‘Alleman the infallible’

Toe my Ouma ‘n jong meisie was, het sy werk by ‘n poskantoor in Johannesburg gekry (in die 1920s). Sy was baie bly daaroor, want sy het arm grootgeword. Nietemin, sy moes gedurig aanmerkings van Engelse aanhoor oor haar bevoegdheid, haar Engels wat nie goed genoeg is nie, ensomeer. Sy was maar net ‘n poskantoorklerk, maar sommige Engelse van daardie tyd het Afrikaners selfs nie eers sulke lae poste gegun nie. Heelwat later moes hulle sulke onaangenaamhede soos Afrikaners in die poskantoor en staatsdiens leer aanvaar, want Afrikaners het die mag gehad.

Ek skryf daarvan, want witmense vandag se reaksie op swartes in enige pos behalwe handearbeider, is dikwels maar baie dieselfde. En ek wil nie graag soos die Engelse van my Ouma se tyd wees nie. Daarom het dit my sleg getref toe ek ‘Alleman the infallible’ genoem is deur Khosi – iemand wat soms by Constitutionally Speaking kommentaar lewer. Hy het ook gesê: “Of course, anything other that your side of the argument has to be the ‘wrong’ side.” Dit pla my. Ek wil nie ‘n ‘slim’ witte wees wat krities staan teenoor alles wat swart mense doen nie – selfs nie teenoor alles wat die ANC doen nie.

Klip/skêr/papier argumente
Constitutionally Speaking is ‘n baie interessante blog – beslis die moeite werd vir enige iemand wat SA probeer verstaan. Ek dink ek leer ook iets daar oor eerlikheid en argumente voer. Mense sien baie maklik deur oneerlikheid en verskuilde motiewe in ‘n argument. As jou argument soos ‘n spel van klip/skêr/papier is – wanneer jy iets probeer wat jy dink gaan werk met jou teenstander – is jy gewoonlik besig om jouself in die voet te skiet.
So begin Pierre de Vos soms (wel taamlik dikwels) ‘n artikel met ‘n kort inleiding waarin hy so ‘n bietjie Afrikaner-bashing doen. Hy wil gou eers sy eie credentials by swart mense opbou voor hy op sy eintlike teiken, die ANC elites losbars. Slegte skuif – niemand word juis daardeur beindruk nie, dink ek. (Maar andersins skryf hy baie interessant).

Of Khosi probeer pres Mbeki verdedig deur ‘n argument wat hy reken (vermoed ek) sal werk by blankes: ‘Imagine a scene where our serving police commissioner is hand-cuffed and marched to a police station. CNN, BBC, SKY etc. I am embarrassed just thinking of it’.  Ek weet nie of dit by ander witmense sal werk as ‘n verdediging van Mbeki se aksies rondom Selebi nie – vir my werk dit nie eers amper nie.

Mens moet eerder net reguit sê wat jy dink, en waarvoor jy hoop.

Mbeki die stryder

Maar Khosi het ander argumente ook – wat ek as eerlike argumente beskou, en dit kom daarop neer dat Mbeki ‘n goeie stryd stry. Hy kon nie net van Selebi ontslae raak toe die aantygings na vore begin kom nie – maar moes die regte prosedure volg. Wat regtelike prosedures betref is dit natuurlik nonsens, dit gaan eerder oor ANC prosedures, maar Khosi skets Mbeki as ‘n stryder wat baie beperk is in terme van wat hy kan doen weens sy magtige opponente binne die ANC.

En hierdie opponente (nie net Zuma nie) wil natuurlik ook van die Skerpioene ontslae raak. Enigeen kan sien dat daardie persone dit wil doen omdat hulle nie ondersoek wil word wanneer hulle staatsgeld plunder nie. Maar Khosi verwys na die persoonlike tol wat al hierdie gevegte op Mbeki neem, (Mbeki will ‘put his body in the firing line again’).

Almal weet van Mbeki se foute en tekortkominge – maar geen mens of leier het dit nie. En aangesien ek weet ook ek is nie ‘infallible’ nie, verwag ek dit ook nie van die president nie. Hy moet net die goeie stryd stry – ek hoop Khosi praat die waarheid dat hy dit doen. En ek wens dit was moontlik dat diegene in die ANC wat nie misdadigers is nie, nou hul eie pad kon begin loop.

This entry was posted in afrika, afrikaners, politiek, suid-afrika, witmense and tagged , , , . Bookmark the permalink.

6 Responses to ‘Alleman the infallible’

  1. Alleman, dit is nou ‘n lekker nugter stuk. Jy weet daardie ding wat mense doen wanneer hulle eers credentials opbou voordat hulle ‘n messteek gee is so waar. Dit is soos wanneer mense ‘n anti-gay stelling maak, maar éérs sê: “My beste maatjie is ook gay, jy weet. Hulle is van die wonderlikste mense.” En dan trek hulle los met die bashing.
    Jy praat verder van diegene wat niemisdadigers is nie, wat hulle eie pad moet loop. Ek wil daardie innerlike moraliteit sien opstaan soos ‘n leeu. Ek het gedink dit sou gebeur het met die reis-koeponskandaal, maar nee…
    Inderdaad, ons almal het ons foute, maar aarde, mens kan omdraai en probeer regmaak … ek dit net erken. Dan het jy my respek.

  2. alleman sê:

    Dis half ironies dat jy die gay-voorbeeld noem, want prof De Vos is openlik gay. En ek wil hom nie van dieselfde soort kleinlikheid beskuldig wat jy beskyf nie. Die soort stekies wat hy inkry teen Afrikaners is dikwels nie onverdiend nie – dis net die konteks waarin hy dit gebruik wat bevraagteken kan word. Want sy artikel is eintlik krities teenoor die ANC elites. En hierdie kritiek is na my menig gewoonlik grondig, geregverdig en baie goed gestel.

  3. Ja die gay-opmerking is op ander mense van toepassing. Ek stem saam oor die elites, veral die wat so gereis het in die koeponskandaal en steeds sit en vet lepels sous skep. Dit pla my dat dit hulle nie pla nie.

  4. Mhambi sê:

    Hey Alleman, ek dink ons moet ‘n kampanje begin dat alle Afrikaanse bloggers hulle ten sterkete uitspreek teen die gebeure in Bloem.

    En ook dat ons vir Afriforum email om ‘n simboliese gebaar te maak. Hierdie tiepe optrede kan ons nie langer duld nie. Hulle sleep ons naam deur die modder.
    http://mhambi.blogspot.com/2008/02/reitz-students-gedra-hulle-soos-varke.html

  5. alleman sê:

    Ek stem – ek haat wat hulle gedoen het.

  6. Terug pieng: Rassisme by die UOVS « alleman

Lewer kommentaar op rosalindfranklin Kanselleer antwoord