Een saak op ‘n slag

Ek glo aan een onderwerp op ‘n slag, maar wil nogtans nie sekere kwessies wat mense genoem het probeer systap nie. Daarom probeer ek kortliks iets oor al die ander dinge sê wat mense soos DSG en Da Mario aangeroer het.

Oor swart rassisme
Ek bekommer my oor swart rassisme, misdaad en al daardie dinge, en ek het opinies daaroor. Maar ek weier om daardie saak nou (of in ‘n stuk oor wit rassisme) op te neem, want om dit nou te doen is om die kwessie van wit rassisme te systap. Dis hoekom ek in een saak op ‘n slag glo, want dis al hoe mens dalk iets kan oplos.

“Is dit werklik rassisme wanneer jy nie bereid is om ‘n koshuiskamer te deel met iemand wie se kultuur, gebruike en dies meer hemelsbreed van jou eie verskil?”
Dit is nie nodig om kamers te deel as iemand nie wil nie. Volgens prof Frederick Fourie: “’n koshuis is nie ’n huis nie, dis ’n openbare instelling. Jou kamer is jou huis.” Dis waar vrye assosiasie van toepassing is.” En dis nie net die rektor wat so sê nie – die land se grondwet verskans die reg op vrye assosiasie.

Oor ‘moet integreer’
My ommeswaai oor integrasie is deels omdat ek daarin ‘n geleentheid sien om die idee van koshuistradisies heeltemal te beeindig, want anders as baie ander mooi en goeie dinge wat op die KOVSIE-kampus aangaan, sien ek geen waarde in die belaglike tradisies van huisvergaderings en ontgroening nie.
Ek weet goed dat wat begin met integrasie eindig in oorname en verengelsing – en ek het nie noodwendig ‘n oplossing vir daardie dilemma nie. Maar ons moet die swart mense van die land leer ken om met hulle te kan saamwerk- en as die universiteit nie die plek is nie, waar dan?

Oor Irvin Khoza se verwysing na “kaffers”.
‘n Mens kan hard en reguit met jou eie mense praat want hulle verstaan jy haat hulle nie. Maar wanneer jy met ‘n ander nasie praat is wedersydse begrip baie moeilik om te bewerkstellig en daarom is dit logies om sagter taal te gebruik. Daarom mag mnr Khoza (wat my betref) iemand ‘n kaffer noem en ek mag nie. Ek het vrede daarmee.

Oor die Forum of Black Journalists wat wit joernaliste nie by Zuma wou toelaat nie
As dit maar al soort soort swart rassisme was. Ek is skaars seker of ek dit as rassisme wil beskou. Miskien is dit maar net vryheid van assosiasie.

Oor welvaart, arrogansie en rassisme
Dit is walglik wanneer iemand wat ryk en vooraanstaande in die samelewing is, gemeen of wreed teenoor iemand wat ‘n lae status het, optree. Met voorreg kom verantwoordelikheid. Ek het aangegaan oor daardie studente se bevoorregte posisie, want hul bevoorregting bo die swart werkers maak hul optrede soveel meer walglik. Daarmee probeer ek nie sê (soos DSG dit gestel het: “kom ons gee sommer die wit studente se ouers se plase, huise en besighede ook weg” nie. Ek registreer net my walging.

Oor jammer sê
Jammer sê namens daardie studente, of oor apartheid of oor wat ook al, is nie wat verwag word nie – jy en Da Mario lees my verkeerd. Al wat nodig is, is dat hierdie soort aksie, en rassisme in die algemeen, so hard en eenparig verdoem word elke keer as dit sy kop uitsteek, dat mense dit nie meer waag nie. In sekere Engelse kerke was daar ‘n lang tradisie om priesters wat kinders molesteer het, te beskerm en die gebeure toe te smeer. Die woede oor die probleem het egter so ‘n momentum opgebou, en die saak het die kerk soveel skade aangerig, dat dit vandag baie dom van ‘n kerkleier sou wees om so ‘n priester te beskerm. So ‘n priester kan vandag geen beskerming verwag nie, en daarom glo ek kinders is vandag baie veiliger by die kerke. So ek dink dit is ook nodig dat die rassis geen vorm van beskerming vir sy woorde en dade moet geniet nie.

Oor ‘n ‘skuus dat ek lewe houding’
Die teendeel is nodig – die moed van jou oortuiging om ‘n rassis se tjank af te trap, net soos wat jy met ‘n kindermolesteerder sou doen.

Oor of ek ‘n koshuiskamer met iemand van ‘n ander ras sal deel.
Vir my was dit nog nooit aangenaam om leefruimtes met ander mans te deel nie. Maar afhangende van die persoon sou dit nie vir my ‘n groter probleem wees as die persoon swart of bruin is nie – dit hang maar net van die persoon af. Ek was so 4 jaar lank ‘n onderwyser ‘n swart skool. Ek het deel van die lief en leed, en van die kinders en personeel se menswees geword. Dit was vir my ‘n positiewe ervaring, maar ek gee toe dat die klimaat tussen wit en swart dalk meer vyandig kan wees vandag.

Oor die ANC
Ek glo nie die ANC se regering is goed vir die land nie, en spesifiek nie vir Afrikaners nie. Maar mens moet jou weerstand op ‘n logiese manier registreer wat nie jou eie saak skaad nie.

Nou ja, hierdie stuk was omtrent so onsamehangend en deurmekaar soos SSSB.

This entry was posted in afrikaners, mag, rassisme, suid-afrika, witmense and tagged , , , . Bookmark the permalink.

7 Responses to Een saak op ‘n slag

  1. Roer sê:

    Geforseerde integrasie vermeerder rasse haat en verminder individuele vryheid. Al hoe ek kan sien dat dit kan werk is met streng beheer maatreEls, maar ons wat in SA bly het al geleEr wanneer mense nie tevrede is met reEls nie (veral studente), staak en brand dit af. Hoe gaan jy die veiligheid van studente verseker? Ek kan nie dink dat dit kan werk nie. Kulture verskil en in ons land, hemelsbreed. Hoekom moet ons geforseer word om alles saam te doen om mekaar beter te verstaan? Saam klas loop is ‘n goeie begin. Ek sien al die verskil in ons klein kindertjies. Hulle sien nie die verskil tussen hulle nie-blanke maatjies en blanke maatjies nie. Dis net maatjies en klaar. Hierdie geforseerde intigrasie doen meer skade as goed, maar dis maar net my beskeie opinie. Sosiale integrasie is tot groot voordeel vir ons almal op alle vlakke (oral in die we^reld) en ons almal besef dit hopelik, maar sulke goed vat tyd en kan en moet onder geen omstandighede forseer word nie.

    Geen probleem ook met vryheid van assosiasie nie i/s Forum of Black Journalists, maar eerlikwaar wat dink jy sal gebeur as ons ‘n Forum of White Journalists stig? Komaan.

  2. Net ‘n vragie of twee: Wat is die vereistes vir vrye assosiasie? As ek besluit om myself met ‘n meisie te assioseer met wie ek in die kooi wil opeindig, en ek dwing my reg tot vrye assosiasie af, maak dit my ‘n verkragter, of kan ek my beroep op die Grondwet? Kom vrye assosiasie net van een kant af, of moet alle partye daartoe toestem?

  3. Voor ek vergeet… Ek dink jy wil ‘n groot monster gebruik as sambok om ‘n kleintjie dood te maak. Jou opmerking “My ommeswaai oor integrasie is deels omdat ek daarin ‘n geleentheid sien om die idee van koshuistradisies heeltemal te beeindig, want anders as baie ander mooi en goeie dinge wat op die KOVSIE-kampus aangaan, sien ek geen waarde in die belaglike tradisies van huisvergaderings en ontgroening nie” laat hang jou onderrok effens uit. As ontgroening dan so helse probleem, verbied dit. Punt. Dis so maklik soos dit. Dis nie nodig om ‘n rasse-kwessie te ontketen net omdat jy iets wil stop wat met die neerlê van ‘n paar reëls gestop kan word nie. Daar’s ‘n mooi woord vir wat jy ingedagte het: OVERKILL.

  4. Oor integrasie. Ek wens ek was in ‘n sg geintegreede skool, maar ek was in 1979 in gr 1 en dus in die 80tigs op skool.

    Ek wens dit is my gegun, want as mens van kleins af (ek sien dit in my suster se kinders) leer om met almal oor die weg te kom en mekaar te verstaan, is alles soveel makliker. Dan gebeur hierdie mislike goed nie.

    Ek is jammer, maar in die land waarin ons leef (as ‘n mens hier wil bly, en ek wil) sal ons na mekaar moet uireik en integreer. Wit, bruin en swart sal mekaar beter moet leer verstaan. Anders gaan dit nie uitwerk nie.

    Ek se nie mens moet iets prysgee nie, vir my beteken dit jy leer en verstaan mekaar se kultuur. Ek sal nog steeds my Afrikaanse boeke lees, byvoorbeeld, en om te verseker dat dit nie verdwyn nie, moet ek dit KOOP. Dan sal dit altyd daarwees, dit is soos ‘n mark werk.

    Maar ons moet waarlik kommunikeer met mekaar.

  5. alleman sê:

    @Roer, daar is reeds ‘n ‘Blanke ekonomiese forum’, en sover ek weet tree niemand teen hulle op nie. En met ‘n ‘Forum of Black Journalists’ wat ‘n presedent skep, asook met die grondwet se bepaling oor vryheid van assosiasie kan ek nie sien hoe ‘n ‘Forum of White Journalists ‘ gekeer kan word as daar ‘n behoefte vir so iets sou wees nie. Maar daar is nie ‘n behoefte daarvoor nie, en dit is nie ‘n goeie idee nie.
    Wat die ‘Blanke ekonomiese forum’ betref – kan ek wel sien dat daar ‘n behoefte vir so iets is weens die rasgedrewe praktyke van die regering. Maar ek sien myself eerder as deel van ‘n Afrikaanse organisasies wat hom vir ekonomiese opheffing van Afrikaanse mense beywer, as deel van enige iets wat die woord ‘blanke’ in het.

    @DGS jou vraag oor vrye assosiasie en verkragting gaan nie lekker by my af nie want ek dink enigeen (jyself inkluis) sal die antwoord kan verskaf. Maar ek verstaan dat jy tog ‘n ernstige punt maak naamlik:
    “Kom vrye assosiasie net van een kant af, of moet alle partye daartoe toestem?”

    Ek is hoegenaamd nie ‘n regskenner nie, my enigste mate van kennis is omdat ek http://constitutionallyspeaking.co.za/ lees – en daar word sake soos vrye assosiasie gereeld bespreek. Boonop is die grondwet ‘n dokument wat geinterpreteer word in hofsake, m.a.w die praktiese betekenis daarvan op spesifieke situasies gaan nog in die howe uitgepluis word.

    Dit lyk vir my dit trek wyer as wat jy dalk sou verwag – die beste voorbeeld van die tipe grense wat getrek word, is seker die voorbeeld van hoe vryheid van assosiasie in die kamers geld, maar die koshuis self as publieke sfeer gereken word, en in die publieke sfeer mag daar nie op grond van ras gediskrimineer word nie.
    My vermoede is dat vryheid van assosiasie sterker sal geld oor private besit (selfs klubs en maatskappye), maar nie-diskriminasie belangriker word wanneer dit kom by voordele wat die staat gee – byvoorbeeld toegang tot ‘n koshuis (wat sterk deur belastinggeld gesubsidieer word).

  6. Dankie, Alleman, dis die punt wat ek wou maak. Ek dink nie enigeen het ‘n probleem om ‘n koshuis te deel nie. Die probleem ontstaan by die deel van ‘n koshuiskamer. Enigeen wat homself nie daarmee kan versoen nie, verdien nie sy plek in die demokrasie nie.

    Ek dink tog die enigste rede hoekom die BEF nog nie flak getrek het nie, is omdat hulle nog maar in hulle babaskoene staan en nog nie veel van ‘n impak maak nie. Hulle sal beslis polities getoets word wanneer hulle die dag werklik oor die vermoë beskik om hulle spiere te bult.

    Die probleem wat ons vandag in SA het met enige blanke beweging (en selfs Afrikaanse taalbewegings), is dat dit so maklik en gou deur regse elemente gekaap word. En ipv die regse elemente wegwerk, is dit gewoonlik die geval dat die gematigdes hulle goed vat en loop, en weer op ‘n ander plek gaan begin. Totdat jy weet wat gebeur…

  7. Sammi sê:

    Ek stem saam met Rosa!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s