‘n Gratis nuwe Afrikaanse Universiteit

Die ou boer, wat omtrent geen opvoeding behalwe bybellees gehad het nie, het besluit sy seun moet beter hê, en hom universiteit toe gestuur om te gaan leer. Ongelukkig het die seun sy tyd daar net met drank, pelle en meisies deurgebring, en toe hy later terugkeer het sy Pa hom uitgevra:

Pa: Wat het jy geleer?
Seun: Latyn, Pa
Pa: Wat is dit?
Seun: Dis ‘n taal, Pa
Pa: Nou wat sal jy daardie windpomp in Latyn noem?
Seun: Windpompovitch, Pa
Pa: En die dam?
Seun: Damovitch.
Pa: En daai bul?
Seun: Bulovitch!
Pa: Nou gaan kyk bietjie daar in die skuur, dan bring jy my sambokovich

Ek dink die nuwe Afrikaanse universiteit wat deur Christo van der Rheede voorgestel is, sal nie so ‘n jolifikasie-tipe universiteit kan wees, waar jong mense na ‘n paar jaar van pret gereed is om te begin met ‘n lewe waarin hul lewenslank voordeel trek uit daardie graad wat hulle so lekker bekom het nie. Nee, dit sal ‘n hardwerk universiteit moet wees, waar elke student, dosent, administrateur, raadslid en skenker iets het om te bewys. ‘n Universiteit soos die CIDA City Campus universiteit in Johannesburg wat deur Taddy Blecher tot stand gebring is. ‘n Kwalifikasie van so ‘n universiteit bewys dat die houer daarvan groot uitdagings kan oorkom, en nie slegs ‘n bevooregte persoon is nie.

Hoekom is dit nodig?
Sommige van die redes wat van der Rheede noem:
1. die laagste toetrede tot universiteit kom tans onder veral bruin Afrikaanssprekendes voor – slegs sowat 5% van die bruin Afrikaanssprekendes kom by die plaaslike vier universiteite in die Wes-Kaap uit
2. blatante diskriminasie teen Afrikaanssprekendes
3. Om ‘n siklus van verval en uitsigloosheid onder bruinmense te stuit.

En ‘n paar redes wat ek hoop mens kan byvoeg:
1. Om ook aan ‘n hele nuwe geslag wit Afrikaner jongmense, wat tans in ‘n spiraal van werkloosheid, rassisme en zefgeid verval, iets beters te probeer gee.
2. Om aan wit Afrikaners die kans te gee om met geldelike bydraes en ander praktiese steun iets positiefs te doen met betrekking tot die historiese skuld wat ons teenoor bruines het deurdat ons onder meer hulle stemreg weggeneem het.
3. Om aan wit Afrikaners ‘n kans te gee om te bewys dat die stryd om Afrikaans nie ‘n rassistiese stryd om blanke bevoorregting is nie, maar ‘n legitieme taalstryd.
4. Om te wys dat die ANC se onuitgesproke, oneerlike en vyandige taktiek van verengelsing van die land nie welkom is nie, en teen die gees van die grondwet se 11 amptelike tale is.
5. Om ook aan Afrikaners in die diaspora ‘n instansie te gee waarvoor hulle kan geld gee, om so werkskepping en stabiliteit in SA te kan bevorder.

Heelwat bekendes, soos Neville Alexander, Ampie Coetzee, Breyten Breytenbach en Gerrit Brand steun reeds die idee. In Christo van der Rheede se woorde: wat ‘n groter Afrikaanse liefdesdaad kan ons as gefragmenteerde Afrikaanse gemeenskap toon as om so ‘n inisiatief te ondersteun?

This entry was posted in afrikaners, bruinmense, politiek, suid-afrika and tagged , , , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.

15 Responses to ‘n Gratis nuwe Afrikaanse Universiteit

  1. Ek dink nie dit is ‘n slegte idee nie. Maar dit is ook ‘n geweldige uitdaging, nie alleen wat die logistiek betref nie, maar ook om te keer dat dit nie gekaap word vir ‘n neo-Afrikaner nasionalisme wat nie soseer vir iets staan nie, maar teen iets is.

    Ek weet net nie of dit noodwendig heeltemal gratis moet wees nie. Op ‘n manier moet studente ook commit tot hulle studies.

    Maar ja, ‘n baie goeie idee.

  2. Ek ondersteun hierdie idee. Moontlik sal dit ‘n aanduiding gee of Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes regtig die wil en vermoee het om iets beduidend tot stand te bring. Ek twyfel egter of mens realisties gesproke so ‘n universiteit heeltemal gratis sal kan maak.

  3. alleman sê:

    George en BiB, julle is natuurlik reg, dit sal nie heeltemal gratis kan wees nie, veral nie vir die wat kan bekostig om te betaal nie. Ek dink die CIDA City Campus universiteit is ook nie heeltemal gratis nie.
    Ek het vandag vir Dirk Hermann van Solidariteit op die radio gehoor. Hy het gese dat namate die arbeidswereld versplinter tot massas klein maatskappye (in teenstelling met die groot werkgewers van die verlede), moet vakbonde nuwe maniere vind om werknemers te help, en een van die belangrikste maniere hoe Solidariteit beoog om dit te doen is met opleiding.
    Ek hoop hulle wil ook betrokke raak by hierdie aksie.

  4. mykopop sê:

    ‘n Idee met baie goeie meriete. Ek wonder net – is dit ‘n vorm van ‘n volkstaat, behalwe dat ons nie daarin met ons belastinggeld kan maak soos ons wil nie?

    • alleman sê:

      Chris, ek dink nie dis ‘n vorm van volkstaat idee nie, dalk selfs nie eers ‘n soort universiteit waarheen volkstaters hulle kinders sal wil stuur nie, want daar sal geen plek vir rasse ideologie kan wees nie. Dis eerder ‘n idee wat heeltemal binne ons grondwet se letter en gees staan, en ‘n manier hoe ons die aansienlike vryhede wat ons het kan uitleef.
      Die grondwet verwag nie van ons om die huidige regime se Alles-Engels gesindheid te ondersteun nie, en ons kinders kan die beste leer in hul eie taal.

  5. Louwie sê:

    Vreemd, die meer gegoede Afrikaner stuur sy kinders na Engelse skole en universiteite toe om vir hulle `n beter toekoms te gee. Uit die laer uit beweeg en deel word van die Global Village lyk vir my na `n beter opsie as afsondering en weer laer trek?

    • alleman sê:

      Louwie, ek weet nie of dit waar is dat beduidende getalle gegoede Afrikaners hulle kinders na Engelse skole stuur nie – as dit so is, is dit vir my ‘n uiting van blanke denke: “Stuur jou kinders na ‘n Engelse skool, want hulle moet emigreer, want hierdie land gaan ten gronde”.
      Ons het nie hierdie aansitterige, tjankbalie soort blankes nodig nie, hoe gouer hulle kan vort hoe beter.

      Die voorgestelde universiteit is nie ‘n laertrek idee nie. Om deel te word van die Global Village, hoop ek die nuwe universiteit bied ook onder meer Portugees, Spaans, Frans, Zulu, Swahili en Mandaryn aan.

  6. Alleman, ek dink darem nie jy kan Afrikaners wat redeneer dat die land ten gronde gaan en daarom wil emigreer almal as tjankbalies tipeer wat liewers moet skoert nie. Daar is wesenlike vrae oor die toekoms van die land wat ‘n mens nie bloot kan wegwens nie.

    Ek gee toe dat baie Afrikaners wat emigreer rassiste is wat nooit erkenning sal gee vir enige goed in SA nie, net omdat swart mense in beheer is. Met hulle het ek nie simpatie nie. Ek het egter wel simpatie met ouers wat die beste toekoms vir hulle kinders wil hê en dink dat emigrasie ‘n antwoord vir die kinders behoort te wees. Wat gemaak as jy nie toelating of ‘n beurs kry vir ‘n rigting waarin jy graag wil studeer nie omdat jy wit is? Dan moet Australië of Engeland tog opsies wees?

    ‘n Verdere opmerking oor Afrikaners wat hul kinders na Engelse skole stuur. Ek dink nie almal doen dit om kinders voor te berei om te emigreer nie. Ek het vriende wat verkies om hul kinders in Engelse skole te sit. Persoonlik, sou ek kinders gehad het, sou ek dit ook ernstig oorweeg het, bloot omdat ek meen Engelse skole (veral privaatskole) rus kinders beter toe om akademies uit te staan en te integreer in ‘n toenemende diverse samelewing. Waar Afrikaners nog met issues sit oor godsdiens in skole, is evolusie waar of nie, en diversiteit as ‘n bedreiging ervaar, het van die Engelse privaatskole lankal aanbeweeg om te fokus op dit wat saakmaak – opvoeding wat kinders ‘n voorsprong gee.

    (Ek het so ‘n vermoede dat jy nie hiermee gaan saamstem nie, maar in elk geval, dit is my teorie, en sal dit graag aan kritiese evaluering onderwerp :))

    • alleman sê:

      George, ek het simpatie met mense wat emigreer (of tydelik buiteland toe gaan) omdat hulle ‘n traumatiese ervaring gehad het, of omdat hulle geleenthede misgun word.
      Maar daar is ‘n sekere soort wit meerderwaardige blanke wat agteruitgang in alles sien, selfs waar dit nie bestaan nie – dis hulle wat ek tjankbalies noem.
      En verder is daar ‘n toets na wat ‘n redelike reaksie op dinge is. Wat is ‘n redelike reaksie wanneer die staat van die land wat jy help bou het, gekaap word deur misdadiges? Is dit ‘n hartseer, bejammer-my houding wat alles wat jy sê en doen deurspek, of moet mens eerder woedend word, en dan met redelike mense van alle rasse en groepe saamsweer om daardie misdadige element se mag te breek (of ten minste te beperk). In daardie lig gesien, is sommige welgestelde blankes se reaksie op die NSA vir my tjankbalie-agtig, en ek skaar my dan eerder by die veglustiges.

      En wat Engelse privaatskole betref, Afrikaners verwag tradisioneel van die staat om goeie skole te voorsien. Mens kan nou praat van Afrikaner-bevoorregting deur die staat, maar goeie staatskole werk essensieel op die republikeinse beginsels van goeie burgerskap en gelykheid, waar die mynwerker en die minister se kinders langs mekaar op dieselfde skoolbanke kan sit. (Ons republikeinse ideaal is ongelukkig nie ook aan swart mense gegun nie).

      Privaatskole is weer tipies van ‘n ryk elite wat hul welvaart op ‘n onetiese manier bekom het, en van bo af sit en teer op die bevolking. Daarom gril ek vir die idee, en as die staat weier om goeie skole te verskaf dink ek die redelike eerste reaksie moet wees om harder daarvoor te stry. Maar as die staat aanhou weier moet mens ‘n eie plan maak, net soos wat mense mbt veilighed hul eie beskerming moet reel, so Afrikaanse privaatskole kan nie uitgeskakel word as ‘n opsie nie.

      Nogtans is daar nog steeds baie goeie Afrikaanse staatskole, so ek dink Afriforum is reg dat ons hulle moet ondersteun.

      Wat evolusie in skole betref, dis nou regtig nie so ‘n groot en belangrike kwessie nie. Mens kan maklik ‘n uitstekende opvoeding in ‘n Christelike Afrikaanse skool kry, en as jy op universiteit kom en biologiese wetenskappe bestudeer, kan daardie ou misverstandjie uit jou skooldae sommer gou reggestel word.

      “integreer in ‘n toenemende diverse samelewing” – dis iets wat ook in Afrikaanse skole gebeur, my suster vertel my hoe goed swart kinders in hulle Afrikaanse skool integreer, en verkies om in Afrikaans skool te gaan weens die goeie onderwys en dissipline. Daar is geen rede hoekom rasse integrasie Engels moet beteken nie.

      Laastens, dis duur om te emigreer, so dis heeltemal moontlik dat vir sommiges ten minste, dit goedkoper is om self die volle koste van jou studies te dra as om te emigreer.

  7. Louwie sê:

    “Daar is wesenlike vrae oor die toekoms van die land wat ‘n mens nie bloot kan wegwens nie.” Dit is so GM. Gaan lees Prince Mashele se skrywe oor die saak. Hy vat ons almal se bekommernis goed saam.
    Ek stem heeltemal met die res van jou kommentaar saam, behalwe dat ek verskil oor die “toenemend diverse samelewing” gedeelte. Miskien geld dit ons situasie waar dit dalk eerder gefragmenteerd is as divers. Met die stigting van die Europese Unie en die nuwe Asiatiese Unie met China aan die spits, beweeg ons juis na `n meer homogene samelewing. Om die ander ou se taal te leer is reeds die eerste stap na eendrag. (En as jy sy taal kan praat kan jy sy susuter maklik saam met jou in die kooi kry en dit verseker broederlike samehorigheid nog meer!)
    Alleman, Vryheid van keuse en van assosiasie bly `n demokratiese reg. Jou standpunt is dus net so geldig soos die van GM. (Behalwe dalk die een oor landverlaters. Dit is ook hulle reg en vrye keuse, ongeag die motief.)
    Ek dink ek en George kyk na die groter prentjie, baie ver die toekoms in. Toekomskundiges beweer dat die wêreld bevolking uiteindelik gekleurd sal wees, dat een of uiters twee tale sal oorheers en dat landgrense sal vervaag, selfs verdwyn.
    Miskien is ek en George net erg idealisties, droom ons van die onmoontlike …. vrede op aarde in ware broederskap.

  8. Alleman ek het myself nie goed uitgedruk mbt evolusie in skole nie. Dit is vir my simptomaties van ‘n onderliggende probleem wat ek nie dink jy net so maklik op universiteit oplos nie. Afrikaners word grootgemaak met ‘n geweldige respek vir gesag en dat mens nie te veel gesag moet uitdaag en ongemaklike vrae vra nie. My ervaring van Engelse privaatskole (ek is seker mens sal ook sulke Afrikaanse skole kry, maar hulle is in die minderheid) is dat kinders meer toegelaat word om vrae te vra, te eksperimenteer, blootgestel word aan idees ens. Myns insiens lei dit onder andere tot meer selfvertroue om jouself te handhaaf later in jou lewe en sekere besluite te neem.

    Louwie, met “toenemend diverse samelewing” het ek bedoel dat mense meer bewus word van diversiteit en dat mense anders is en nie soos jy hoef te wees (of te word) om aanvaarbaar te wees nie. Dit maak juis samewerking tussen verskillende volke moontlik. So ek dink ons sê in wese presies dieselfde.😉 Te midde van die eendrag is daar juis ruimte vir mense om hulle eie kultuur en taal uit te leef.

    • alleman sê:

      George, wat jy sê is iets wat waar was in die apartheidsera, maar of dit steeds waar is sal ek nie kan sê nie, vermoedelik is dit deesdae veel minder so.
      Maar ek voel dat ons is in elk geval so deel van die Engelse wereld, dat dit soos ‘n beklemming is wat ons beperk om van die res van die yslike wereld te leer, en op ander maniere as bloot die Engelse manier te dink en verstaan.
      Byvoorbeeld: ons kyk nie eens Wes na Brasilie nie, ‘n land wat baie ooreenkomste met SA het, maar wat tans uitstekend bestuur word onder ‘n linkse regering. Nee, ons kyk net Noord, na Brittanje, en volg alles na wat daarvandaan kom.
      Ten minste, as jy in Afrikaans skoolgaan, bestaan daar ‘n moontlikheid om te besef daar is ander maniere van dink en verstaan, en daarom dink ek Afrikaanse skole kan ‘n beter manier wees om vir jouself te leer dink (behalwe oor Biologie) as Engelse skole.

  9. Andrew sê:

    “Wat evolusie in skole betref, dis nou regtig nie so ‘n groot en belangrike kwessie nie.”

    Dan weet jy nie wat dit is nie. Wat beskou jy as belangrik,

    ” … en as jy op universiteit kom en biologiese wetenskappe bestudeer, kan daardie ou misverstandjie uit jou skooldae sommer gou reggestel word.”

    Nee dit kan nie. Kyk om jou, lees blogs en jy sal vinnig sien hoeveel mense evolusie verwerp en hoe groot die probleem is.

    Alleman, is jy seker jy is ‘n ateis en nie ‘n undercover kreasionis nie?

  10. Ek hou van die idee – sommer baie. Soos George dink ek wel een van die grootste uitdagings wat so iets in die gesig sal staar wees om stigmas af te werp.

    Dit sal uiters belangrik (en dalk baie moeilik) wees om dit as ‘n Afrikaans universiteit te kan bemark sonder om dit ‘n wit universiteit te noem.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s