Die Sommelier – GP Terblanche

Ek het hierdie boek vreeslik geniet.
Uit die aard van die saak moet ‘n goeie spioenasieverhaal heelwat storielyne hê wat ineenvleg, en heelwat karakters wat deelneem.  Veral in die eerste deel van die verhaal, moet alles bekend gestel word, soms met behulp van terugflitse, en dis net daar waar die leser vervreem kan word.   Want as dinge ingewikkeld raak, kan die leser voel “hoekom sal ek omgee om  uit te figure wie al hierdie mense is, en wat presies hier aangaan?”   Of dis hoe dit vir my is, in elk geval.  Die Sommelier val nie vas in hierdie slaggat nie, want van die begin af fassineer die boek op heelwat ander vlakke as  die intrige (“plot”) van die spioenasie.
Dit fassineer eerstens omdat mens van die begin af sterk kan identifiseer met die interessante hoofkarakter, Lev Engelbrecht, en mens hoop gou en baie intens dat dinge op ‘n manier goed sal uitwerk vir hom.  Die boek is, myns insiens, baie outobiografies.  Dit word natuurlik van die meeste debuutboeke gesȇ, maar in hierdie geval dink ek dis nie per ongeluk so nie, maar openlik so, en juis meer fassinerend om daardie rede.  Die skrywer is immers self ‘n wynmeester, en het ‘n agtergrond in intellensiewerk.
Die boek is ook baie sensueel; mens ervaar die wyne, vroulike skoonheid en natuur omtrent self.  Die wyne maak veral ook die boek interessant, ek sou sȇ die boek is die moeite werd hiervoor alleen, en ek het gevind dat ek, wat gewoonlik meer ‘n bierdrinker is, heelwat meer wyn begin drink het tydens en sedert die lees van die boek.   Die manier hoe die wyne ‘n rol speel in die boek, is glad nie in die trant van snobberige wynkultuur nie.  Tipies, soos met enige soort snobbery, gaan wynsnobbery oor die status wat wyn aan jou kan gee in die belaglike wie-het-die-meeste-status speletjie wat sommige mense speel in ons materialistiese kultuur.  Maar daar is niks van daardie soort twak in Die Sommelier nie, daar word bloot eerlik maar passievol geskryf oor wat in elke bottel of glas is, en hoe dit smaak.
Die aard of basiese motivering van elke karakter word goed beskryf, en daarom is dit eintlik ‘n baie menslike boek.  Slegs enkele karakters is so dat mens nou rerig nie van hulle kan hou op enige manier nie.  Maar nou ja, daar is sulke mense ook, en hulle veroorsaak die konflik in ‘n boek, en in die lewe.
Behalwe vir die hoofkarakter, het een ander persoon my veral opgeval, en dis die NIA agent Johan Oosterbroek.   Ek het baie van hom gehou, en dink nog steeds na oor die keuse wat hy teen die einde van die boek moes maak, en wat dit ook vir my en my manier van dink beteken.
Die boek is polities baie interessant, en daar word duidelik en oortuigend gewys hoe neokolonialisme en misdadigheid as gevolg van onbevoegdheid die land insypel (of dalk  instroom).  Maar hierdie tema word nie oordoen nie, en die boek is nie uit ‘n oogpunt van wit meerderwaardigheid geskryf nie.  Wat die spioenasietegnieke betref is die boek baie oortuigend, en ek was verbaas oor die dinge wat spioene alles doen.   Ek het ook lekker lag gekry oor die mooi glimlag wat Jane op een stadium gee vir ‘n NIA agent wat haar amateuragtig sit en dophou.
Die Sommelier is die lekkerste boek wat ek in jare gelees het.
Jy kan meer  lees by  Boerinballingskap se eie blog, by Leeskring en Litnet.
This entry was posted in boeke and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.

6 Responses to Die Sommelier – GP Terblanche

  1. Ek stem 100% met jou saam! Dit was ‘n BAIE lekker lees gewees vir my en ek kon dit nie neersit nie!

  2. Plaasjuppie sê:

    Sommelier lê hier op die “to read ” hoop. . . met omtrent 50 of 60 ander voor hom in die ry. Maar ek sal by hom uitkom . . .

  3. alleman, dankie vir hierdie inskrywing. Ek is regtig bly jy het dit so baie geniet. Jou kommentaar reflekteer die reaksie en ervaring wat ek graag by lesers wou ontlok. In jou geval blyk ek te geslaag het.

    Indien ek ooit in die toekoms erge afbrekende kritiek ontvang (ek glo daar sal enkele gevalle wees), sal ek maar net weer hier kom lees.🙂

    NS: Hou van hoe die blog nou lyk.

  4. Bertus! sê:

    Mag ek vra hoe jy jou eksemplaar bekom het. Ek het beleefde vertoe” aan Exclusive Books gerig dat hulle dit ook op hul rakke moet aanhou.

    • alleman sê:

      Ek was in Pretoria toe ek van die boek te hore gekom het, en het hom by Graffiti boeke by die Kolonnade-sentrum gaan koop. Dis ‘n baie oulike boekwinkel met sjarmante personeel, so dis die moeite werd om daarheen te ry.
      Of bestel hom oppie web.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s