SA se media het baie om te verduidelik

Wanneer mens veldtogte soos die Right2Know campaign steun, dan impliseer dit half die idee dat die media iets goeds doen: beginselvas weerstand bied teen selfsugtige politici. Die media, uit hierdie oogpunt gesien, en sonder twyfel in hul eie oë, is die goeie ouens.

Dis nie so eenvoudig nie.

Sonder om ‘n sentimeter toe te gee aan SA se gierige politici wat die media wil stil kry, en Steve Hofmeyr  wat die politici hierin steun vir sy eie selfsugtige en belaglike dom redes, wil ek sê dat SA  se media myns insiens regtig baie min het  om op trots te wees.

Begin by die Mail & Guardian.  Hierdie koerant (in sy vroeë vorm as die Weekly Mail) was betrokke by die anti-apartheid stryd, en ook by heelwat onthullings oor korrupsie onder die nuwe SA se politici.  Dis alles opsigself lofwaardig.   Maar  ek was geskok om te sien dat hulle nie dit die moeite werd geag het om oor die moord op Willemien Potgieter (3 jaar oud) en haar Pa en Ma, Attie en Wilna te berig nie.  In dieselfde tyd het hulle egter verskeie berigte oor Annelie Botes se rassistiese en oningeligte aanmerkings oor swartmense gehad.  Die ding met Annelie Botes se aanmerkings, is dat dit op ‘n baie swak begrip van die situasie in SA gebaseer is, (veral die historiese redes wat die huidige misdaadsituasie veroorsaak het), soos wat Andile Mngxitama duidelik uitwys (dit het ek by Kobus gesien).   Nietemin,  Annelie se aanmerkings is nie  kwaadwillig en met voorbedagte rade uitgedink nie – haar onbegrip is  dieselfde as miljoene wit Britte, Engelse, Amerikaners en Afrikaners se onbegrip van die geskiedenis van slawerny, uitbuiting en kolonialisasie.   Sy is eintlik uitgevang in ‘n oomblik van onbesonne, politiek inkorrekte eerlikheid deur die bedenklike Hanlie Retief.  Hanlie is iemand wat goed sal inpas by ‘n koerant soos die Britse The Sun, ‘n koerant wat  gewone mense wat nie ervaring van die media het nie, met lokvalle  viktimiseer, en gewetenlose ryk politici soos Tony Blair vereer en steun.

Kan dit nie erken word dat hierdie soort misdaad ‘n onoorkomelike struikelblok in die uitwissing van rassisme is nie?

Die geval van die moord op die hele Potgieter gesin is nie die enigste nie.  Sover ek kan agterkom, berig die Mail & Guardian glad nie oor spesifieke  plaasmoorde nie, behalwe oor hoe AfriForum daaroor protesteer.   Name, gesigte, en details oor wat die mense aangedoen is, word nooit genoem nie.    Dit stel die gemiddelde swart of buitelandse leser in staat om salig onder die indruk te verkeer dat die ANC regering baie goed vir boere is, en hulle selfs voortrek.   Die gemiddelde swart mens in SA, dink ek, is glad nie eers bewus dat daar daagliks aanvalle is, en dat ongeveer weekliks boeremense doodgemaak word nie.

Kan iemand my sê hoekom ek nie moet dink dat die Mail & Guardian se ignoreer van die moord  op die Potgieter gesin, tesame met hul fokus op die stomme Annelie, dui  op ‘n politieke agenda  nie?  Miskien ‘n agenda wat  die moeilike nasiebou tussen die  wit Engelsgesindes (wat die grootste geldmag in SA buite landbou is), en  die opkomende swart kapitaliste, probeer bewerkstellig  deur lekker  gemeenskaplike minagting te vind vir  Afrikaners, en waarvoor Annelie se clueless-heid (wat opgedress word as bose rassisme), handig te pas kom?

Is dit ‘n agenda waar die Afrikaner die sondebok moet aanhou wees vir alles wat verkeerd is in SA, waar ons steeds die rol van die ekstreme bogeyman moet bly speel – die slegte mense van SA wat maar gemoor kan word want hulle is mos so walglik rassisties?

Is dit miskien ‘n agenda wat verskeie  Britse regerings tot en met Margaret Thatcher  en die  Suid-Afrikaanse Engelse gemeenskap se rol in die totstandkoming en verdediging van Apartheid (en die kolonialisme voor dit) weg wil lieg?     ‘n Agenda waar ‘n Afrikaner slegs deur verengelsing aanvaarbaar kan wees vir die Saffer nasionalisme van vandag?  Want Afrikaans (en nie Engels nie), is volgens hierdie leuen die een en enigste taal van onderdrukking.

Kan ‘n Afrikaner slegs deur verengelsing  en deur  stil te bly oor kwessies soos plaasmoorde “bewys” hy is nie ‘n rassis nie?  Dit lyk of mens net ‘n Saffer  kan wees as jy  hoogheilig aan kan gaan oor Annelie Botes (soos Pierre de Vos en die  M&G joernaliste met Afrikaanse name) – is dit nou die enigste manier hoe ‘n Afrikaner guns kan vind by die nuwe magsorde, en by die nuwe nasionalisme?   Of is ek verkeerd?

En as ek sien hoe die  Mail & Guardian die Britse sokker amper godsdienstig  volg (meer as SA se eie sokker), hoe hulle veel meer oor Britse politiek as byvoorbeeld oor Brasilië,  Indië of Nigerië berig, terwyl laasgenoemde lande se politiek, geskiedenis, en die lesse wat daar geleer kan word, veel meer relevant tot SA is, dan kan ek nie help om soms aan die Mail & Guardian as ‘n Britse neokoloniale instrument te dink nie.   En die feit dat juis die Mail & Guardian die magselite se gunsteling koerant is, maak dat ek ook ‘n  vervreemding teenoor SA self voel.     Is dit  onredelik om sulke afleidings te maak?

My probleme met SA se media eindig ook nie by die Mail & Guardian nie.   Die Naspers koerante, en die Sunday Times het albei  al vir Dan Roodt gepubliseer – iemand wat ‘n ware kwaadstoker is.  Regtigwaar, ek dink enige redelike mens sal moet erken dat voor ‘n mens by die veroordeling van  Annelie se onkunde kan uitkom, jy eers moet tyd spandeer om te kyk na Dan Roodt se goed beplande stroom van berekende haatveldtogte.

Ondanks die feit dat Naspers Dan Roodt op die map gesit het, het (sommige) Naspers koerante die skynheiligheid om vir Annelie te veroordeel en af te dank.  Haar afdanking is nie ‘n slag geslaan vir anti-rassime nie, dis bloot skynheiligheid. Haar afdanking skrei alreeds ten hemele, maar dis skaars die begin van Naspers se probleme op die gebied van rassisme.  Vir dekades lank was Naspers se koerante die mondstuk van apartheid, en dis eintlik eers onlangs dat Naspers begin het om ook oor misdaad wat teen swart mense gepleeg word, te berig.   As Annelie net Naspers koerante gelees het, is dit geen wonder dat sy nie insig het in die feit dat erge misdade ook teen swart mense gepleeg word nie.   En dat sy nie insig in die historiese ongelykheid en onreg wat tot hierdie situasie aanlyding gegee het nie.   Ek dink Naspers moet ernstig besin oor hoekom hul lesers so min verstaan van wat in hul eie land aangaan.   Ons mense is soos Annelie – ons weet nie eers wat rassisme is nie.  Ons dink (soos Annelie) dis bloot, om nie bereid te wees om ‘n vurk met ‘n swart mens te deel nie.   Ons dink dat, sodra jy bereid is om ‘n vurk met ‘n swart mens te deel, is jy nie ‘n rassis nie.   Die kwessie van rassisme is eintlik veel meer ingewikkeld, en het niks met dinge soos  vurke uit te waai nie. Ook nie met seks, die ander groot kastige litmus toets van kastige nie-rassigheid nie.

Individue se wanbegrip moet miskien vir eers oorgesien word, terwyl ons begin vra hoekom ons kollektief glad nie eens kan verstaan wat rassisme is nie.   En terwyl ons vra hoekom Naspers se koerante die hele kwessie nooit werklik verduidelik het nie.

In die afwesigheid van ‘n volgehoue anti-rassisme veldtog deur al Naspers se  koerante, ‘n veldtog wat deurgaans en daagliks  rassisme beskryf soos dit is,  moet ons vir eers Andile Mngxitama se artikel gaan lees, en dit werklik probeer  verstaan.  Al is dit nie die volle prentjie van hoekom die misdaad so erg en so wreed is nie, is dit ‘n groot deel daarvan.

This entry was posted in afrika, afrikaners, politiek, rassisme, suid-afrika and tagged , , , , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to SA se media het baie om te verduidelik

  1. Son sê:

    My pa praat 3 swart tale, dus word hy redelik gerespekteer deur die swartes. Eendag het een vir hom gesê dat hulle meer respek het vir mense soos Eugene Terblanche, want ten minste weet hulle presies waar hulle met hom staan en maak hy nie vir hulle wit tande voor hulle en agter hul rug vloek hy hulle uit nie. Ek is geen voorstander van ET of rassisme nie, maar ek dink as ons as nasie eerliker met mekaar is, is dit al ‘n groot stap in die regte rigting. Ek is ook bang vir sommige swartmense, maar beslis nie vir almal nie. Maar soms kom mens in ‘n omgewing en jy weet – hier moet jy ligvoets en vinnig loop en uitkom. En soms is daar witmense wat my ook so laat voel – dit hang als af van die omstandighede waar en waarin jy verkeer.

  2. Hou baie van hierdie stuk. Dink jy het gelyk!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s