Die wit rotte van Afrika

Hierdie benaming kom uit Eben Venter se boek Horrelpoot (wat ek nie kon klaar gelees kry nie). Dit kom elke keer in my gedagtes op as ek met ‘n sekere soort blanke te doen kry. En ek voel sleg daaroor dat ek so aan hulle (ons!) dink, want ek weet waar hulle vandaan kom, en ek wil daarby uitkom hoekom ek simpatie met hulle het.

Die soort blanke waarvan ek praat is nou nie die subtiele rassis nie, maar die soort wat nie hul haat en rassisme probeer wegsteek nie, en wat die kruste maniere vind om dit ten toon te stel. Hulle wyk vêr af van die naasteliefde en beskawende invloed van die Christendom, en gee eerder vrye teuels aan hulle haat.

Hulle aksies is ongelooflik dom, in die sin dat dit op geen manier kan lei na die bereiking van hulle veronderstelde doelwitte nie. Hulle bereik niks, behalwe om vyande vir hulself (en alle ander wit mense) te maak nie. Op geen manier kan die haatlike goed wat hulle op padtekens krap, die walglike blogs wat hulle begin, en die manier hoe hulle fisies dreigend en onaangenaam optree, byvoorbeeld deur met ‘n 4X4 spesiaal vinnig op swart voetgangers af te peil, hulle saak bevorder nie. Hulle maak nie eers vriende vir hulle saak onder hul eie mense nie, soos gesien kan word aan die manier hoe hulle probeer om ‘n vroulike Afrikaanse blogger te intimideer.

En hulle het ‘n obsessie oor seks met swartmense. Enigeen wat nie hulle haat vir swartmense deel nie, word op belaglike wyse beskuldig daarvan dat hy/sy seks met swartmense wil hê.

Hoe kom dit dat daar sulke mense is? Ek sal nie die gewone redes uitlaat nie, want ek betwyfel nie die waarheid van hierdie redes nie:

* Hulle kom uit ‘n patriargale en kolonialistiese denkstelsel, waar wit bo swart, en manlik bo vroulik gestel is.
* Hulle het ‘n settelaarsmentaliteit, dws hulle glo dat die plaaslike bevolking onderwerp en onder gehou moet word.

Maar ek dink nie hierdie redes is die volle prentjie nie, en ek wil nou my redes gee hoekom ek ook simpatie met hierdie mense het. Dis asof hulle geteel is as voetsoldate van Westerse kapitalisme.

Soos ons Engelssprekende landgenote lief is om uit te wys, is die meeste van hierdie voetsoldate Afrikaans. Hulle Pa’s en Oupas was die polisiemanne, beamptes en mynkapteins wat die Apartheidstelsel toegepas het, die vuilwerk gedoen het, die houe uitgedeel het, terwyl die Engelse, as eienaars van die grootste deel van die ekonomie buite landbou, ‘n sagter houding kon inneem, en nog steeds kon baat by die verdukkende stelsel.

En mense maak deesdae graag asof daar nie iets soos ‘n Koue Oorlog was nie. Afrikaners was een van die groepe wat deur die ware magshebbers in Washington en London misbruik is om die vuilwerk te doen van die beveiliging van Westerse oorheersing van die Derde Wereld. Ja, hulle moes veral keer dat Suid-Afrika se myne – wat ‘n konstante stroom van inkomste aan Engelse elites (veral) genereer, in die kommuniste se hande val. En sommer probeer help om Angola en Mosambiek se rykdomme uit die kommuniste se hande te ruk, om dit aan Westerse kapitalisme beskikbaar te stel.

Afrikaners is eintlik grootgemaak vir hierdie rol – van kleins af baie gehoorsaam aan gesag, moenie gesag bevraagteken nie, en seuns is van van kleins af geleer om semi-militer te wees.

En toe is daar tussen die Britte, Engelse mynbase in SA, en die Engelsgesinde swartmense van die ANC skielik besluit hulle is moeg vir die Afrikaners. Die Engelse kon net so ‘n goeie deal met die ANC maak met betrekking tot die beveiliging en uitbreiding van Engelse belange in SA as wat hulle tussen 1902 en die 1980’s met die Afrikaners gehad het. Toe dit gebeur het, is hierdie voetsoldate se wereld omgekeer.

Skielik, in die nuwe Suid-Afrika, dra hulle (as ‘n klas van die Afrikaners) die meeste van die blaam, en is ook die mees kwesbaar in terme van werksverlies onder die nuwe omstandighede. Armoede is aan die toeneem onder hulle, en daar is die kwessie van chaos en bloedige misdaad in Suid-Afrika – iets waaraan almal maar uitgelewer is deur ‘n regering wat meer as ‘n dekade in ontkenning daaroor was, en eintlik nog steeds is.

En die Afrikaner elites het hulle tot ‘n groot mate in die steek gelaat. Baie ryk Afrikaners verengels, emigreer, of verpretensieus eerder as om hierdie mense te help om ‘n nuwe visie en geleenthede te vind.

Nie dat ek hierdie rassistiese voetsoldate heeltemal wil verskoon nie; mens is nog steeds moreel verantwoordelik vir jou dade, en as jy politieke aksies wil neem, moet jy darem dink wat jy wil bereik, en hoe jou aksies daartoe gaan bydra.   Maar hulle het tog ‘n bepaalde geskiedenis wat mens kan help om hulle te verstaan.

 

This entry was posted in witmense and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.

9 Responses to Die wit rotte van Afrika

  1. Wil met jou saamstem, maar ook nie heeltemal nie. Sal bietjie gaan dink…

  2. Sonkind sê:

    Ek sluk swaar daaraan om vir hulle simpatie in myself te vind. Dan sou ek simpatie vir Hitler ook moes iewers in myself vind en ek weet dit gaan nie gebeur nie.

  3. alleman sê:

    Ek moes miskien eerder begrip as simpatie gebruik het. Daar is vir my ‘n groot verskil tussen Hitler en hierdie mense, want hy was ‘n ware magshebber wat dood en ellende vir miljoene veroorsaak het, terwyl hierdie mense regtigwaar rigtinglose voetsoldate is; uitgedien en nie meer benodig nie.

  4. Ek het nogal begrip vir jou siening dat hulle in die steek gelaat is. Maar hoe help mens iemand wat domastrant wil vasklou aan hulle eng sienings? Dalk is ek net pessimisties maar ek weet nie of daar regtig hoop is vir iemand wat 40 is en nog nooit geleer het om onafhanklik vir hom-/haarself te dink nie. Onderdanigheid aan die tradisionele gesagstrukture, vrees vir diversiteit en vyandigheid teenoor rasionele denke is so ingeprent van kleintyd af dat ek nie weet of dit moontlik is om dit op groot skaal te verander nie.

  5. OK, het bietjie gedink…

    Wat my miskien pla is dat jy dalk oorvereenvoudig wanneer jy na die rol van die Afrikaner vis-a-vis die Weste (te wete Washington en Londen)verwys. Verseker het dit die Weste op ‘n stadium gedien om die Afrikaners se bewind te aanvaar en te versterk, maar tog dink ek die Afrikaner en die regime was effe meer as slegs marionette (hoewel jy nie miskien dit presies so bedoel nie?):

    “Afrikaners was een van die groepe wat deur die ware magshebbers in Washington en London misbruik is om die vuilwerk te doen van die beveiliging van Westerse oorheersing van die Derde Wereld”

    Die Afrikaner het ook maar eiewys en hardkoppig hul eie pad gestap en ek glo nie die meerderheid van ons prestasies en vergrepe kan noodwendig voor die deur van die Weste gele word nie.

    Hoewel ek nie dink dit lyk op die oog-af so nie, glo ek die invloed wat die Weste op die ANC uitoefen is tans veel groter en verrykend as wat dit ooit die geval met die Afrikaner was.

  6. As ons maar net kakkerlakke was. Hulle lewe deur nuclear holocausts!

    My koninkryk vir ‘n voeler…

  7. Alleman, baie goei stuk.

    En hier is ‘n neo-Afrikaner elite, hulle is natuurlik slim genoeg om nie openlik na hulself as “blank” te verwys nie. Hulle is polities korrek etc, maar hulle is walglik, walglik.

    So goed hul flous die meeste mense.

    Jongerig, honger en op baie plekke in beheer. En hulle laat baie mense in die steek.

  8. alleman sê:

    George en Boer, ek het baie gedink oor wat julle geskryf het, en moed opgegee oor hoe om in ‘n kommentaar te antwoord. Miskien blog ek weer daaroor.
    Rosalind, ek voel ook soos ‘n in-die-steek-later, maar hou nie juis van die gevoel nie.
    Johan, jy is warm op die spoor, maar Lewies Botha het jou voorgespring: http://ensovoorts.wordpress.com/2008/07/27/die-bittereinders/

  9. Alleman, nee jy is definitief nie een van die in-die-steeklaters nie, net omdat jy nie in SA bly nie. Hierdie wys meer na diegene wat klim na bowe en weer eens dieselfde mense vertrap. So tipe van ‘n neo-broederbond . . .

Lewer kommentaar op boerinballingskap Kanselleer antwoord