Jou kind gaan net ‘n persoonlike verhouding met die Mall hê.

As ‘n ateis wil ek graag sê dat ek die gevoel van bevryding van die kerk soos wat Vlam hier beskryf ook ervaar het.  Tog respekteer ek die kerk want die Christelike kerk het die grondslag van die Westerse beskawing gelê, of ons dit nou wil erken of nie.  Ek dink dat feitlik elke morele vordering wat in die Weste gemaak is, se wortels in die Christendom lê.
Dinge soos eerlikheid en integriteit in die openbare en besigheidslewe, en dinge soos die beindiging van slawerny.  Die Kerk het verder ook die universiteite waar van die grootste wetenskaplike ondekkings gemaak is, begin, en sommige van die mooiste musiek en kuns wat bestaan, kom uit die Christelike tradisie.
So ek kan nie anders as om die kerk te respekteer nie.

Die een ding wat ek sukkel om te respekteer  (jammer hoor), is die “persoonlike verhouding met God” – mode.  Ek dink dit behels die volgende:
Jy (en ek bedoel nou nie enige iemand spesifiek nie) wil ‘n moderne verbruikerslewe ly, jy wil doen wat jy wil, geen pligte jeens die samelewing hê nie, en net   emosie-belaaide gesprekke met God in jou binnekamer hê, hoofsaaklik oor jou persoonlike behoeftes.
Of, as jy wel vrywillige aksies in die samelewing opneem, byvoorbeeld sendingwerk, gaan dit net oor hoe daardie aktiwiteite jou laat voel.   Die oomblik dat hierdie dinge jou nie meer goed laat voel nie, gaan jy dit los soos ‘n warm patat.
En op grond van die feit dat jy hierdie persoonlike gevoelsverhouding met God het, voel jy dat eendag wanneer jou moderne verbruikerslewe tot ‘n einde kom, jy probleemloos die hemel sal inseil want jy het mos geglo.  Ek dink hierdie soort Godsdiens se diepste aard en wese is ‘n ontkenning daarvan dat dit ‘n moerse probleem is om ‘n krasse verbruikerslewe te lewe ten aanskoue van mense wat nie eers ‘n dak oor hulle koppe het nie.

Wel, ek dink jou kinders gaan die oorbodigheid van jou persoonlike verhouding met God insien.  Jy is dalk die laaste Christen van jou familie – die een wat ‘n tradisie van ‘n duisend of meer jaar beindig, ten gunste van ‘n lewe in diens van die Mall.  Jou kinders gaan net die selfsug en selfbeheptheid van die moderne verbruikerslewe aanneem, en wegdoen met jou lui binnekamer-vroomheid.  En stadig gaan die selfsug van die verbruikerslewe alles wat standhoudend in die samelewing is, wegkalwe, tot mense mekaar oor besittings om die lewe bring.  (Of wag, in Suid-Afrika gebeur dit mos alreeds).

So ek wil jou graag uitdaag.  Kies die Christenskap van die kerk, of as dit nie jou ding is nie, word eerder ‘n eerlike ateis wat nadink oor die dilemmas van ons tyd.  Wat moet die  Christendom se plek neem in mense se morele raamwerk?   Daar moet wraggies iets beter wees as net  Englishness en ‘n verbruikerslewe.

Nota:  My standpunt is baie beinvloed deur Johann Rossouw se boek ‘n Rooi Z4 en ‘n Renaissance-kasteel – seker die insiggewendste Afrikaanse boek van ons tyd.   Hy is egter nie ‘n ateis nie, hy skryf uit ‘n  Christelike perspektief.

This entry was posted in afrikaners, religie, suid-afrika and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Jou kind gaan net ‘n persoonlike verhouding met die Mall hê.

  1. Alleman, jy werp die lig hier baie skerp op die siekte van ons tyd, genaamd konsumerisme (by ‘n gebrek aan beter Afrikaans). Ek dink hierdie siekte se oorsprong le veral in die VSA. Dus stem ek volmondig saam met jou siening van konsumerisme en ook die afbrekende rol van konsumerisme vis-a-vis Christenskap. Ek dink egter nie dis die uitvloeisel of hang enigsins saam ‘n “persoonlike verhouding met God” nie. Persone wat hulle persoonlike verhouding met God interpreteer, soos jy hier bo beskryf, is nie op die pad wat Jesus gewys het nie. Ek glo dat so ‘n persoonlike verhouding juis konsumerisme sal teenwerk en nie sal aanmoedig nie. “I shop, therefore I am” is verseker ver verwyderd van Christenskap soos ek dit verstaan en beleef.

    Ek sien die invloed van Johann Rossouw in jou skrywe en sal definitief moeite doen om hierdie boek te lees, aangesien ek ook baie waarde heg aan sy wereldbeskouing.

    NS: Sover my kennis strek, is Johann ‘n Boeddhis, so miskien is die boek vanuit ‘n geestelike oogpunt geskryf, eerder as Christelike oogpunt.

    • alleman sê:

      BiB, ek wou nog sê, ek dink nie Johann is ‘n Boeddhis nie. Ek het dit nog nooit gehoor, of enige iets van hom gelees wat my so laat dink nie.
      In ‘n Rooi Z4 en ‘n Renaissance-kasteel, kry mens die idee hy bewonder die tradisies vd Reformasie in Europa – waar die “religie” darem nog ‘n gemeenskaplike saak is, en wat beinvloed word deur hoe goed jy die Bybel kan lees en verstaan.
      En (ek hoop nie ek oordryf nou nie), maar ek sou sê hy verafsku die charismatiese kerke, want daar gaan dit oor hoe goed godsdiens jou laat voel.

      • Alleman, hoewel dit nie so blyk nie, weet ek Johann is ‘n Boeddhis, hoewel hy ook Christenskap in ‘n positiewe lig beskou. Maar ek dink in elk geval nie sy religie is in hierdie verband so relevant nie. Ek stem saam met sy wereldbeeld en dit wat hy so dikwels in die samelewing uitwys.

  2. Ek moet verskil oor die beeindiging van slawerny, veral in Brittanje, daar was dit juis die christelike kerke wat dit solank as moontlik in plek probeer hou het. Hulle was kop in een mus net die mense wat natuurlik geld daaruit gemaak het.
    Hulle redenasie was dat swart mense, volgens die bybel mindere wesens was, en dus besit kon word.

    Ek verskil ook oor die wetenskap. Die grootskaalse inmenging van die kerk het gekom met die saak teen galileo galilei toe die kerk gemeeen het dat hy uitsprake oor die wetenskap kan lewer. Sedertdien sien die kerk homself as ‘n liggaam wat uit ‘n esoteriese en teologiese hoek, die wetenskap kan oordeel.
    Dit is wel bekend dat die galileo-isse ‘n groot keerpunt was en die verhouding tussen die christelike kerk en die wetenskap tot vandag toe versuur.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s