op die ou end deur hael stukkend geslaan, (of so geslaan dat hy as gevolg van duike in sy lemme so vibreer het dat hy gebreek het).

Die windlaaier was ook redelik raserig, want hy het bitter vinnig gedraai as die wind sterk waai. Myns insiens was dit ‘n goeie tegnologie – en heel waarskynlik is vandag se modelle stiller en meer betroubaar.   Dit is seker moontlik om ‘n plaat bo op te sit wat die hael kan keer, maar daardie plaat sal baie stewig moet sit.

My skoonpa het die afgelope jaar of wat ‘n sonpaneel in plaas van die windlaaier:

sonkrag

Die sonpaneel doen nou dieselfde werk as wat die windlaaier gedoen het – laai die batterye, maar is seker ook kwesbaar vir hael.

batterye.jpg

Die minder aangename deel van sonkrag.  Die batterye is groot, duur en morsig, en word buite onder ‘n afdak aangehou.   Die nuutste stel is darem beter as die voriges.  Hulle verskaf ook elektrisiteit aan ‘n ‘jakalsproef’ draad wat gelektrifiseer is, en rondom die skaapkampe gaan.  Hoewel die gelektrifiseerde draad jou ‘n allemintige skok gee as jy daaraan raak, gebruik dit eintlik baie min elektrisiteit.

Daar is ook ‘n dieselenjin, maar die word net enkele kere per jaar gebruik, byvoorbeeld wanneer daar heelwat besoekers is, of wanneer elektriese masjiene soos die draaibank gebruik word.

sonoond

Die sonoond is ideaal vir kookkos – mits dit middagete is.

gas.jpg

Ander kos en kookwater word deur die gastoof verhit.  Daar is ook ‘n elektriese stofie (so groot soos ‘n mikrogolf) waarmee brood gebak word (met ‘n gisplantjie).

windpomp

Windpompe: ‘n Tegnologie wat homself oor en oor bewys het.  Daar is natuurlik heelwat windpompe op die plaas – ‘n natuurlike manier om water uit die grond te kry met baie min moeite of onderhoud (as die ding eers in plek is.)  Ondanks die baie voordele van ‘n windpomp, gebruik baie boere deesdae blykbaar eerder dompelpompe – wat minder betroubaar is,  elektrisiteit nodig het, en boonop maklik (en dikwels) gesteel word.   My skoonpa het ‘n baie lae opinie van dompelpompe, en kla graag oor die boere wat vir sulke idees val.

reenwater.jpg

Reenwater word van die dak af opgevang vir wasgoed, want die grondwater is “hard” – bedoelende die kalk in die water is ‘n probleem wanneer klere gewas word.

This entry was posted in afrikaners, suid-afrika and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

11 Responses to ‘n Lekker lewe sonder Eskom of die regering

  1. mykopop sê:

    Dis hoe ek ook eendag graag wil lewe. My ouers woon nie permanent op die plaas nie, maar met sonpanele en ‘n windlaaier is daar genoeg krag vir meer as een gesin, of wat nie met krag gedoen kan word nie, word met gas gedoen. Bad/strortwater word met ‘n “donkie” warmgemaak – almal kan bad of stort.

    Net jammer dat mens nie van die immerstygende belastings kan wegkom nie – hulle het maar ‘n houvas op jou!

  2. machiel sê:

    Petjie af vir hierdie oom!

    Jarre gelede moes die Hollanders “windbelasting” betaal om hulle windmeule draaiend te hou. Later het hulle ook van hulle vensters toegemessel, omdat hulle belasting moes betaal vir alle vensters wat hulle gehad het. Maar wag, laat ek stilbly, voor ek die verkeerde mense idees gee…

  3. Pingback: Wikipedia « alleman

  4. Son sê:

    Wens ek kan ook so leef🙂

  5. kanwilsal sê:

    Jou Skoonpa is duidelik n wyse man, as almal van sy geslag maar so geredeneer het. Ek is beindruk, en dit gebeur min.

  6. Maryna sê:

    So lekker om jou post te lees! Dit kon omtrent net sowel my skoonpa gewees het waarvan jy praat. Hy ‘boer’ op 70 nog self op sy stukkie hemel op aarde en is nooit sonder ‘n plan nie.

  7. Johann sê:

    Ek het groot geword op my Oupa se plaas in die Reitz distrik. Daar was glad nie krag nie en ons moes vuur in die donkie maak vir warm water. ~n Windpomp het die water langs die huis gepomp en die oorloop het in die dam langs die huis ingeloop en weer in krippe in vir die kalwers wat moes drink. Ek het Matriek houtwerk tekeninge gedoen in die parafien lamplig.So normaal soos die elektriese ligte nou. Daar was nie eers `n krag opwekker nie. Ons het goed groot geword. Nou moet almal krag hê of hulle is onderd druk .Nonsens , dit was die lekkerste tyd van my lewe. Die stoof was `n ou Union koolstoof wat ons met mieliestronke heeldag op temp gehou het. In die winter was dit so lekker warm in daardie huis. Nou is daar krag , en my lewe is nooit weer dieselfde nie. Hoera vir `n “Donkie” en parafien lampe.

  8. seegogga sê:

    Goeie skoonpa! Jy het sekerlik ‘n spesiale vrou.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s