Maak plek, hier kom Indië

Die verkeer is ‘n goeie beginpunt om iets van Indië te verstaan.  Want behalwe vir sekere plekke waar verkeerspolisie diens doen, lyk dit of elkeen hier min of meer ry soos hy goed dink.  En dit werk op ‘n misterieuse manier.  Almal gebruik hul toeters , maar dis sonder aggressie – die toeters sê nie “as jy weer so voor my inry gaan ek jou bliksem” – soos in SA of Engeland nie.  Eerder net “maak plek hier kom ek” – amper soos ‘n soort sonar wat die verkeer, en  voetgangers in staat stel om moeiteloos deurmekaar te vloei sonder dat dit baie gevaarlik voel. Ons een taxidrywer het selfs getoet toe hy oor ‘n rooi lig ry, om die mense vir wie dit groen was te waarsku, en hulle het dit glad nie as vreemd beskou nie.

Hier is baie min aggressie in die samelewing, die strate is veilig – miskien is dit te wagte in ‘n samelewing waar vroue so prominent is.   Oral sien jy  vroue in die mooiste kleure, en bo alles glimlag Bollywood godinne vriendelik oor alles heen (vanaf reuse advertensieborde).  Die aspirasie is na skoonheid en huislikheid – dit voel vir my na ‘n samelewing met ‘n vroulike karma.

As Indië ‘n vroulike karma het, het geweldadige lande soos SA ‘n manlike karma, en ryk noordelike lande soos Brittanje het geen karma nie.  In die dooilike ryk lande ry mense alleen in groot karre na koue kantoorblokke waar hulle agter rekenaars sit en mens kan nie sien watse duister dinge hulle doen nie.  Hulle doen dinge soos spekulasie op kommoditeite, en word skatryk uit koffiebone wat nog nie eers geplant is nie.   Kinders word merendeels as ‘n oorlas beskou, en oor die algemeen sien jy net karre op straat.

Maar Indië se strate wemel van mense, vriendelikheid, geurige kos, winkels, verkeer, lawaai, hitte, vreemde geboue, hele strate wat na wierook ruik, lewe.  Dis ‘n sensoriese ding – mens kom kort in Engeland weens die tekort aan kleur en sonskyn – hier in Indië is daar oorvloed.

Die Indiese ekonomie groei sterk – weens die wereldekonomie se probleme het die groeikoers nou geval van 9.2%  tot 7.9% – dis nog steeds ‘n hele entjie bo SA se beste koers in onlangse jare.  In hierdie omstandighede slaag al hoe meer mense om te ontkom uit armoede.
Hier is baie geleenthede – ‘n land wat besig is om homself op te bou.  Die gevoel wat ek hier kry, is dat dit vir baie Indiërs ‘n optimistiese en opwindende tyd is.  Ons het tot dusver in Mumbai (Bombaai) en Kerala gereis, en baie minder wit toeriste teegekom as wat ek verwag het.  Maar ons sien baie Indiese vakansiegangers wat hul land geniet.  En ons was by ‘n skouspelagtige troue – die feesvieringe het etlike dae geneem, en baie wonderlike dinge ingesluit.  Dis maklik om iemand te vind wat jou wil vertel oor Indië se ekonomiese wonderwerk, oor Tata korporasie wat benewens hul voertuig vervaardiging nog hordes  ander belange het, en oor Indiërs wat wereldwyd presteer.   En seker almal hier weet dat Indië een van die magtige wereldmoondhede gaan word.

This entry was posted in ekonomie and tagged . Bookmark the permalink.

9 Responses to Maak plek, hier kom Indië

  1. “Brittanje het geen karma nie” 🙂

    NS: Wat van ‘n paar foudies?

  2. Die verkeer is hier in Korea dieselfde. Ek sal eendag Indie wil besoek al is dit net om die kleure te ervaar. Ek vra saam met Bib vir ‘n paar pics…ag toe?

  3. alleman sê:

    Dankie vir die besoek julle 2. EK sal fotos opsit as ek terug by die huis is.

  4. Ja, stuur prentjies🙂

    Dit klink ongelooflik. Is jy daar vir besigheid of plesier?

  5. mykopop sê:

    Iemand wat baie van die meganika van voertuie weet, reken Tata se bakkies se ratverhoudings is totaal verkeerd. Ek het ook al ‘n paar rillerverhale gehoor oor mense se ondervinding met Tata. Nietemin is hulle besig om met lae pryse ‘n aansienlike markaandeel te verwerf en sal waarskynlik later hulle kwaliteit en diens opknap om dit te behou.

    Foudies ja!

    Tata,
    Chris

  6. annerkant sê:

    Kleurvol! Ek het ‘n vriendin wat gereeld Indie toe gaan om die geestelikheid daarvan te beleef. As ek iets negatiefs mag se: in my vakgebied (kan nie namens ander praat nie) is hulle natuurwetenskap beoefening ver onder standaard, soveel so dat ons (nog steeds met reg) spot oor die gesukkel met hulle swak werk en dat jy dikwels ook niks (soos artikels) uit hulle uit kry nie. In wat ek doen moet ‘n mens ongelukkig alles in ag neem wat gepubliseer is. Is wetenskap beoefening belangrik vir die ekonomiese opgang van ‘n land / nasie?

  7. alleman sê:

    Johan ek was daar vir plesier – vir ‘n troue van een van my vrou se voormalige kollegas, en ons het die kans waargeneem om Mumbay en Kerala te verken.

    Chris, ek kan glo daar kan fout wees, maar ek moet vir jou sê die Tata’s waarin ons gery het, het stewig vertoon vir so ‘n goedkoop kar, en daarom is hulle ook die keuse van seker miljoene. En enigeen wat dink dat die foute wat dalk nou bestaan die finale waarheid oor Tata is, het seker vergeet hoe Japanese voertuie ook lank gelede beskinder was.

  8. alleman sê:

    Annerkant, ek antwoord jou met as agtergrond wat ek gehoor het by my vrou se kollegas.
    Net soos in ander lande is daar in die wetenskap “sentrums van uitnemendheid” asook swak instellings, en alles tussenin. Daar is ook enige iets van briljante mense tot kansvatters, luies en dommes. Indië is so enorm en divers dat enigeen wat ‘n uitspraak maak oor hoe Indiers is, heel moontlik verkeerd gaan wees. Daar kan byvoorbeeld ‘n ander Indiese instelling in jou vakgebied wees wat baie goed is, maar waarvan julle nog nie gehoor het nie.

    Maar ek wil nie ‘n impimpi vir Indië wees nie – die land is grootliks baie arm en met baie probleme, dis eers onlangs dat Indië begin opstaan het, so dit kan nog ‘n tydjie neem voor hulle SA verbysteek in jou vakgebied.

  9. annerkant sê:

    Alleman, ek stem saam. En ek is nogal een wat altyd predik dat ‘n mens nie moet veralgemeen nie! Ek twyfel of daar in my spesifieke vakgebied ander navorsers is as wat ek van weet. Ek is baie gespesialiseerd. Maar dit lei nie daartoe dat alle natuurwetenskap wat in Indie beoefen word van swak gehalte is nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s