AfrikaansKaping – oftewel hoekom Afrikaners Trump aanhang

Onder ons is daar ‘n verdeeldheid – daar is die tradisionaliste wat kwaad is oor ‘n lys van dinge soos wetenskap, universele mediese sorg en BLM.  En daar is die “ander” wat nie regtig ‘n groep is nie, want “ons” bestaan uit baie groepe met verskillende sienings.  Maar kom ons maak of ons ‘n groep is, en ons vat die name wat die tradisionaliste ons noem: “snowflakes” en “libtards”. Ons snowflake-libtards se groot ding, volgens die tradisionaliste, is “virtue signalling”, en ons maak die tradisionaliste omtrent kwater as enige iets. 

En hoekom maak ons hulle so kwaad?   Die tradisionaliste het morele waardes, veral oor goed soos gesinne en die huwelik. Hoewel die meeste van ons  snowflake-libtards (byvoorbeeld ek) met daardie waardes saamstem, is die probleem met ons dat ons  neig om ook morele idees oor ander dinge te kry wat nie deur tradisionele leiers soos dominees en Afriforum aan ons aangedui word nie, byvoorbeeld: 

  • Die idee dat die kwessie van aardverwarming morele verpligtinge vir ons impliseer byvoorbeeld om vir partye te stem wat besoedeling wil beperk met nuwe  regeringsinisiatiewe 
  • Die idee dat die onregte van kolonialisme, apartheid en rassisme ook morele implikasies vir ons het, byvoorbeeld dat ons ‘n sterk staat moet probeer kry wat die benadeeldes kan ophef, presies soos wat ons as Afrikaners deur die staat opgehef is. 
  • Die idee dat ons ‘n morele plig het om ander mense, veral ou mense, te help beskerm teen Covid-19 deur die regering se inperkings en maatreëls te ondersteun selfs al is daar ware manne wat so ‘n ou siektekie soos daai lag-lag kan oorleef.  

Ons snowflake-libtards verkies om te dink ons kry hierdie idees uit kennis byvoorbeeld uit wetenskap en geskiedenis, maar ek neem aan dat die tradisionaliste sal kan uitwys dat ons aanhang van hierdie dissiplines eintlik niks meer as “virtue signalling” is nie, en dat ons in werklikheid nie regtig omgee hoe warm, besoedeld  of ongelyk die wêreld gaan wees wanneer ons kinders groot is nie, en dat ons dit alles doen net vir die likes op social media. 

   Behalwe dat ons snowflake-libtards hierdie irriterende morele visies kry soos hierbo aangedui, is daar sommige van ons wat ook ander vieslikhede pleeg, byvoorbeeld om heeltemal die kerk se gesag te verontagsaam deur ateïste te word.   Sommige van ons dink selfs sekulêre skole soos wat in Europa en Australië voorkom, is goed en nodig vir Suid-Afrika. 

Ons snowflake-libtards moet erken dat ons die tradisionaliste se wereldbeskouing en gemoedsrus so erg bedreig het, dat hulle, selfs in Suid-Afrika, agter Donald Trump saamgetrek het.  Hy was daartoe in staat om aan die tradisionaliste emosionele verligting van ons invloed te gee deur maatreëls soos hierdie:  

  • Die verwydering van honderde onwettige immigrante se kinders van hulle ouers 
  • Die verwydering van wette en regulasies wat die omgewing beskerm  
  • Die aflag van wetenskaplike raad, byvoorbeeld oor Covid-19 
  • Die aflag van almal wat morele visies kry oor hoe Amerika moet optree teen diktators 
  • Opsweping van ondersteuners om mense by die Congress gebou aan te val 
  • Die aanhitsing van aanvalle deur sy ondersteuners op snowflakes  byvoorbeeld vir die moord op Heather Heyer 

Selfs al hierdie maatreëls het die tradisionaliste se woede nog steeds nie besweer nie.   En dis omdat hulle  woede ‘n baie groot woede is wat al ‘n lang pad kom.     In die Amerikaanse burgeroorlog het die snowflake-libtards van daardie tyd die tradisionaliste se slawe weggevat.   Dit was “diefstal” en “kommunisme”, en dis daarom (dink ek) dat  tradisionaliste in Suid-Afrika soos Afriforum en Maroela Media  Amerika se  tradisionaliste en Confederates so moet ondersteun.    

En wat gaan volgende gebeur tussen ons Afrikaanse snowflake-libtards en die tradisionaliste?  Ons weet hulle is “sterk” en georganiseerd, terwyl ons  nie georganiseerd is nie, maar dalk veel meer is as wat hulle dink.  Aangesien ons invloed en opinies so irriteer, kan ons net toekyk hoe onverkose tradisionele leiers soos oud-KP Kallie Kriel, Flip Buys, Ernst Roets,  Jaco Kleynhans, Dirk Hermann, Reint Dykema en Steve Hofmeyr ons mense lei in die rigting van iets soos  ‘n volgende Bophuthatswana aanval terwyl ons al hoe verder wegdryf van ons eie families af wat deur hulle geKAAP is, om hul eie  Confederate-agtige terugvegpoging teen die Republiek van Suid-Afrika te ondersteun.

Posted in suid-afrika | Tagged , , , , , , , , , , , , , , , , | Lewer kommentaar

Werklik opgevoed

“What’s the point in going to school if no-one listens to the educated?”

opgevoedSkoolstaking vir aksie oor klimaatsverandering

Posted in kinders, omgewing, suid-afrika | Tagged | 5 Kommentaar

Onderdaan van die dag: Tristan Gouws

Gouws het ‘n klag by persombudman gemaak omdat die Daily Dispatch nie deurgaans na Afriforum se nuwe beste maatjie, Zwelithini as “koning” verwys het nie.

Om ‘n koning te hê, is nie Zulu kultuur nie, dis ‘n probleem wat Zulus het in die Republiek van Suid-Afrika, en die manier hoe tradisionele “leiers” soos Zwelithini hulle onderdane onderdruk deur hulle van grondregte te ontneem is ‘n groot probleem.

Verder is dit bekend dat Zwelithini ‘n xenofobiese haataanblaser is.   Niemand is enige respek aan hom verskuldig nie, en dis nie disrespek teenoor Zulus om dit te  sê nie.

***

Die Dispatch het nie eers disrespek teenoor Zwelithini bedoel nie, maar om ons reg tot vryheid van spraak te vier wys ek  nog ‘n bietjie disrespek teenoor koninklikes, (deur Steve Bell):

charles1charles2charles3charles4

Posted in suid-afrika | Tagged , , | Lewer kommentaar

Christen van die dag: Scott Morrison

‘n Heilige Christen, Scott Morrison, is Australië se nuwe eerste minister.   Luister gerus hier (of hier) vir Dr Neela Janakiramanan van hoe Morrison vlugtelinge se kinders laat ly op Nauru.  En van hoe Morrison dokters se pleidooie ignoreer om daardie kinders se lyding stop te sit – iets wat hy baie maklik kan doen.

Natuurlik gaan Australië se Christene saam met dit.   Soos SA se Christene gedoen het  met apartheid.  Soos Christene gedoen het met slawerny, en kolonialisme.  Soos hulle ook saamgaan met Trump.  Soos hulle saamgaan met die misbruik van kinders in die Roomse kerk.

Die lys gaan aan.

 

Posted in suid-afrika | Tagged , , , , , | 1 Kommentaar

Sekulêre skole is beter vir almal

Deur ‘n naam soos OGOD te kies, wil Hans Pietersen se organisasie hul opponente verneder, omdat die ydelike gebruik van God se naam aanstootlik vir gelowiges is.  Ek wens Suid-Afrikaners wil ‘n meer verdraagsame styl van politieke bedinging gebruik.

Maar SA het nodig dat staatskole sekulêr moet wees, omdat

  1.  Anders as Christene van vorige dekades, is Christene vandag grootliks fanaties anti-wetenskap, en dis nodig om by die skool, ten minste, te hoor wat die wetenskap sê, omdat ons kinders se toekoms juis daarvan afhang.
  2. Sekulêre skole kan ons kinders voorberei vir die wêreld van werk wat alreeds sekulêr is, en waar hulle in elk geval met mense van ander gelowe, sowel as ateïste gaan moet saamwerk.

Oordentlikheid en medemenslikheid teenoor alle mense is iets waarmee kinders uit Christelike skole dikwels ‘n probleem het – waar dit die geval is, reageer hulle met suspisie, vrees of haat teenoor diegene wat uit ‘n ander agtergrond kom.

‘n Voorbeeld hiervan is die geval van Roedolf Viviers en Zayn van Tonder wat  ‘n Moslem,  Mohammed Fayaaz Kazi by ‘n Chiken Licken gespot het oor sy baard.   Natuurlik het ‘n argument ontstaan, en toe ‘n geveg.  Kazi is dood, en Viviers is, sover ek weet, steeds in die tronk.    Ek is 100% seker dat Viviers, ‘n baie sterk man, nie daardie dag beplan het om enigeen te vermoor nie.    Tog is hy en sy vriend die produk van ‘n sekere lewensuitkyk wat nie die “ander” kan verstaan of verdra nie – en as hy nie met daardie  lewensuitkyk opgesaal was by ‘n Christelike skool nie, sou daardie tragedie nooit gebeur het nie.   En hierdie lewensuitkyk is wat Afriforum en andere so hard veg om te behou.

 

Posted in suid-afrika | Tagged , , , , | Lewer kommentaar

Hoe het Christene so anti-wetenskap geword?

Mense soos Richard Dawkins maak ‘n voorstelling van Christene as inherent dom en anti-wetenskap, maar dit was Christen – regse presidente Ronald Reagan en George Bush (die eerste president Bush) wat die probleem van klimaatsverandering na die politieke arena geneem het, en begin onderhandel het daaroor met ander regerings.

Christene het tradisioneel geglo dat die mens ‘n opdrag het om verantwoordelikheid vir die aarde te neem.   Lees byvoorbeeld hierdie – waar  Gavin Ortlund verskeie dele van die Bybel aandui wat op die mens se verantwoordelikhede dui.  Sien ook hierdie – oor Christene se voogdyskap oor die aarde.

Christene was tradisioneel ook nie skaam om die vrugte van die wetenskap – mediese wetenskap en tegnologie -te gebruik nie.

Maar Christene is vandag grootliks anti-wetenskap – sak en pak saam met Trump en sy vernietiging van alle beskerming van natuur en die omgewing.  Byvoorbeeld:

Mense skryf graag oor hoe “Islamic State” oftewel ISIS ‘n “death cult” is – en hulle is ook.  Maar Christene vandag is eweneens ‘n death cult, hoewel hulle het geen besef het van hoeveel gevaar hulle vir die wêreld inhou nie.

Christene moet hulself afvra wanneer en hoekom hulle ophou dink het – ek dink die antwoord is iewers tussen Trump-Putin, Facebook en die American Evangelicals wat via die Internet die res van die Christendom se denke begin oorheers het.

Posted in suid-afrika | Tagged , , , , , , , , | 1 Kommentaar

Christene en ateïste het belangriker dinge om oor te praat as geloof

(Oftewel, hoe om ateïsme minder aaklig te maak!)

Christene is moeg vir die intellektueel meerderwaardige manier waarop probeer word om alles wat verkeerd is op godsdiens te blameer.   Hierdie styl van debat  is begin deur Anglo-ateïste¹ soos Richard Dawkins en Sam Harris.   Lees gerus vir Allegra Ringo om te sien wat se soort persoon Dawkins eintlik is (rassisties, seksisties en meer).   Ook  Sam Harris is ‘n rassis – sien How to Make Atheism Less Awful in 2014 deur Martin Robbins.

Die dieper rassistiese agenda van die Anglo-ateïste  is om te probeer verdoesel dat sommige van die heel grootse probleme eintlik deur (veral Britse) kolonialisme, en Anglo-Amerikaanse neokolonialisme veroorsaak is.  “Islamitiese – terrorisme” veral word op die Islamitiese godsdiens geblameer, maar die Midde-Ooste en die Moslem wêreld  is so erg deur Brittanje, die VSA en Rusland gedestabiliseer dat, as daardie lande ateïsties was,  dit heel waarskynlik steeds tot terrorisme sou gelei het.   Dit sou net nie “Islamitiese – terrorisme” gewees het nie.

Hierdie Anglo-ateïsme  is relatief nuut, en het ongelukkig ook in Suid-Afrika onder Afrikaner ateïste ‘n aanhang gevind –  met onaangename debatstyl en al.

Maar hulle verteenwoordig nie die stil meerderheid van ateïste nie.   Die van ons wat nie daarop uit is om kolonialisme te regverdig en verheerlik nie, kan insien dat daar twee yslike groot kwessies is waaroor ons dringend met almal wat omgee oor ons mensdom moet praat.   Ons gee nie om wat jy glo na jou dood met jou gaan gebeur, of wat jy op Sondae doen nie, maar ons moet gemeenskaplike grond vind oor aardverwarming en rassisme.

Aardverwarming

Die mens se afhanklikheid van steenkool en olie is besig om ons en ons kinders se toekoms te bedreig.  Alle wetenskaplikes behalwe enkeles wat deur oliemaatskappye omgekoop word, sê dit hard en duidelik.  Daar is nie ‘n debat daaroor onder wetenskaplikes nie, dit is ‘n aanvaarde feit.  Christene glo dat daar ‘n wederkoms gaan wees, en daarom reken sommige dat hulle nie hoef te worry dat ons die aarde verwoes nie, maar gelukkig vir die res van ons het gelowiges ook ‘n lering dat hulle ‘n opdrag het  om te sorg vir die aarde, en dit is in almal se belang dat Christene hulle siening dat hulle ‘n voogdyskap oor die aarde het, ernstig begin opneem.

Rassisme

Ongelukkig is rassisme so inherent in hoe die Westerse beskawing met kolonialisme sy voordeel bo die res gekry het, dat die meeste Westerlinge nie die omvang van die probleem insien nie, en dink rassisme is bloot as jy iets leliks van ‘n nie-wit persoon sê.   Maar die ongeërgde en gevoellose manier waarmee  Westerse lande en Rusland gedurig bomme laat reën op lande waar die mense nie soos hulle lyk nie, is ook rassisme.   En daarom is terrorisme ook ‘n gevolg van rassisme.  Rassisme is saam met aardverwarming die wêreld se grootse probleem, maar Christene het ook die liefdesgebod wat hulle moet nakom, en dis in almal se belang dat hulle hierdie opdrag begin nakom deur die probleem van rassisme en die aaklige  gevolge van kolonialisme ernstig aan te spreek.

PS:

  1. Mense van Anglo-Saxon agtergrond praat nie van Anglo-ateïsme nie, omdat hulle nie self insien hoe Anglo dit is nie.  Hulle noem dit “New Atheism.”
  2. Lees gerus hier oor hoe moeg Christene is vir die Anglo-ateïste se aanvalle op hulle.
Posted in suid-afrika | Tagged , , , , , , , , , , , | 17 Kommentaar

Lord Coe, die walgworsie

Lord Sebastian Coe hou aan om Caster Semenya  ‘n  “‘n dogter, ‘n suster” te noem, maar hy wil haar dwing om haar liggaam se natuurlike werking met medikasie te verander as sy wil deelneem aan atletiek.

As jy dink hy het ‘n punt beet, lees gerus:

Lord Coe kan nie sy vyandigheid agter woorde soos “daughter” and “sister” wegsteek nie.

Lord

Posted in suid-afrika | Tagged , , , , , , | Lewer kommentaar

Hoekom die ANC nie links is nie

Ek het hierdie geskryf na aanlyding van Flip Buys se wanvoorstelling dat die ANC links is (en linkses dus soos die ANC is)

Die ANC is ‘n komplekse organisasie, wat beslis ook ‘n krimpende aantal linkses insluit, maar dit is duidelik dat regses – Zulu nasionaliste, Afrika nasionaliste en tradisionaliste, asook comprador kapitaliste die botoon voer.

Die ANC se tradisionalisme

Die toename in ongelykheid in SA sedert 1994 pla die ANC blykbaar nie want die party tree hoofsaaklik op in belang van ‘n swart middelklas en tradisionele leiers, en baie van wat hulle doen dui op ‘n minagting van arm mense.

Voorbeelde:

  • Die voortgesette onderwerping van landelike swart mense aan tradisionele leiers.  Sien hier en hier

  • Die steun van monargiee soos Swaziland se koning Mswati wat selfs geldelike steun van SA kry.  Ware linkses is republikeine, en keur nie Mswati se verdrukking van sy land se mense goed nie.   As die ANC links was, het hulle gehelp om Swaziland te bevry soos wat linkses van baie lande gehelp het om swart mense in SA te bevry.

  • Die steun aan koning Goodwill Zwelithini is veral ‘n bewys van hoe regs die ANC onder Zuma geword het.   Nadat Zwelithini in April Xenofobiese aanvalle op swart buitelanders aangehits het, het die ANC regering hom nie gestraf of selfs gerepudieer nie, maar hom beloon deur met Operation Fiela kwaai op immigrante toe te slaan, asook met ‘n yslike geldelike verhoging aan hom en ander tradisionele leiers.   Hierdie verhoging dui ook op ‘n intensie om  tradisionele leiers te beloon en hul mag te vergroot.  Volgens minister Gugile Nkwinti is tradisionele leiers ook “verhewe bo politieke gesag”

  • Die weiering om swart skole in arm gebiede te verbeter – hierdie is ‘n tegniek om arm mense onder te hou.

Die ANC se wals met neo-kolonialisme

In hierdie opsig is die ANC regs deur dikwels op te tree as comprador kapitaliste, byvoorbeeld:

  • Die skiet van Suid-Afrikaanse mynwerkers namens Lonmin, ‘n Britse maatskappy by Marikana
  • Die wapentransaksie met ‘n konsortium onder leiding van BAE Systems
  • Die toeken van kontrakte aan Britse maatskappye soos G4S om staatswerk te doen
  • Die verengelsing van Suid-Afrika
  • Steun in die VN veiligheidsraad vir die 2011 Anglo Amerikaanse aanval op Libië wat die land erg gedestabiliseer het.

 

Posted in suid-afrika | Tagged , , , , , , , , , , , , , | 2 Kommentaar

Bang oumense misgun hulle kinders vryheid van Empire

Ek kan skaars inhou hoe teleurgesteld ek is oor die Skotse nee stem. Die jongmense wil nie meer deel wees van die oorloë en onreg wat in Whitehall uitgedink word nie, en ook nie die hele korrupte Westminster stelsel nie. Maar die oumensies is bang. Bang oor wie hulle gaan beskerm as die Empire wat soveel mag in die wêreld uitgeoefen het, nie meer daar is om te dien nie.

Hulle is bang vir hulle eie vryheid!

Nou wil ek (wat al gevaarlik naby 50 is), ‘n paar dinge oor oumense sê:

  • Oumense is nie vanself wys nie – net wyse jongmense word wyse oumense.
  • Mens neig om al meer vreesagtig en gekant teen verandering te word namate jy ouer word.  Maar lewe is verandering. Ek hoop dit gebeur nooit met my om so vreesagtig en konserwatief te word dat ek nee stem vir my kinders se vryheid nie – dan eerder meer pyne en swak gesondheid of die dood.

Maar wag tot die bang oumensies wat so verknog aan Britse empire is, uitgesterf het – so oor 10 of 20 jaar. Dan  hoop ek sal die jongmense ‘n Skotse republiek begin wat die wêreld inspireer.

Posted in suid-afrika | Tagged , , , , | 8 Kommentaar