Jonathan Jansen se stories gaan hom inhaal

Ek sukkel al lank om te besluit of ek van hom hou of nie, maar  ek dink nou Jansen is beslis nie die regte man om die Vrystaatse Universiteit te lei nie.   Sy aankondiging tydens sy inhuldingingsrede dat hy  “seker” is dat die strafregtelike klagte teen die vier Reitz urine-studente laat vaar gaan word, het tot groot verwarring en chaos gelei.  Later moes hy bieg dat hy nie by magte is om die strafregtelike klagte te laat vaar nie, en dat hy slegs die universiteit se eie stappe kan laat vaar.  So daar is probleme met Jansen:

  • Dat hy iets aangekondig het wat hy nie kan doen nie.
  • Dat hy sommer namens die werkers wat verneder is wil vergewe – wie is hy om dit te doen?  Vergiffenis is slegs vir daardie vroue.  Dis hulle reg om te gee as hulle wil, en te weerhou as hulle wil.

Prof Jansen is ‘n storieverteller.  Sommige van sy stories is aangenaam, soos die een van die boere wat Jansen  by Senekal se Wimpy ontmoet het.  Bietjie soetsappig miskien, maar Afrikaners, ek inkluis, is suckers vir stories waarin ons darem bietjie aanvaarding van swartmense kry, of ten minste nie in die slegste moontlike lig gestel word nie.

Maar ongelukkig is al sy stories nie so aangenaam nie, en ek moet erken ek het al gewonder of hy altyd die waarheid vertel.   Byvoorbeeld die storie van Aggressie van die vaders.  In  hierdie storie moet ons hom glo dat ‘n man wat by hom oor sy rassisme wou kom bieg, dit met ‘n baie aggressiewe houding kom probeer doen het.  Hierdie storie, en die manier hoe Jansen dit vertel, laat my diep ongemaklik.

Dan was daar die storie van “beware Bergies in suits”, waarin hy Danny Titus se Bruin Belange Inisiatief aangeval het.   Vermoedelik oor die BBI dit waag om vir Bruin mense se belange op te kom, en dus die “Saffer” beginsel verbreek.  Dis nou die manier van denke wat wil hê dat ons almal Saffers word, ‘n nuwe soort  identiteit waar ons almal basies soos wit Engelsprekendes moet wees (of ten minste daaraan werk om te word).  Daar kan nie sprake wees van enige soort groepsidentiteit of groepsregte onder Saffers nie, want ons is mos almal Saffers.   Bruin mense wat bruin belange wil bevorder is “bergies in suits”, dws kansvatters. (Hierdie storie was in The Times, maar is ongelukkig nie meer op die Net nie.)

En dan is daar Jansen se leuenagtige wanvoorstelling van die stryd rondom Afrikaans, wat Johan Rossouw beter beantwoord as wat ek sou kon.   Ek is bevrees Jansen kom na die Vrystaatse Universiteit met ‘n versteekte agenda van Anglisering – en hy maak propaganda vir die siening dat die stryd om Afrikaans  bloot deur rassisme gedryf word.    Ongelukkig swoon die blankes nou so oor hom omdat hy die Reitz 4 beskerm, en omdat hulle dink hy die Afrikaner eiehandig van rassisme gaan genees, hulle sal hom sommer toelaat om namens hulle te dink.

This entry was posted in witmense and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink.

8 Responses to Jonathan Jansen se stories gaan hom inhaal

  1. mnr.muller sê:

    Dis ‘n diepgewortelde vrees van sommiges, dat alle (universiteits)leiers ‘n “versteekte agenda van Anglisering” het.

    Ek dink bloot dis nie die geval nie.

    Universiteite werk met die skep en verspreiding van kennis in en vanuit hulle onderskeie (spesifieke) kontekste. Ons konteks is ‘n meertalige Suid-Afrika.

    Wat die bevordering van Afrikaans bemoeilik, is die internasionale aard van universiteite: kennis word wêreldwyd meer geredelik in Engels vrygestel. En om kennis telkens te vertaal/vertolk neem tyd en geld.

    Ten spyte daarvan verbind Jonathan Jansen hom tot die uitbou van Afrikaans. Baie ander instansies doen dit nie.

    Wat soek jy anders in ‘n rektor as ‘n inspirerende orator wat terselfdertyd besondere medemenslikheid openbaar?

    Soms moet jy eers iets sê om ‘n proses aan die gang te kry; die interne burokrasie van ‘n logge instansie soos ‘n universiteit verhinder vinnige verandering; dit verg soms sterk standpunt-inname.

    Watter eienskappe soek jy in ‘n Vrystaatse rektor? Of watter aksies sou jy wou sien moet só ‘n persoon loods?

    Wat kan hy doen om jou vrese van ‘n versteekte agenda te besweer?

  2. Ek hou van Jonathan Jansen.

    Ek was een van die eerste mense wat my baie skerp uitgespreek het oor die Reitz voorval. Tog dink ek dit elke druppel sensasie nou al daaruit getap is.

    Ek stem saam met hom dat die ouens wel deur die universiteit gestraf is. As die vrouens die saak verder wil verder vat, keer niks hulle nie. Onthou ook dat die menseregte skenking nog steeds hangende is.

    Vergifnis (selfs al het hulle nog nie berou getoon nie) gaan meer goeie vrugte werp as vergelding. Vergelding gaan dalk 4 jong mans se lewe verwoes. Vergifnis gaan hulle ‘n kans gee om hulle plek in die samelewing vol te staan en hopenlik te help om ander ‘n kans in die lewe te gee.

    Kan ek ook byvoeg dat die rektor nie net die ouens ‘n kans gegee het nie. Hy het ontgroening summier gestop en drank gebruik is van volgende jaar uit die koshuis uit. Niemand behoort dus weer dieselfde deur te gaan nie.

  3. As ek die volgende les wat ek uit een van my jeugboeke geleer het kan byvoeg.

    “Die twee grootste eienskappe wat enige mens kan besit is eerstens genade en dan moed.” (So iets – Stella Blakemore)

    Jansen het beslis altwee.

  4. alleman sê:

    Xena en Vlam: Dit is so dat genade en moed goeie eienskappe is. Dalk het Jansen hiierdie eienskappe. As hy het, en sy motiewe is nie so duister as wat ek vrees nie, is sy aksies nog steeds uiters ondeurdag.

  5. Skoor sê:

    Hy kry dit nou meer as ooit van alle kante.

    Ja, hy maak uitsprake wat Blankes hulle by hom sal laat skaar. En die ANC regering wat net versoening na een kant wil laat gebeur, de hel in laat. Hoe slim is dit?

    Miskien maak hy hierdie uitsprake vanuit sy eie oogpunt en opinie. Omdat hy verder gevorder is as mense rondom hom, wit en swart. En omdat hy effe verder vorentoe kan kyk.

    Ja, dit sal bleddie naais wees om as die suksesvolste leier bekend te staan, maar as dit nie jou intensies was van dag een nie, sal jou kierangs een of ander tyd braai.

    Ek glo Jansen is eerstens ‘n opvoeder. ‘n Onderwyser. En ‘n ware onderwyser help eerder, as wat hy veroordeel en verstoot.

    As ek verkeerd is, het ek ‘n oordeelsfout gemaak, maar ek sit eerder langs hom om ‘n tafel as bv. Pandor. (of wie ook al deesdae minister van onderwys is. nie dat dit enigsins ‘n verskil maak nie, hulle doel is om kinders NIE op te voed nie)

    Hy het al uitsprake gemaak wat my wenkbroue laat lig het, ja, maar elke mens het die reg tot opinie. En as dit jou verwysingsraamwerk is, dan verstaan ek dit so. Of probeer ek dit so verstaan.

    Ten minste is hy nie ‘n arrogante, vetgevrete gravytrain passasier wat hul gatte afvee aan wat MOET gedoen word nie. Ek wens hy word minister van onderwys, sodat ons land kan regkom. As die basis van ons landsburgers opgevoed, en REG opgevoed word, sal die chaos later minder van ‘n impak he.

    • alleman sê:

      Skoor, ek verstaan die behoefte na iemand wat eerder help as verstoot. Maar hoekom kan ons nie die die regter, en die dissiplinere komitee vertrou om alle faktore in ag te neem nie? Faktore soos die mate waartoe hulle reeds gestraf is, hulle toekomstige loopbane reeds moontlik benadeel is, en die dwaasheid van jonkwees.

      Dit is verkeerd om nie by die normale proses te hou nie, want dan geskied geregtigheid nie na alle kante nie.

  6. Alleman, interessant wat jy skryf oor Jansen. Ek en ‘n vriend het die naweek hieroor gepraat. Hy ken Jansen se agtergrond beter as ek en het verwys na Jansen se boek “Knowledge in the blood” wat glo baie interessant is, as jy verby die eerste 50 bladsye kan kom – dit maak glo mens as Afrikaner redelik die donner in🙂

    In elk geval, ek kan nie sê dat ek saamstem met sy besluit oor die Reitz 4 nie, maar ek is bereid om hom die voordeel van die twyfel te gee, ook gegewe sy betrokkenheid by die transformasie van Tukkies (en later NKP) se opvoedkunde departement.

    Oor die Afrikaners wat so gelukkig is oor sy besluit en dit van die dakke af basuin sal ek liewers nie niks sê nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s